Breaking News

Audi se haastige Q-vlagskip is hier

Audi Suid-Afrika het pas die vlagskip van sy Q-sportnuts-voertuig reeks bekendgestel.

Die RS Q8 quattro word aangedryf deur ‘n vier-liter V8-enjin met twee turbo-aanjaers wat 441 kW en wringkrag van 800 Nm teen tussen 2 200 en 4 500 opm lewer en gekoppel  word aan ‘n Tiptronic-ratkas met agt gange. Soos wat ‘n mens van ‘n sportiewe Audi kan verwag, is die quattro-vierwiel-aandrywingstelsel standaard toerusting. Die RS Q8 quattro kan binne 3,8 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel en hoewel die topsnelheid tot 250 km/h beperk word, kan hierdie syfer op spesiale versoek na 280 km/h verhoog word. Die RS Q8 se 1-3-7-2-6-5-4-8-ontstekingsvolgorde sorg vir ‘n sportiewe klank, en soos met alle Audi RS-modelle is daar twee ovaalvormige uitlaatpype in die hoeke van die agterstamper. Die bestuurder kan die enjin-klank met behulp van die Audi Drive Select-stelsel verander. 

Die enjin kombineer hoë werkverrigting met maksimum doeltreffendheid en word toegerus met ‘n ligte hibriede (MHEV)-stelsel wat 48-volt hoof-elektriese stelsel gebaseer is. Wanneer spoed verminder word of wanneer daar gerem word, kan hierdie stelsel 12 kW terugvind en in die litium-ioonbattery berg. Die interaksie van die MHEV-komponente verbeter rygerief en kan brandstof verbruik onder alledaagse omstandighede met tot 0,8 liter per 100 km verbeter. Nog ‘n manier waarop die enjin se doeltreffendheid verbeter word is die afsny van sekere silinders wanneer dit moontlik is. Teen lae toere in die hoër ratte word die tweede, derde, vyfde en agtste silinder gedeaktiveer deur die brandstof-inspuiting af te skakel en die inlaat- en uitlaatkleppe toe te maak. Hierdie proses kan omtrent glad nie in die motor bespeur word nie en duur slegs millisekondes.  Hierdie silinders word weer geaktiveer wanneer die bestuuder die versneller trap. 

Die quattro-stelsel beskik oor ‘n meganiese middelste ewenaar wat die krag in ‘n 40:60-verhouding na die voor- en agterasse versprei. Die krag word egter na die as met beter vastrapvermoë versprei wanneer toestande dit vereis. Tot 70% kan na die voorste as versprei word en tot 85% na die agteras. 

Die RS Q8 quattro beskik oor aanpasbare lugvering as standaard toerusting, en daarom is hy ewe tuis op die renbaan as in die veld. Die veerstelsel kan verstel word om ‘n sportiewe of gemaklike ritgehalte te bied, en afhangende van die bestuurder se behoeftes en bestuurs-toestande kan die motor se grondvryhoogte met tot 90 mm wissel.  Daarby is vierwielstuur ook standaard toerusting; dit verbeter nie net die motor se draaisirkel nie maar ook stabiliteit wanneer daar vinnig van baan verwissel word.  Die kort oorhange, lugvering, quattro-stelsel en afdraandehulp maak dat die RS Q8 quattro gemaklik in moeilike terrein bestuur kan word.

Daar is altesaam agt bestuurdersprofiele waaruit die bestuurder kan kies deur die Audi Drive Select-program te gebruik, onder meer die RS 1 en RS 2-programme wat volgense individuele behoeftes aangepas kan word deur die RS Mode-knoppie op die stuurwiel te druk. Dit beïnvloed  die karakter-eienskappe van die enjin en ratkas, die kraghulp van die stuustelsel, die lugvering, die outomatiese klimaatbeheer en die enjinklank.

Agter die 23 duim-aluminium-wiele met ‘n 5Y-speekontwerp en 295/35-bande is intern geventileerde skyfremme met ‘n deursnee van 420 mm voor en 370 mm agter met rooi remknypers. Die opsionele keramiekremme beskik oor blou remknypeers; hul deursnee is 440mm voor en 370mm agter. 

Aan die voorkant is daar ‘n RS-spesifieke sierrooster met ‘n heuningkoek-afwerking in glansswart. Die profiel van die RS Q8 quattro beskik oor afwerkingstroke wat die bakwerk voor 10 mm breër en agter 5mm breër maak, en meer plek vir die groter spoorwydte moontlik maak. Agter is daar ‘n drukvlerk op die dak, asook ‘n groot agterste lugverdeler met die twee uitlaatpype in die hoeke. Daar is ‘n keuse van altesaam nege kleure, maar die Audi Exclusive-program maak dit vir voornemende kopers moontlik om die motor by hul spesifieke behoeftes aan te pas. Die Audi-kenteken, asook die RS-kentekens kan in swart afgewerk word indien die eienaar dit so verkies. Die getinte ligdiode-matrikskopligte beskik oor drie-dimensionele dagryligte. Aan die agterkant is daar ‘n breë ligstrook saam met ‘n paneel in glansswart wat die breedte van die agterkant beklemtoon, asook hoëdefinisie ligdiode-matriks-agterligte. 

Aan die binnekant spog die RS Q8 quattro met ‘n doelbewuste skoon ontwerp. Alle elemente onder die swart dakafwerking vloei op ‘n logiese en harmonieuse manier in mekaar. Die slanke instrumentepaneel en sterk horisontale lyne dra ‘n gevoel van ruimte oor. Die middelpunt van die paneelbord is die MMI-skerm met ‘n swart-paneelvoorkoms wat in ‘n groot, swart oppervlak wegraak as die motor afgeskakel word. Nog ‘n belangrike ontwerpelement is die middelkonsole met ‘n raamwerk wat ontwerpelemente in antrasiet bevat en die sportiewe karakter van die binneruim beklemtoon. 

Die virtuele stuurkajuit bevat ‘n vertoonpaneel wat RS-spefisieke inligting gee, onder meer banddruk, rondtetye en wringkrag, terwyl ‘n ratwyser die bestuurder aanraai om ratte te wissel wanneer die toereperk bereik word. Die paneel tussen die voorruit en die instrumentepaneel bevat ook RS-spesifieke grafika. Die sportsitplekke word met Valcona-leer met ‘n heuningkoek-afwerking oorgetrek  en bevat ‘n masseerfunksie. Dit is ook geperforeer om ventilasie te verskaf.  Dit word in swart afgewerk, maar cognac-afwerking is opsioneel beskikbaar. Die RS-afwerking beskik oor rooi stikwerk vir die kniekussings, die rand van die stuurwiel, vloermatte, ratkieser en sitplekgordels. Die middelkonsole, ratkieser en stuurwiel word in Alcantara oorgetrek  en die bokant van die  instrumentepaneel, die deurpanele en die armleunings in die deure in Nappa-leer.  Die stuurwiel, met ‘n plat onderkant, beskik oor die RS-embleem, asook ratspane en veelfunksie-knoppies wat die RS Mode-knoppies insluit. Sodra dit gedruk word, word RS-spesifieke inligting op die virtuele stuurkajuit vertoon. Hoewel die RS Q8 quattro ‘n sportiewe motor is, word veelsydigheid nie ingeboet nie; die agtersitplek bied plek vir drie insittendes en kan platgevou word vir bykomende bagasieruimte.

Verskeie bestuurshulp-middels is standaard toerusting vir die RS Q8 quattro.  Onder die veiligheids-kenmerke waarmee die motor toegerus word, is aanpasbare spoedbeheer, baandwaal-waarskuwing, agterste dwarsverkeer-waarskuwing, 360 grade kameras en hulp om ‘n kruising oor te steek.  Die navigasiestelsel bied satellietbeelde en voorspel die ontwikkeling van die verkeersituasie, weersonstandighede, die beskikbaarheid van parkeerplek, asook die vermoë om plekke van belang te soek. 

Altesaam ses verskillende bestuurders se profiele kan ingestel word; van hul gunsteling bestemmings tot hul voorkeur-beligting aan die binnekant van die motor; dit word in die eienaar se  MyAudi-rekening gelaai  en toegang daartoe kan deur middel van die selfoon-toepassing verkry word. Die individuele instellings word geaktiveer sodra die motor se deur oopgemaak word. Die Audi Connect-funksie sluit ook Car 2X-dienste in; dit bestaan uit standaard-veiligheids- en -dienskenmerke wanneer daar skade aan die motor aangerig word, wanneer klein ongelukke plaasvind of wanneer die motor onklaar raak. Die eienaar kry toegang daartoe deur ‘n knoppie op die dak te druk en met Audi se oproepsentruk in verbinding te tree. Die myAudi-toepassing op die eienaar se slimfoon help ook om die motor op te spoor of oop-en toe te sluit. 

Die prys van die RS Q8 quattro, wat ‘n volle Audi Freeway-nonderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km insluit is R 2 354 500.

%d bloggers like this: