BMW SA het begin van 2018 sy produksie van die 3-reeks sedan by sy aanleg in Rosslyn Noord van Pretoria gestaak, sodat die nuwe X3-reeks eerder hier ter plaatse vervaardig word.

BMW SA het  besluit het om die 3-reeks voortaan eerder net in te voer.

Die eerste X3 het sopas in begin April 2018 van die produksielyn in Rosslyn afgekom.

Die BMW-groep  het drie jaar gelede ‘n belegging van R 6 miljard aangekondig ter voorbereiding van die vervaardiging van die X3 by Rosslyn.  Die vervaardiging van die eerste X3 is die eindresultaat van hierdie belegging.

Die groep het besluit om die X3 hier te vervaardig omdat die vraag na BMW se X-modelle met byna 30% toegeneem het nadat die eerste X5 in 2001 bekendgestel is.  Daarby oorskry die vraag na die X3   produksie by die Spartanburg-aanleg in die Amerikaanse staat Suid-Carolina  en dit het die maatskappy laat besluit om hierdie reeks ook in Suid-Afrika te vervaardig. Boonop verseker dit werksgeleenthede vir duisende mense.

Die aanleg by Rosslyn was BMW se eerste een buite Duitsland; die 5-reeks, wat in 1974 in Suid-Afrika bekendgestel is, was die eerste reeks wat in dié aanleg vervaardig is. Die 3-reeks is van 1983 tot vroeër vanjaar daar  vervaardig en het ‘n topverkoper geword.  Volgens Tim Abbott, die uitvoerende hoof van die BMW-groep vir Suid-Afrika en Afrika suid van die Sahara, is die suksesvolle produksie van die X3 ‘n mosie van vertroue in Suid-Afrika en in die groep se vennote.  Volgens hom is die aanvraag na die X3 wêreldwyd baie groot en dit was belangrik dat die modelreeks volgens hoë gehaltestandaarde vervaardig word.

Sedert die bekendstelling van die eerste X3 in 2003 is meer as 1,5 miljoen eenhede tot dusver wêreldwyd geregistreer.  Die nuwe reeks is die derde geslag, en BMW hoop dat dié nuwe reeks, wat teen die einde van verlede jaar bekendgestel is, nog meer byval sal vind.  Soos al die ander X-modelle bied die X3 uitstaande hantering op alle terreine tesame met alledaagse veelsydigheid.

Die groep se belegging in Suid-Afrika het geskied ingevolge die Motorproduksie- en ontwikkelingsplan (Automotive Productiion and Development Plan) wat in 2020 verstryk.  Die onderhandelings oor ‘n plaasvervanger hiervoor is tans aan die gang en het reeds vrugte afgewerp.  Dit is van kritieke belang vir die langtermynvooruitsigte en standvastigheid  van die motorbedryf, asook BMW se verbintenis tot Suid-Afrika. Die groep is ook trots op sy vordering wat die vervaardiging van onderdele en komponente betref; daar word soveel as moontlik vwervaardig en dit beteken dat die X3 die hoogste plaaslike inhoud van enige BMW-model tot dusver hier vervaardig het.

 

Deur Daantjie Badenhorst.

 

 

%d bloggers like this: