
Die COVID 19-pandemie het ‘n groot uitwerking op die internasionale motorbedryf gehad, en sommige nuwe modelle wat vir 2020 beplan was, is nog steeds nie bekendgestel nie. Daar was egter een of twee verrassings waarvan die media en die publiek eers bewus geword het, kort voordat hul bekendstellings plaasgevind het.
Dit lyk egter asof 2021 ‘n besige jaar vir die meeste motorvervaardigers sal wees. Hier bespreek Daantjie Badenhorst die nuwe modelle vir 2021, wat reeds deur die vervaardigers bevestig is. Die lys nuwelinge wat verwag word, word in alfabetiese volgorde volgens fabrikaat gegee:
ALFA ROMEO
Giulia GTA
Giulia en Stevio
Klein sportnutsvoertuig?
Alfa Romeo se twee Formule 1-renjaers, Kimi Raikkönen en Antonio Giovinazzi, is tans besig om die verrigtingsmodel in die Giulia-reeks, die GTA, te toets, en miskien sal hierdie model aanstaande jaar op die mark kom. Intussen word daar ook bespiegel dat die Giulia en Stelvio detail-veranderinge sal ondergaan. Daar is ook sprake van ‘n kleiner sportnutsvoertuig, maar meer besonderhede is nog nie bekendgemaak nie.
AUDI
e Tron
Q5 Sportback
A3
Q 2
Die bekendstelling van die Audi e Tron is uitgestel, maar dit behoort in 2021 plaas te vind. Die oorsee se reeks sal uitgebrei word, maar dis te vroeg om te sê watter, indien enige, van hierdie modelle in 2021 na Suid-Afrika sal kom. Die nuwe A3-reeks sal wel hier gedurende die jaar hier beskikbaar wees, en sal die keuse van ‘n Sportback en ‘n sedan bied. Die Sportback-reeks sal ook aangevul word met die toevoeging van die Q5 Sportback. Laastens sal die Q2-reeks na verwagting opgeknap word.
BMW
4-reeks afslaankap
4-reeks Gran Coupé
IX 3
M3/ M4
Die BMW 4-reeks sal uitgebrei word wanneer die M4 en die afslaankap bygevoeg word, maar daar is nog niks van die Gran Coupé gesê nie. Die nuwe M3 sal ook in 2021 op die mark kom, en die elektriese weergawe van dieX3, bekend as die iX 3, sal na verwagting ook bekendgestel word. Die i8 sal aan die mark onttrek word.
CITROëN
DS-reeks
Dié Franse vervaardiger se reeks is nog relatief jonk, maar die luukse modelle, wat die DS-kenteken sal dra, word in 2021 verwag. Die DS-modelle sal egter nie as Citroëns bekendstaan nie, want DS word ‘n afsonderlike fabrikaat; amper soos Toyota en Lexus.
DATSUN
Cross
Gerugte doen die ronde dat Nissan die Datsun-handelsmerk aan die mark wil onttrek, maar daar is ook diegene wat bespiegel dat die reeks uitgebrei sal word. Die Cross, die nuwe model wat na verwagting op die mark sal kom, is gebaseer op die Go+.
FIAT
Tipo
500
Die Fiat Tipo gaan ‘n paar veranderinge ondergaan, en die Fiat-kenteken sal onder meer hersien word. Die nuwe 500e behoort ook bekendgestel te word, maar aangesien dit ‘n ten volle elektriese motor sal wees, kan die beperkte infrastruktuur in Suid-Afrika vir kraglaaipunte vir elektriese motors ‘n probleem wees.
FORD
Eco Sport Active
Puma/Kuga
Mustang Mach 1
Ford sal veral aandag aan sy reeks sportnutsvoertuie gee, en die een nuwe model wat reeds vir Suid-Afrika bevestig is, is die Eco Sport Active, wat onder meer ‘n hoër grind-vryhoogte as die gewone model sal bied. Die Kuga se toekoms is egter onseker, want een van twee modelle kan in 2021 na Suid-Afrika kom. Daar is ‘n nuwe Kuga oorsee beskikbaar, maar Ford kan besluit om eerder die Puma na Suid-Afrika te bring. Die Mustang Mach 1 is in regterhandstuur beskikbaar, en ‘n paar van hulle behoort na Suid-Afrika te kom.
GWM
P-reeks
Great Wall Motors (GWM) staan reg om die groot kanonne in die bakkie-mark aan te durf; die P-reeks is reeds bekendgestel, maar die handelaars se voorraad sal eers aan die begin van 2021 beskikbaar wees. Ons wag egter nog vir meer inligting oor die samestelling van die reeks, asook die pryse.
HAVAL
B06
H6
H9
Dit lyk asof Haval groot planne vir die toekoms het, en minstens twee nuwe modelle sal in 2021 hier op die mark kom. Die B 06, ook bekend as Big Dog, is ‘n nuwe sportnutsvoertuig met sewe sitplekke en ‘n hoekige voorkoms. Die nuwe H6 sal ook bekendgestel word, maar dit is onseker of dit ‘n opgeknapte weergawe van die huidige een of ‘n splinternuwe model is. Die H6C word nie hierdeur geraak nie. Die H9 sal ook na verwagting ‘n paar veranderinge ondergaan.
Honda
WR-V
CR-V
Honda was die afgelope tyd maar stil, en net die nuwe Ballade het die laaste tyd op die mark gekom. Dié Japanse vervaardiger staan egter gereed om die WR-V, op die onderstel van die Jazz, bekend te stel, hoewel daar nog geen nuus oor die nuwe Jazz is nie. Die CR-V gaan ook ‘n paar veranderinge ondergaan.
HYUNDAI
i20
Tucson
Creta
I 30 N
Hyundai het net een nuwe model in 2020 bekendgestel, naamlik die nuwe Grand i10, maar 2021 gaan ‘n baie besige jaar wees. Drie modelle, die i20, die Tucson en die Creta sal vervang word, en ‘n opgeknapte weergawe van die i30 N word ook verwag.
ISUZU
D-Max
Slegte nuus vir Isuzu-aanhangers is dat die bekendstelling van die nuwe D-Max tot 2022 uitgestel is. Die nuwe mu-X, wat pas oorsee gewys is, behoort kort daarna ook in Suid-Afrika beskikbaar te wees.
JAGUAR
XE/XF
E-Pace
F-Pace
Jaguar gaan ‘n besige jaar hê, met minstens vier modelreekse wat veranderinge sal ondergaan. Die E-Pace gaan op ‘n nuwe onderstel gebou word, maar die veranderinge van die ander drie reeks, naamlik die XE, XF en F-Pace, sal nie so groot wees nie.
JEEP
Gladiator
Grand Wagoneer
Twee legendariese modelname van dié Amerikaanse vervaardiger sal herleef wanneer die Gladiator-bakkie en die Grand Wagoneer, die vlagskip-sportnutsvoertuig met sewe sitplekke, in Suid-Afrika op die mark kom.
KIA
Picanto
Sorento
Die gewilde Kia Picanto sal ingrypend opgeknap word, maar dit is te vroeg om te sê watter nuwe kenmerke vir die Suid-Afrikaanse reeks beskikbaar sal wees. Al wat ons tot dusver gehoor het, is dat die outomatiese ratkas met ‘n AMT-ratkas vervang sal word. Die nuwe Sorento, wat pas oorsee bekendgestel is, sal ook na Suid-Afrika kom.
LAND ROVER
Range Rover Velar/Sport
Die nuwe Land Rover Defender-reeks is pas uitgebrei met die toevoeging van die 90, en die belangrikste nuwelinge van dié Britse vervaardiger se kant af, is opgeknapte weergawes van die Range Rover Velar en Sport.
LEXUS
IS
Die Lexus IS is pas oorsee bekendgestel, en is reeds vir regterhand-stuurmarkte beskikbaar. Dit beteken dat Suid-Afrika nie lank hoef te wag nie..
MAHINDRA
Thar
XUV 500
Die nuwe Mahindra Thar is onlangs oorsee bekendgestel en die oorsese reeks is beskibaar met vier deure. Dit is egter nog nie seker hoe die Suid-Afrikaanse reeks sal lyk nie. Daar is ook sprake van ‘n nuwe XUV 500, en die moontlikheid bestaan dat ‘n koepee-weergawe hierdie keer deel van die reeks sal wees.
MAZDA
CX -30
BT 50
Mazda se sportnutsvoertuig-reeks sal uitgebrei word met die toevoeging van die CX-30, wat die gaping tussen die CX-3 en die CX-5 sal vul. Die BT 50-bakkiereeks sal na verwagting ook vanjaar op die mark kom.
MERCEDES-BENZ
EQC
S-klas
Mercedes-Benz se elektriese EQC is nog ‘n nuwe model wat in 2020 bekendgestel sou word, maar dit sal in 2021 gebeur, terwyl die EQ-reeks oorsee uitgebrei sal word. Die nuwe S-klas word ook in 2021 in Suid-Afrika verwag.
MITSUBISHI
Xpander Cross
Eclipse Cross
Mitsubishi het lank al aangekondig dat die Xpander Cross in 2021 in Suid-Afrika bekendgestel sal word. Die enigste ander moontlike nuwe model waarvan ons bewus is, is ‘n opgeknapte weergawe van die Eclipse Cross, wat reeds oorsee beskikbaar is.
NISSAN
Magnite
Navara
X-Trail
Nadat Nissan die afgelope jaar stil was, word minstens drie nuwelinge vir 2021 verwag. Die Magnite is onlangs oorsee bekendgestel en sy bekendstelling vroeg in 2021 is reeds bevestig. Die een nuwe model waarna baie mense uitsien, is die Navara, wat in die tweede kwartaal van die jaar verwag word. Die reeks sal vir die eerste keer enkel-kajuit modelle insluit en in Nissan se fabriek in Rosslyn naby Pretoria vervaardig word. Dit is net nog nie seker hoe sy bekendstelling die toekoms van die NP 300 Hardbody sal raak nie. Die nuwe X-Trail is ook al oorsee beskikbaar en behoort in 2021 hier bekendgestel te word.
OPEL
Corsa
Zafira Life
Mokka
Nadat dié Duitse vervaardiger deel van die Peugeot-groep geword het, het hy hard gewerk om van voor af sy voete in Suid-Afrika te vind, en die handelaars-netwerk is weer besig om uit te brei. Minstens drie nuwe modelle word hier verwag in 2021, naamlik die nuwe Corsa, wat ‘n platform met die Peugeot 208 deel, die Zafira Life, ‘n minibus met nege sitplekke, en die nuwe geslag Mokka.
PEUGEOT
208/2008
3008/5008
Landtrek
Peugeot se hele reeks sal in 2021 vervang of opgeknap word en ‘n belangrike nuweling sal op die mark kom. Die 208 en 2008 word deur splinternuwe modelle vervang, en die 3008 en 5008 sal detail-veranderinge ondergaan. Die nuwe modelreeks waarna die meeste mense egter uitsien, is die Landtrek-bakkie, wat in enkel- en dubbel-kajuit-weergawes en met petrol- of diesel enjins beskikbaar sal wees. Daar word bespiegel dat die 108 aan die mark onttrek sal word, maar dit is nog nie bevestig nie.
PORSCHE
911 Turbo S
Die vlagskip van die 911-reeks, die Turbo S, is pas in Suid-Afrika bekendgestel, maar ons het nog nie gehoor van enige nuwe modelle wat vir 2021 beplan word nie.
RENAULT
Captur
Clio
Triber AMT
Sandero
Die nuwe Renault Captur en Clio sou in 2020 hier bekendgestel word, maar hulle sal nou eers in 2021, blykbaar onderskeidelik in die tweede kwartaal en die middel van die jaar, op die mark kom. Die Triber sal ook met ‘n AMT-ratkas beskikbar wees. Die nuwe Sandero is oorsee onder die Dacia-kenteken beskikbaar en behoort gedurende die jaar hier op die mark te kom.
SUBARU
XV
Forester
Outback
Die groot nuus van Subaru se kant af is dat ‘n nuwe vier-silinder enjin van 2,5 liter onlangs oorsee bekendgestel is. Dit behoort in 2021 in die jongste weergawes van die XV, die Forester en die Outback gebruik te word.
SUZUKI
Celerio
Jimny 4 deur
Ons het nog nie gehoor wat Suzuki vir Suid-Afrika beplan vir die nuwe jaar nie maar ons het gehoor dat ‘n nuwe Celerio glo binnekort oorsee verwag word en dat die Jimny met vier deure beskikbaar sal wees. Aangesien die ooreenkoms tussen Toyota en Suzuki reeds tot die bekendstelling van die Baleno-gebaseerde Toyota Starlet in Suid-Afrika gelei het, bestaan die moontlikheid dat die A-Cross, gebaseer op die Toyota RAV 4, dalk ook op pad is na Suid-Afrika.
TOYOTA
Corolla Cross/Yaris Cross/Urban Cruiser
Fortuner
Toyota het reeds aangekondig dat ‘n nuwe oorkruis-voertuig van laat in 2021 af hier vervaardig sal word, maar nog nie gesê wat dit sal wees nie. Daar is drie moontlikhede, naamlik die Yaris Cross, wat sou beteken dat ‘n nuwe Yaris-reeks ook hier op die mark sal moet kom, die Corolla Cross of die Urban Cruiser, gebaseer op die Suzuki Virata Brezza, wat nie in Suid-Afrika op die mark is nie. Dit sal nie noodwendig een van hierdie drie wees nie; dalk sorg Toyota vir ‘n verrassing. Die veranderinge wat onlangs aan die Hilux-reeks aangebring is, beteken natuurlik dat die Fortnuer-reeks ook opgeknap sal word, maar verdere besonderhede is nog nie bekend nie.
VOLKSWAGEN
Golf 8
ID 4
T-ROC R’
Tiguan R
Die bekendstelling van die Golf 8 is vertraag, maar dit sal vroeg in die nuwe jaar plaasvind. Die nuwe T-Roc-reeks, asook die Tiguan-reeks, sal na verwagting ook uitgebrei word met die toevoeging van R-modelle. Die groot nuus is egter dat die iD-reeks elektriese voertuie in Suid-Afrika bekendgestel sal word, en die iD4 sal die eerste model wees wat na Suid-Afrika sal kom.
VOLVO
Polestar
Ons het nog niks van Volvo se planne vir 2021 gehoor nie , maar die moontlikheid bestaan dat Polestar, wat ‘n alleenstaande elektriese onderafdeling van Volvo is, in Suid-Afrika bekendgestel sal word.
Natuurlik kan geen so ‘n lys van nuwe modelle heeltemal akkuraat of volledig wees nie, want sommige nuwelinge word in dieselfde jaar oorsee en in Suid-Afrika bekendgestel, en soms verander vervaardigers van plan en besluit om sekere modelle nie na Suid-Afrika te bring nie. Die groot nuus vir 2021 is egter dat die reeks elektriese voertuie wat in Suid-Afrika beskikbaar sal wees, al hoe meer sal word, met ‘n aantal vervaardigers wat vir die eerste keer tot hierdie segment sal toetree.