Breaking News

Alfa Romeo wys sy Tonale

Alfa Romeo het pas die jongste toevoeging tot sy reeks, die Tonale, internasionaal bekendgestel.

Die Tonale neem sy plek onder die Stelvio in dié Italiaanse vervaardiger se reeks in en spog met ‘n aantal vindingryke nuwe kenmerke wat die toekoms van Alfa Romeo in ‘n nuwe rigting in stuur. Die Tonale sal vervaardig word in Alfa Romeo se aanleg in Napels, wat aanvanklik vyf dekades gelede vir die Alfasud opgerig is, maar intussen opgeknap is om by veranderende vervaardigingstegnieke aan te pas.

Sekere ontwerpkenmerke waaraan Alfa Romeo-liefhebbers deur die jare gewoond geraak het, is ook op die Tonale te sien, veral die hartvormige sierrooster, allooiwiele met vyf gate wat soos ‘n draai-telefoon lyk, asook ‘n paar kenmerke wat die maatskappy se geskiedenis weerspieël, soos ‘n karakterlyn van voor tot agter wat eie aan die Giulia GT-koepees was en dun kopligte met moderne tegnologie wat herinner aan dié van die SZ Zagato. Die kopligte, met ‘n 3+3-voorkoms, beskik oor die jongste ligdiode-matrikstegnologie ; die drie modules spog met dagryligte, dinamiese rigtingwysers en ‘n “welkom- en tot siens”-funksie. Laasgenoemde word geaktiveer elke keer wat die motor aan- of afgeskakel word. Nog ‘n uitstaande kenmerk waaroor die kopligte beskik, is ‘n outomatiese hoëstraalfunksie, wat die ligte outomaties domp na gelang van snelheid en padtoestande. Die ligte bespeur aankomende verkeer en skakel weerkaatsing uit. Daar is ook ‘n module wat outomaties aangeskakel word wanneer die motor draai, om die beste moontlike beligting te verseker. Die agterligte strek oor die hele breedte van die agterkant, met net die Alfa Romeo-kenteken tussenin. Die agterruit herinner aan dié van die 8C Competizione.

Soos dit ‘n Alfa Romeo betaam, is die stuurkajuit op die bestuurder gefokus, hoewel ander insittendes in gemak en veiligheid vervoer word. Die Tonale spog met ‘n splinternuwe inligting-en-vermaakstelsel met ‘n aanpasbare Android-stelsel, asook 4G-verbinding wat die voertuig se programmatuur deur middel van die internet op datum hou. Die stelsel beskik oor ‘n 12,3 duim digitale vertoonpaneel en ‘n raakskerm van 10,25 duim, wat volgens die vervaardiger die beste in sy klas verteenwoordig. Die stelsel kan volgens verskillende gebruikers se behoeftes aangepas word, en hulle het die keuse om van die raakskerm of ‘n draaiknop tussen die sitplekke gebruik te maak. Die radio, media, navigasietelsel, klimaatbeheer en ander funksies kan deur middel van die draaiknop of raakskerm gekies en volgens behoefte ingestel word.  Die kompakte driespeekstuurwiel met ratspane is nog ‘n tradisionele Alfa Romeo-kenmerk wat deel van die Tonale se binneruim uitmaak terwyl die instrumentepaneel oor ‘n onmiskenbare Alfa Romeo-voorkoms beskik.  Dubbelsone-klimaatbeheer, atmosfeerbeligting, ‘n koordlose selfoonlaaier, ‘n elektries beheerde agterklap en ‘n Harman Kardon-klankstelsel met altesaam 14 luidsprekers is ook beskikbaar. Die Alexa-stemassistent is ‘n vindingryke en toonangewende kenmerk wat die eienaar in staat stel om die motor ‘n plek te maak waar items wat afgelewer word, te maak deur die deure van ‘n afstand af oop te sluit. Die stelsel gee ook vir die bestuurder van die gemak van sy of haar woning inligting oor die vlak van die brandstof of batterykrag, die huidige ligging van die motor, en die kans om die motor van ‘n afstand af oop of toe te sluit. Die stelsel kan ook gebruik word om items by ‘n inkopielys te voeg of ‘n nabygeleë plek van belang te soek sonder dat dit nodig is om ‘n mens se oë van die pad af te haal. 

Die Tonale sal beskikbaar wees met ‘n aantal kragbronne wat vir die eerste keer in ‘n Alfa Romeo gebruik word, onder meer ‘n hibriede- of inprop-hibriede-kragbron, maar ‘n diesel sal ook deel van die reeks wees. Die meeste modelle word met voorwielaandrywing toegerus maar daar sal ook ‘n vierwielaangedrewe Q4 met die inprop-hibriede-kragbron beskikbaar wees.  Die hibriedemodel word aangedryf deur ‘n 1,5 liter vier-silinder enjin met ‘n turboaanjaer en ‘n 48 volt-elektriese motor wat die voertuig kan aandryf selfs al is die petrolkragbron afgeskakel. Die motor kan teen lae snelhede in elektriese modus bestuur word en die elektriese modus werk ook wanneer die motor aangeskakel word.  Daar is twee weergawes van hierdie kragbron, wat onderskeidelik 97 kW en 119 kW lewer. Albei enjins word aan ‘n sewegang- TCT-ratkas met ratspane agter die stuurwiel gekoppel. Daar is ook ‘n voorwielaangedrewe model met ‘n 1,6 liter turbo-diesel enjin wat 97 kW en wringkrag van 320 Nm lewer. Die verrigtingsmodel in die reeks is die Q4, met ‘n inprop-hibriedekragbron en vierwielaandrywing. Hierdie model se enjin lewer 205 kW en die Q4 kan tot 80 km in die stad en 60 km in die stad of op die oop pad in elektriese modus aflê. Die Q4 kan binne 6,2 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel. Die Q4 se 1,3 liter Multi Air-turbo-petrol enjin word deur die voorwiele aangedryf terwyl die elektriese kragbron aan die agterwiele gekoppel word. Die battery kan binne twee en ‘n half uur gelaai word wanneer die snel-laaier van 7,4 kW gebruik word. Die hibriedemodelle maak ook gebruik van tegnologie wat energie herwin wat andersins vermors sou word, soos wanneer die motor snelheid verminder of wanneer daar gerem word. 

Verskeie toonaangewende veiligheidskenmerke sal vir die Tonale beskikbaar wees, onder meer Alfa Romeo se gevorderde bestuurshulpstelsel wat vlak 2 outonome bestuur moontlik maak. Dit beheer die motor se versnelling en remvermoë outomaties en kombineer die motor se voorste kamera met die intelligente aanpasbare spoedbeheer en die baanhou-hulpstelsel. Die spoedbeheer handhaaf ‘n veilige volgafstand en die padtekenhekenning bespeur padtekens deur middel van die aanboordkamera, vertoon dit op die uitleespaneel en herinner die bestuurder aan die heersende snelheidsperk. Laasgenoemde stelsel waasku die bestuurder om snelheid te verminder om aan die heersende snelheidsperk gehoor te gee. Verder is daar ‘n stelsel wat bespeur as die bestuuder moeg is, ‘n agterste dwarsverkeermonitor, ‘n stelsel wat enigiets wat op die agtersitplek agtergelaat word wanneer die motor gesluit word, ‘n blindekolmonitor en 360 grade-kameras voor, aan die kante en aan die agterkant van die motor. Die motor beskik ook oor semi-outomatiese parkeerhulp, wat die grootte van die beskikbare parkeerplek aandui en die bestuurder help om die motor te parkeer.  Drie bestuursmodusse is beskikbaar, naamlik Natural, wat tussen die petrol- en hibriedefunksies beweeg en ‘n balans tussen energiedoeltreffendheid en werkverrigting bied, Advanced efficiency, wat vir die beste moontlike energiedoeltreffendheid in die hibriedemodelle bied en wat die inprop-hibriedemodel in staat stel om ten volle in elektriese modus bestuur te word en Dynamic, wat die reaksietyd van die versnellerpedaal en die stuurstelsel aanpas om bestuursgenot te verhoog. 

Die Tonale sal vanaf April oorsee beskikbaar wees en behoort voor die einde van 2022 in Suid-Afrika bekendgestel te word.

%d bloggers like this: