Breaking News

BMW se Z4 is terug

Deur die jare het BMW ‘n tradisie van oopdak-sportmotors met twee sitplekke gehandhaaf, en dié Duitse vervaardiger het pas sy jongste mededinger in hierdie marksegment in Suid-Afrika bekendgestel.

Die derde geslag van die BMW Z4 is nou in Suid-Afrika beskikbaar, en die reeks bestaan uit twee modelle; naamlik die sDrive 20i en die verrigtingsmodel, die M 40i. Die nuwe Z4 deel sy platform met die Toyota GR Supra, wat later vanjaar in Suid-Afrika verwag word.

Die nuweling is langer, breër en hoër as sy voorganger, maar sy asafstand is met 26 mm verkort. Dit, asook die groter spoorwydte is daarop gemik om sy hantering te verbeter. Die struktuur van die bakwerk en die monterings van die onderstel is uiters stewig en die nuwe ontwerp van die voor- en agterasse maak dat die motor se hantering terselfdetyd sportief en gemaklik is. Die sportiewe aard van die nuwe Z4 word versterk deur die sentrale sitplekposisie, die lae swaartepunt, die perfekte massaver-spreidings verhouding van 50:50 en massaver-mindering.

Die nuwe Z4 het ‘n lae, sportiewe en kompakte voorkoms, ongeag of die seildak op- of afgeslaan is. Die kenmerkende BMW-niertjiesierrooster het ‘n gaasontwerp en vir die eerste keer is daar vertikale kopligte. Dit gee die motor ‘n onmiskenbare voorkoms. Die Z4 het LED-kopligte as standaard toerusting, en aanpasbare LED-kopligte met ‘n matriksfunksie is opsioneel beskikbaar. Die enjinkap vou oor die voorste modderskerms, soos wat die geval met soveel sportmotors is en ‘n karakterlyn loop van die luguitlaat tussen die voorste modderskerms en die deure tot heel agter. Die agteraansig word genenmerk deur L-vormige agterligte, ‘n geïntegreerde drukvlerk op die bagasiebak-deksel en ‘n groot lugverdeler in die agterstamper. Daar is vyf bakkleure om van te kies, en ‘n swart seildak, wat binne tien sekondes teen snelhede van tot 50 km/h oop- of toegemaak kan word, is standaardtoerusting.

Die binneruim van die Z4 is ontwerp om so bestuursgenot te verseker, en die voorsitplekke word met geïntegreerde kopstutte toegerus. Die M 40i se bekleedsel is ‘n kombinasie van leer en Alcantara. Daar is bekerhouers onder die middelste armeluning, bêreplek agter die sitplekke en groot deursakke en die bagasiebak, wat 281 liter hou ongeag of die dak op- of afgeslaan is, is 50% groter as voorheen. Die splinternuwe volle digitale instrumente-paneel kan volgens die bestuurder se behoeftes aangepas word.

Daar is twee enjins vir die nuwe X4 beskikbaar. Die intreemodel is die sDrive 20i, wat toegerus word met ‘n turbo-aangejaagde tweeliter-enjin met vier silinders. Hierdie enjin, met ‘n agtgang- Steptronic- ratkas as standaard toerusting, lewer 145 kW teen tussen 4 500 en 6 500 opm en wringkrag van 320 Nm teen tussen 1 450 en 4 500 opm. Die SDrive 20i kan ‘n topsnelheid van 240m km/h behaal en binne 6,6 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel. Die topmodel in die reeks is die M 40i, wat toegerus word met ‘n turbo-aangejaagde ses-silinder enjin van drie liter, wat 250 kW teen tussen 5 000 en 6 500 opm en wringkrag van 500 Nm teen tussen 1 600 en 4 500 opm. Die M 40i kan binne 4,6 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel en sy topsnelheid word elektronies tot 250 km/h beperk.

Die M 40i het ‘n aanpasbare M Sport-veerstelsel as standaard toerusting, asook ‘n elektronies beheerde M Sport-ewenaar; dit alles voer dié model se hanterings vermoë na nuwe hoogtes. Die bestuurder kan een van drie bestuurs-modusse met die Driver Experience Control-skakelaar kies,naamlik Comfort, Sport en Sport +. Die SDrive 20i en M 40i het allooiwiele van onderskeidelik agttien en negentien  duim, almal met verskillende band-groottes voor en agter, as standaard toerusting, maar verskillende negentienduim-ontwerpe is opsioneel beskikbaar.

 

Verskeie veiligheids kenmerke en bestuurs hulpmiddels is standaard toerusting, onder meer ‘n voorbots-waarskuwing, ‘n voertganger waarskuwing met stads-remhulp en ‘n baand-waal monitor is alles standaard toerusting. Aktiewe parkeersensors en ‘n trukamera help die bestuurder verder. Dit vorm deel van die parkeerhulpstelsel en beheer die stuurwerk, ratwisseling, remming en versnelling wanneer die motor geparkeer word en wanneer die motor ‘n parkeerruimte verlaat. Daar is ook ‘n aantal bykomende kenmerke wat opsioneel beskikbaar is, onder meer ‘n uitleespaneel tussen die instrumentepaneel en die voorruit, spoed beperkings-waarskuwing, ‘n band-drukmonitor en ‘n botsings-waarskuwing agter.

Die pryse van die verskillende modelle in die Z4-reeks is R 755 900 vir die SDrive 20i en R 1030 500 vir die M 40i. Die SDrive 20i is ook as ‘n M Sport-model beskikbaar teen R 779 100. Die M Sport spog met verskeie bykomende kenmerke soos sportvering, ‘n M Sport-stuurwiel, swart hoëglans-afwerking vir die binnekant en sportsitplekke. Verskeie opsionele ekstras is teen ekstra koste beskikbaar. Die reeks word gerugsteun deur BMW se Motorplan wat vir vyf jaar of 100 000km geldig is, maar teen ekstra koste na 200 000km verleng kan word.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: