Breaking News

Toyota Agya vervang Aygo.

Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) het pas sy jongste intreemodel wat in die uiters prys-sensitiewe A-segment sal meeding, in Suid-Afrika bekendgestel.

Die Agya sal die Aygo onder aan die modelreeks vervang; dié nuweling deel sy onderstel met die Daihatsu Ayla, wat reeds in 2013 bekendgestel is, maar weens Daihatsu se onttrekking aan die Suid-Afrikaanse mark ‘n paar jaar gelede, nog nooit hier beskikbaar was nie. Agya is ‘n Oud-Indiese woord wat met “vinnig” vertaal kan word.  Dit is gemik op eerste kopers asook dié wat, in die nasleep van COVID 19, op soek is na ‘n motor wat goeie waarde vir geld bied.

Daar is net een model, met die keuse van ‘n vyfgang-handratkas of ‘n outomatiese ratkas met vier gange beskikbaar. Die eenliter-driesilinderenjin waarmee albei modelle aangedryf word, lewer 49 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 89 Nm teen 4 400 opm. Die gemiddelde brandstofverbruik van die handrat- en outomatiese model is volgens die vervaardiger onderskeidelik 4,8 en 4,9 liter per 100 km, wat ‘n reikafstand van omtrent 680 km met die 33 liter-brandstoftenk moontlik maak.

Aan die voorkant is daar ‘n stamper wat aggressief gestileer is en beskik oor ‘n driedimensionele ontwerp met’n sportiewe voorkoms en ‘n breë houding. Die traanvormige, opwaarts geboë projektor-kopligte beskik oor ‘n lens wat soos ‘n vergrootglas werk om die helderheid van die ligstraal vir die beste moontlike sigbaarheid te verhoog. Aan die kant is daar kleurgekodeerde buitespieëls wat ingevou kan word en oor ingeboude rigtingwysers beskik, terwyl allooiwiele van 14 duim standaardtoerusting is.  Agter is daar ‘n dakdrukvlerk en ligdiode-agterligte.

Die binnekant is ontwerp om soveel ruimte, ook in die bagasiebak, te skep; die agtersitplek kan as ‘n eenheid platvou om bagasieruimte te vergroot en elke wiel is in elke buitenste hoek geplaas.  Die voorpaneel is ‘n drywende eenheid wat meer ruimte om die tipiese plasing van ‘n transmissietonnel skep en die plasing van twee bekerhouers voor die rathefboom of -kieser moontlik maak. Die kajuit spog met ‘n mengsel van swart en silwer plastiek , geharde doekstof vir die sitplekke en poli-uretaan vir die rathefboomknop en stuurwiel. Die instrumentehuisie bevat ‘n toereteller en ‘n multi-inligtingskerm aan weerskante van die spoedmeter.

Hoewel die Agya heel onder aan die plaaslike mark meeding, is sy spesifikasievlak allesbehalwe karig; onder sy standaardkenmerke is klimaatbeheer, sentrale sluiting met afstandbeheer, elektriese vensters reg rondom, ‘n agterste ruitveër en ‘sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie. Twee lugsakke, asook ABS-remme met noodremhulp, asook ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke is standaardtoesting.  Die Agya is met of sonder ‘n klankstelsel beskikbaar; wanneer die klankstelsel gekies word, word Bluetooth-verbinding, ingesluit, asook ‘n CD-speler en USB- en AUX-kragpunte. Daarby is Apple Car Play en Android Auto as handelaarsopsie beskikbaar. Wanneer die gebruiker se slimfoon deur middel van ‘n USB-kabel gekoppel word, word die foon se skerm op die inligting-en-vermaaksetelsel se skerm vertoon en die foon se klank word aan die twee luidsprekers gekoppel. Dit maak navigasie- en klankstroomprogramme , asook verbeterde telefoongebruik moontlik. Al die modelle is ook voorberei om vir die gebruik van Toyota Connect, wat Wi Fi-verbinding vir slimtoestelle bied, tesame met ‘n aantal gekoppelde aanlyndienste en 15 GB komplimentêre Wi Fi-data. Wanneer die eienaar aan die My Toyota-toepassing gekoppel is, kan versienings aanlyn bespreek word, die voertuig se logboek kan afgelaai word, voertuiglisensies kan aanlyn hernieu word en padbystand kan versoek word.

Toyota het ook nou ‘n nuwe stroomdiens wat in samewerking met Vodacom ontwikkel is, aangekondig.  “My Entertainment” sluit onder meer Vodacom se Video Play-videostroming in, asook My Muze (musiekstroming) in; dit bied Toyota-eienaars ‘n verbeterde eienaarskapservaring met verbeterde konnektiwiteit en toegevoegde waarde. Video Play bied toegang tot plaaslike en internasionale rolprente, reeks en musiekvideo’s via ‘n stroomstelsel terwyl My Muze toegang tot plaaslike en internasionale musiek bied; ‘n uitstaande kenmerk is dat hierdie dienste onafhanklik gebruik kan word en nie net tot gebruik in die voertuig beperk is nie.  Ter ondersteuning hiervan het gaste nou die keuse om op ‘n databasis ‘n 15 GB-databondel met gratis videostroming vir twee maande of ‘n 10 GB-databondel met My Muze vir drie maande op hul My Toyota-toepassing te aktiveer. Pasgemaakte aanvullingsdata sal beskikbaar wees wanneer die komplimentêre data uitgeput is. Hierdie dienste sal van Desember 2020 beskikbaar wees.

Die Agya is beskikbaar in wit, grys, silwer, geel, rooi en oranje.

Die pryse van die Agya-reeks, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km  en ‘n diensplan geldig vir twee versienings of 20 000 km, wat teen ekstra koste verleng kan word, lyk só:

Agya handrat: R 178 600

Agya outomaties: R 182 400

Die klankstelsel is teen ‘n bykomende R 13 900 beskikbaar.

%d bloggers like this: