Breaking News

Audi se R8 in April hier

Audi Suid-Afrika het aangekondig dat sy opgeknapte R8-reeks in April in Suid-Afrika beskikbaar sal wees, maar die maatskappy se voorkeur-klante het reeds hul motors begin ontvang.

Soos voorheen sal die R8 weer in ‘n koepee en Spyder-weergawe beskikbaar wees. Albei modelle word aangedryf deur die bestaande 5,2 liter V10-enjin sonder ‘n turboaanjaer, wat 449 kW en 560 Nm lewer, en aan ‘n sewegang DSG-ratkas gekoppel word. Albei modelle het Audi se toon-aangewende quattro-vierwiel-aandrywingstelsel as standaard toerusting.

Die sportvering en elektromeganiese kragstuursorg vir moeitelose presisie en die reaksie van die stuurstelsel is direk en presies ongeag die snelheid waarteen die motor bestuur word. Daar is verskillende bestuurs-modusse om van te kies, en drie afsonderlike programme, vir droë toestande, sneeu en reën kan as deel van die Performance-modus gekies word. Danksy die verbeterde elektroniese stabiliteis-beheerstelsel kan die R8 nou vinniger van 100 km/h tot by 0 km/h rem; die afstand is 1,5 meter korter; van 200 km/h tot by 0 km/h is die verskil ‘n hele vyf meter; afhangende van die heersende toestande.  Die nuwe R8 word toegerus met Audi Sport V-speek allooiwiele van twintig duim in ‘n titanium-afwerking of ‘n opsionele dowwe brons kleur. Daar is ook ‘n alternatiewe ontwerp van dieselfde grootte met vyf dubbele speke in antrasietswart beskikbaar. Keramiek-remme met rooi remknypers is standaard toerusting. 

Die nuwe R8 kan van sy voorgangers onderskei word deur ‘n nuwe sierrooster met ‘n breër en platter ontwerp. Die stroke bokant die rooster herinner aan die suksesvolle Audi Sport quattro-tydrenmotor van die 1980’s en daar is groot luguitlate onder die ligdiode-kopligte. Die Audi-ringe en kentekens word in hoëglans-swart afgewerk en die buitespieëls in koolvesel. Die Audi Exclusive-program stel die voornemende koper in staat om enige beskikbare kleur vir sy of haar motor te kies, en die Spyder se dak is in swart, bruin of rooi beskikbaar. Die agterste luguitlaat strek oor die hele breedte van die agterkant en daar is nuwe ovaalvormige uitlaatpype in die agterste lugverdeler. 

Aan die binnekant herinner die R8 aan ‘n renmotor. Al die kontroles is gerangskik om aan die bestuurder se behoeftes te voldoen en alle funksies kan beheer word sonder om die hande van die stuurwiel af te haal.  Die veelfunksie-stuurwiel bevat drie knoppies; die aansitknoppie, die een waarmee een van die Audi Drive-modusse  gekies kan word en die derde een word gebruik om die verrigtings-programme te kies. Die inligting van die MMI-navigasiestelsel kom in die instrumentepaneel voor en Audi se Virtual Cockpit, wat aan ‘n vliegtuig se stuurkajuit herinner, is standaard toerusting. Die View-knoppie op die stuurwiel  kan gebruk word om die vertoonpaneel van die instrumente-paneel te verander. Die uitleespaneel word oorheers deur ‘n groot digitale toereteller wanneer die verrigtingsopsie gekies word, terwyl ander inligting, soos banddruk, rondtetye, olietemperatuur en ander inligting op aanvraag vertoon kan word. Die MMI-stelsel werk met stembeheer wat opdragte in alledaagse taal kan verstaan en uitvoer, en ‘n beheerknop op die middelkonsole kan ook gebruik word om toegang tot sekere funksies te kry. Daarby kan die bestuuder ook die kontroles op die stuurwiel daarvoor gebruik. Onder die standaard-kenmerke waarmee die R8 toegerus word, is ‘n trukamera, ‘n banddruk-monitor met ‘n stel om ‘n stukkende band te herstel pleks van ‘n noodwiel, verhitbare sportsitplekke, en buitespieëls wat elektries verstel en ingevou kan word.

Hoewel voornemende eienaars wat hul motors vooraf bestel het, reeds besig is om hul motors in ontvangs te neem, sal die amptelike bekendstelling eers op 1 April vanjaar plaasvind. Die nuwe modelle sal as die R8 koepee Performance quattro en die R8 Spyder Performance quattro bekendstaan. Die pryse van die twee modelle , wat Audi se Freeway-onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km insluit, lyk só:

R8 V10 Performance quattro koepee: R 3 336 000

R8 V 10 Performance quattro Spyder: R 3 592 000

%d bloggers like this: