Breaking News

Audi knap twee RS-modelreekse op

Audi Suid-Afrika het pas aangekondig dat sy RS 4 Avant, asook die RS 5-koepee en Sportback binnekort opgeknap sal word.

Die vervaardiger se voorkeurklante het reeds begin om hul motors in ontvangs te neem, maar die amptelike bekendstelling sal op 1 April vanjaar plaasvind. 

Al drie modelle spog met ‘n herontwerpte vooraansig, met ‘n groter en platter sierrooster wat ‘n heuningkoek-struktuur in glansswart, wat tipies van die RS-modelle is, bevat. Die rooster is vyfhoekig en word by die voorstamper geïntegreer. Die ligdiode-kopligte is ook herontwerp; die rande van die matriks-kopligte, wat standaard toerusting vir die RS 5’s en opsioneel vir die RS 4 Avant is, is verdonker en rond die ontwerp van dié hoëverrigtings-modelle af. Al die modelle het ook breër wielboë wat hul sportiewe voorkoms nog verder beklemtoon.  Daar is dowwe aluminium afwerking op die  buitespieëls, asook die voorste- agterste- en syskorte, maar voornemende kopers kan ook glans-swart afwerking kies en die Audi-kentekens kan opversoek swart geverf word. Die dakspore van die RS 4 Avant is ook in dowwe aluminium afgewerk, maar kan ook swart geverf word teen geen ekstra koste nie. Die RS 5 het ook herontwerpte syskorte en ‘n nuwe agterste lugverderler wat die twee groot uitlaatpype huisves.  Die koepee se dak is van koolvesel gemaak; dit maak die motor omtrent vier kilogram ligter. Al die modelle spog met ‘n RS Sport-uitlaatselsel wat vir ‘n sportiewe enjinklank sorg, en Audi Sport allooiwiele van twintig duim is standaard toerusting vir al die modelle.

Die binneruim van die nuwe RS-modelle word oorheers deur horisontale lyne en donker kleure. Daar is egter ligdiode-beligting in 30 kleure wat die kontoere van die deure en die middelkonsole volg. Die RS-sportsitplekke is in Nappa-leer met swart of silwer stikwerk afgewerk. Daar is ook ‘n RS-pakkert beskikbaar met Alcantara-afwerking met rooi stikwerk vir onder meer die stuurwiel en die ratkieser, armleunings wat met Nappa-leer met rooi stikwerk afgewerk is, sitplekgordels vir die voorste en buitenste agtersitplekke met swart en rooi afwerking, vloermatte in swart met kontrasterende rooi stikwerk met die RS-embleem op die voorste matte. Al drie modelle word toegerus met ‘n 10,1 duim MMI-raakskerm. Hierdie vrystaande skerm is effens na die bestuurder toe gedraai  en bevat ‘n MMI Navigation Plus-stelsel asook ‘n RS-spesifieke monitor wat inligting soos versnelling, die temperatuur van die motor se bande, banddruk en inligting oor die quattro spot-ewenaar gee. 

Audi se Virtual Cockpit, met ‘n 12,3 duim uitlees-paneel, is standaard toerusting vir al drie modelle.  Die bestuurder kan een van verskillende vertoonopsies kies, naamlik klassiek, dinamies en sport, en die inligting wat by met elke opsie gekies word, verskil. Die bestuurder kan ook die RS-modusknoppies op die stuurwiel gebruik om een van twee individuele modusse te kies en die opsionele uitleespaneel tussen die voorruit en die instrumente-paneel dui die RS-grafika aan terwyl ‘n Bang & Olufsen-klankstelsel met 3D-klank standaard toerusting vir al drie modelle is. Al drie modelle word ook  met Audi Connect toegerus; hierdie stelsel bied internet-verbinding van hoogstaande gehalte. Dit bevat ‘n SIM-kaart asook die omvattende Audi Connect-portefeulje. Laasgemoende bevat die jongste beskikbare verkeers-inligting, navorsing oor plekke van spesifieke belang, satelliet-navigasie en weervoorspellings. Dit sluit ook  Car 2x-dienste in wat bestaan uit veiligheids- en dienskenmerke in die geval van skade, meganiese probleme of kleiner ongelukke. Daar is ‘n knoppie in die motor se dak wat gedruk kan word wanneer daar ‘n noodoproep gemaak word vir wanneer die motor by ‘n handelaar moet uitkom of die bestuurder in gevaar is. Die bestuurder kan ook die My Audi-toepassing aflaai en sodoende die motor opspoor, van ‘n afstand af oop- of toesluit en waarskuwings oor spoedlokvalle kry of in kennis gestel word as die motor gesteel word. 

Soos voorheen word die nuwe RS 4 Avant en RS 5-modelle toegerus met ‘n 2,9 liter TFSI V6-enjin met twee turboaanjaers wat 331 kW en 600 Nm teen slegs 1 900 opm lewer. Die topsnelheid van al drie modelle is 280 km/h, maar dit kan net op spesiale versoek tot hierdie syfer verhoog word aangesien dit gewoonlik tot 250 km/h beperk word. Audi se bekende quattro-vierwielaandrywing-stelsel en ‘n Tiptronic-ratkas met agt gange, asook ratspane agter die stuurwiel, is standaard toerusting. Alle modelle word ook met Audi se RS-sportvering toegerus.

Die pryse van die verskillende modelle, wat Audi se Freeway-onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km insluit, lyk só:

RS 4 Avant TFSI quattro: R 1 296 000

RS 5 Coupé TFSI quattro: R 1 394 500
RS 5 Sportback TFSI quattro: R 1 409 500

%d bloggers like this: