Breaking News

Audi se eerste Q5 Sportback is hier

Audi was een van die besigste motorvervaardigers in Suid-Afrika die afgelope jaar en verskeie nuwe modelle is deur die loop van die jaar hier bekendgestel.

Die laaste nuweling wat vanjaar in Suid-Afrika op die mark kom, is die Q5 Sportback, die derde sportnutsvoertuig met die Sportback-bakwerk . Die Q5 Sportback volg op die Q3 Sportback wat vroeër vanjaar bekendgestel is, en die elektriese eTron Sportback, wat vroeg aanstaande jaar hier verwag word. Dit is die eerste keer dat die Q5 in ‘n Sportback beskikbaar sal wees en dié nuweling sluit hom by die gewone Q5, wat ook vroeër vanjaar bekendgestel is, aan.

Die vooraansig word oorheers deur ‘n groot agthoekige sierrooster met ligdiode-kopligte aan weerskante terwyl matriks-kopligte opsioneel beskikbaar is. Die profiel word oorheers deur die koepee-agtige daklyn wat ook by die ander Sportback-sportnutse teenwoordig is en die oënskynlik hoog gemonteerde agterstamper beklemtoon sy sportiewe voorkoms. Die agterligte bevat vindingryke digitale OLED-tegnologie; elke diode is verdeel in ses elemente wat afsonderlik beheer kan word. Wanneer die voertuig stilstaan en ‘n ander voertuig kom nader, word al die OLED-diodes verlig, wat die motor meer sigbaar maak. Voornemende kopers kan tussen die Advanced- en S-Line-stileringspakkette kies; die twee afwerkingsvlakke verskil veral wat die ontwerp van die enkelraam-sierrooster, die luguitlate aan die kante, die agterstamper en die wiele. Daar is ook onder meer ‘n swart stileringspakket beskikbaar, tesame met ander bykomstighede.

Daar is ook ‘n S-Line-pakket vir die binnekant beskikbaar, met die opsie van voorste sportsitplekke en Nappa-leerbekleedsel van hoogstaande gehalte in ‘n verskeidenheid kleure. Die bagasiebak hou 510 liter met die agtersitplekke regop en 1 480 liter as dit platgevou word. Die rugleunings van die agtersitplek kan ook teruggeleun word. Die agterklap werk met kraghulp en ‘n geriefsleutel wat teen ekstra koste beskikbaar is, sluit ‘n funksie in wat die eienaar in staat stel om die agterklap oop te maak deur ‘n voet onder die agterstamper te waai. 

Sportvering is standaard toerusting maar voornemende kopers kan lugvering of ‘n alternatiewe veerstelsel met beheerde dempers kies. Die lugvering verstel die ryhoogte oor ‘n reikwydte van 60 mm. Die grondvyhoogte kan met 45 mm verhoog word indien slegte paaie aangedurf word en teen hoë snelhede word die hoogte van die bakwerk met 15 mm verlaag. Die wiele is beskikbaar in verskeie ontwerpe van 19 of 20 duim.

Altesaam drie enjins sal beskikbaar wees. Die 40 TDI word aangedryf deur ‘n turbodieselenjin van twee liter wat 140 kW en 400 Nm se wringkrag lewer. Die 45 TFSI se turboaangejaagde petrolenjin van twee liter lewer 183 kW en 370 Nm se wringkrag. Hierdie enjin maak van ‘n 12 volt  ligte hibriedetegnologie gebruik ; dit stel die enjin in staat om vry te loop wanneer die enjin afgeskakel is, terwyl die af-en-aansit-tegnolgie teen 22 km/h begin funksioneer. Albei hierdie enjins word aan ‘n S Tronic-ratkas met sewe gange gekoppel en die quattro-vierwielaandrywingstelsel is standaard toerusting. Onder normale omstandighede is die motor voorwielaangedrewe maar wringkrag word ook na die agterwiele toe gestuur wanneer toestande dit vereis.

  Twee koppelaars aktiveer die agteras wanneer nodig. Die vlagskip van die reeks is die S5 quattro Sportback, wat aangedryf word deur ‘n turboaangejaagde drieliter V6-enjin wat 260 kW en wringkrag van 500 Nm lewer. Hierdie enjin word aan ‘n Tiptronic-agtgangratkas gekoppel . Die SQ5 Sportback se topsnelheid word elektronies tot 250 km/h beperk. Die aanpasbare lugvering wat opsioneel is vir die goedkoper modelle is standaard toerusting, saam met die quattro-aandrywingstelsel. Die SQ5 Sportback kan van die res van die reeks onderskei word deur middel van ‘n unieke sierrooster en ‘n agterstamper met ‘n lugverdeler en vier uitlaatpype. Die binnekant word in swart of donkergrys afgewerk en die verligte skermplate aan die onderkante van die deure bevat die S-embleem.  Daar is kontrasterende stikwerk vir die sitplekke en die stuurwiel en geventileerde sitplekke is teen ekstra koste beskikbaar. Die aluminium-insetsels vir die paneelbord en deurpanele kan met koolvesel- of klavierswart afwerking vervang word indien die eienaar dit so verkies.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n Audi Freeway-waarborg en onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km insluit, lyk só:

Q5 Sportback quattro 40 TDI Advanced: R 960 000

Q5 Sportback quattro 40 TDI S-Line: R 1 000 000

Q5 Sportback quattro 45 TFSI S-Line: R 1 050 000

SQ 5 Sportback quattro TFSI: R 1 355 000

%d bloggers like this: