Breaking News

BMW se elektriese iX is hier

BMW het pas sy Suid-Afrikaanse elektriese reeks uitgebrei met die bekendstelling van die iX, wat die maatskappy as ‘n sportaktiwiteits-voertuig beskryf.

Volgens die maatskappy sal die iX, wat in twee weergawes beskikbaar sal wees, nuwe standaarde vir ruimte en weelde stel. Albei modelle word toegerus met een elektriese motor elk op die voor-en agteras wat vierwielaandrywing moontlik maak. Die struktuur van die bakwerk, ontwerpbeginsels en instelling van die onderstel is daarop gemik om rygerief en sportiewe hantering te verseker. Die dinamiese eienskappe is goed gebalanseer om uitsonderlike rygerief en sportiewe hantering te verseker. Verder spog die iX met ‘n sleurkoëffisiënt van slegs 0,25. 

Benewens die elektriese kragbron spog die iX ook met verskeie bestuurshulpiddels. In lande waar daar aan die regterkant bestuur word, bespeur die voorbotswaarskuwing aankomende verkeer as daar links gedraai word en fietsryers en voetgangers as daar regs gedraai word. Hoewel die kenmerkende BMW-niertjierooster steeds ‘n uitstaande stileringskenmerk is, is daar natuurlik nie ‘n verkoeler nie en dit bevat eerder kamera- en radarsensors.  Daarby is parkeerhulp, wat ‘n kamera en tru-hulp insluit, standaard toerusting. Die plek waar die bottel vir die ruitwasser volgemaak word, is onder die BMW-kenteken op die neus. Albei modelle word toegerus met allooiwiele van 20 duim, maar 21- en 22-duim-wiele sal teen ekstra koste beskikbaar wees. Daar is vyf kameras, vyf radarsensors 

Twee modelle sal aanvanklik beskikbaar wees. Die intreemodel is die iX XDrive 40, met ‘n maksimum kraglewering van 240 kW en wringkrag van 630 Nm. Soos met enige elektriese motor, is daar ‘n enkelgang-outomatiese ratkas. Die 40 kan binne 6,1 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel en sy topsnelheid is beperk tot 200 km/h. Volgens die vervaardiger is sy energieverbruik 19,4 kw/h per 100 km en hy kan ‘n afstand van 425 km bereik voordat hy weer gelaai moet word. Die xDrive 50 se kragbron lewer 385 kW en 765 Nm se wringkrag. Die 50 kan binne 4,6 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel en weer eens is sy topsnelheid tot 200 km/h beperk. Sy energieverbruik is 19,8 kw/h per 100 km en ‘n reikafastand van 630 km kan bereik word.  Dit duur 35 minute om die 40 se battery tot by 80% van sy kapasiteit te laai; in die geval van die 50 is dit 31 minute. Daarby kan die reikafstand van die 40 met 150 km en dié van die 50 met 95 km verleng word as die battery deur ‘n gelykstroom-snellaaistasie gelaai word. Dit duur net tien minute. Die reeks sal later uitgebrei word met die bekendstelling van die iX M 60, wat na verwagting toegerus sal word met ‘n kragbron wat 440 kW lewer.

Die nuwe iX is die eerste BMW wat die nuwe iDrive-stelsel gebruik; dit verander die  wisselwerking tussen die voertuig en die bestuurder in ‘n natuurlike dialoog.  Dit is ontwerp met ‘n duidelike fokus op die raakskerm-werking van die BMW Curved Display en op verbale kommunikasie met die BMW Intelligent Personal Assistant wat ook omvattend verbeter is. Die BMW Curved Display is ten volle digitaal wat uit ‘n vertoonpaneel van 12,3 duim bestaan, saam met ‘n diagonale skerm van 14,9 wat na die bestuurder gedraai is. Die digitale persoonlike assistent beskik oor nuwe funksies en gebruik nuwe grafika wanneer daar met die insittendes gekommunikeer word. Die nuwe My Modes vermeerder die verstellings van die voertuig wat gekies kan word en die programmatuur kan bygewerk word; ook deur die internet. Daar is ‘n navigasiestelsel wat die bestuurder help om ‘n roete te beplan en sy of haar pad te vind. Die gebruik van 5G-tegnologie vir die oordrag van data en die vermoë om ‘n persoonlike mobiele rekening te skep deur die persoonlike eSIM versterk die iX se status as baanbreker in sy segment. Die outomatiese klimaatbeheer spog met ‘n filter wat die lug suiwer en word deur middel van die raakskerm beheer.  Die stelsel kombineer ventilasie van die binneruim met die verhitting van die sitplekke en die stuurwiel om so ‘n gemaklike omgewing as moontlik vir alle insittendes te verseker. Daar is ook ‘n Bowers & Wilkins Diamond-rondomklankstelsel met luidsprekers in die kopstutte teen ekstra koste beskikbaar. Hoewel ‘n elektriese motor van nature stil is, spog die iX met ‘n spesiaal gekomponeerde nagemaakte enjinklank wat outentieke terugvoer geein reaksie op die beweging van die versnellerpedaal. Daar is ook nuwe klankvariante wat deur Hans Zimmer, wat bekend is vir rolprentmusiek, gekomponeer is. 

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n muurgemonteerde laaier, gratis herlaaiing by BMW-laaistasies en ‘n jaar se gratis versekering insluit, lyk só:

iX XDrive 40: R 1 650 000

iX XDrive 50: R 2 175 000

%d bloggers like this: