Breaking News

BMW se M3 en M4 nou in Suid-Afrika beskikbaar

In 1986 het BMW die M3 vir die eerste keer internasionaal bekendgestel.

Hierdie model was nie in Suid-Afrika beskikbaar nie, aangesien dit net in linkerhand-stuur vervaardig is. Suid-Afrika het egter in 1993 vir die eerste keer met die M3 kennis gemaak toe die volgende geslag op die mark gekom het.

Sedertdien het die M 3 ‘n gunsteling onder motorgees-driftiges geword, en die jongste weergawe van die M3-sedan en die M4-koepee is pas in Suid-Afrika bekendgestel. BMW Suid-Afrika het besluit om net die Competition-weergawes van albei modelle hier op die mark te bring.

Die uitstaande stilerings-kenmerk van albei modelle is die groot nuwe sierrooster, wat vir die eerste keer op die nuwe 4-reeks koepee te sien was. Hierdie rooster verskil egter effens van dié van die 4-reeks en beskik oor modelspesifieke vertikale stawe. Aanpasbare lidgiode-kopligte is standaard toerusting terwyl Laserlight-ligte teen ekstra koste beskikbaar is. Daar is uitgeboude modderskerms en modelspesifieke luguitlate agter die voorstes. Die dak van albei modelle is gemaak van plastiek wat deur koolvesel versterk word, maar ‘n dak wat van staal gemaak is, is beskikbaar teen geen ekstra koste nie. Aan die agterkant is daar ‘n drukvlerk en twee pare uitlaatpype, wat ‘n kenmerk van elke M-model is.  In die Competition word dit in swart chroom afgewerk. 

Die Competition-weergawes van die M3 en M4 word aangedryf deur ‘n drie-liter enjin met ses silinders en twee turboaanjaers, asook VALVETRONIC wisselende kleptyd-reëling en Double VANOS-wisselende nokastyd-reëling. Hierdie enjin, wat aan die Euro 6d-besoedelings-vereistes voldoen, lewer 375 kW teen 6 250 opm en wringkrag van 650 Nm teen tussen 2 750 en 5 500 opm. Die ander groot verskille tussen die gewone modelle wat nie hier beskikbaar sal wees nie en die Competition is dat die Competition die M X Drive -vierwiel-aandrywing stelsel en die M Steptronic agt-gang ratkas met ratspane agter die stuurwiel as standaard toerusting het. Die Drivelogic-knoppie op die ratkieser kan gedruk word om tussen ‘n geriefs-, sport- of renbaanspesifieke modus te kies. Dit kan  in die handrat- of outomatiese funksie gedoen word. Albei modelle se topsnelheid word beperk tot 250 km/h, maar wanneer die opsionele M-bestuuderspakket gekies word, word dit na 290 km/h verhoog. Die X Drive-stelsel beskik oor drie verstellings, 4 WD, 4 WD Sport en 2 WD, wat die stabiliteits-beheer deaktiveer en natuurlik net agterwiel-aandrywing bied. Verder beskik albei modelle oor die aanpasbare M-veerstelsel met elektronies beheerde skokbrekers en M-spesifieke veranderinge aan die voor- en agteras. Daar is ook ‘n nuwe geïntegreerde remstelsel emt twee verstellings wat die gevoel en reaksie van die rempedaal verander. M-saamgestelde remme is standaard toerusting en M-keramiek-remme is teen ekstra koste beskikbaar. Albei modelle word met 19 duim-wiele voor en 20-duim wiele agter toegerus en hoëverrigtings-bande is opsioneel beskikbaar. 

Aan die binnekant is daar ‘n stuur-kajuit met M-spesifieke vertoonpanele en kontroles. Nuut ontwikkelde M-sportsitplekke met Merino-leerbekleedsel is standaard toerusting, en is met ventilasie beskikbaar, terwyl M Carbon-skottel-sitplekke opsioneel beskikbaar is. Hierdie sitplekke bevat geïntegreerde kopstutte wat verwyder kan word wanneer daar om ‘n renbaan gejaag word. Daar is ‘n instellingsknoppie waarmee die bestuurder regstreekse toegang tot die instellings vir die enjin, stuurstelsel, onderstel en remstelsel kan kry, asook die M xDrive-stelsel, ratwisselhulp en vastrapbeheer. 

Twee verskillende instellings kan geaktiveer word deur die M-knoppies op die stuurwiel te druk. Daar is drie M-modusse om van te kies, naamlik Road, Sport en M Drove Professional, wat ‘n renbaan-modus insluit. Wanneer die Road-modus gekies word, word al die bestuurs-hulpmiddels wat standard toerusting is, of as opsionele ekstras aangebring word, geaktiveer. Met die Sport-modus word alle ingrypings van die stuur- en remstelsel gedeaktiveer met die uitsondering van die voorbots-waarskuwing. Die inligting op die instrumente-paneel en die paneel tussen die voorruit en die instrumente-paneel gee net inligting wat vir sportiewe bestuur belangrik is, onder meer ‘n digitale spoedmeter, die rat wat gekies is, verkoeler-temperatuur, die toestand van die motor se bande, asook besonderhede van die motor se versnelling. 

Wanneer die motor met  M Drive Professional toegerus word, kan die Track-modus ook gekies word. Dit is net bedoel vir wanneer daar om ‘n renbaan gejaag word. Die inligting wat op die instrumente-paneel vertoon word, sluit onder meer ‘n rondtetyd-meter, en wegbreek-ontleder (drift analyser) in, asook M -vastrapbeheer en sorg vir ‘n besondere verrigtingservaring op die renbaan.  Driesone-klimaatbeheer, atmosfeerbeligting, ‘n klankstelsel met ‘n hoëtrouluid-sprekerstelsel en gevorderde slimfoon-integrasie met Android Auto en Apple Car Play is alles ook standaard toerusting. Voornemende kopers kan ‘n Harman Kardon-klankstelsel met 16 luidsprekers kies, asook ‘n BMW Display Key, wat die motor se brandstofvlak, versienings-inligting en toegang tot afstand-beheerdienste bied. 

Albei modelle word toegerus met ‘n aantal belangrike bestuurs-hulpmiddels, onder meer parkeersensors, voorbots-waarskuwing, inligting oor snelheidsperke en baandwaal-waarskuwing, terwyl ‘n navigasiestelsel, parkeerhulp, wat tru-hulp insluit, baanhouhulp, en ‘n paneel tussen die voorruit en die instrumente-paneel wat M-spesifieke inligting gee, opsionele ekstras is.  Nog ‘n opsionele ekstra wat voornemende kopers kan kies, is die M Race Track-pakket, met  M Carbon-keramiekremme, ligter allooiwiele wat ook met semi-gladde bande beskikbaar is, M Carbon-skottelsitplekke vir die bestuurder en voorste passasier en ‘n topsnelheid wat tot 290 km/h verhoog word. Die hele pakket maak die motor 25 kg ligter. 

Die pryse van die M3 Competition en die M4 Competition, wat ‘n volle onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km insluit, is R 1 860 000 en R 1 940 000 onderskeidelik.

%d bloggers like this: