Breaking News

Wesbank-brandstofbesparingsrit 2019

Wie onthou nog die Total-besparingsrit, wat sedert die laat 1970’s ‘n jaarlikse instelling was? Die resultate wat met die eertydse Total Brandstofbesparingsrit verkry was, was ‘n goeie maatstaf van wat die motoris van sy motor se brandstofverbruik kan verwag.

Aangesien die meeste brandstofverbruiksyfers deesdae onder laboratoriumtoestande getoets word en sekere motorpublikasies wel hul eie  toetse uitvoer, was daar tog ‘n behoefte om brandstofverbruiksyfers onder alledaagse bestuurstoestande te bepaal.

Tussen 12 en 16 November gaan ‘n soortgelyke besparingsrit as die Total Brandstofbesparingsrit, in samewerking met WesBank en FNB plaasvind. Met die nuwe WesBank-brandstofbesparingstoer  sal deelnemers ‘n afstand van altesaam 2 500 km in vyf provinsies aflê.  Hulle sal van Johannesburg oor Durban, Oos-Londen, Port Elizabeth en George na Kaapstad reis.

Met hierdie toer sal al die motors oor dieselfde roete getoets word, op dieselfde tyd van die dag, een onder dieselfde weersomstandighede. Die verbruiksyfers van soortgelyke voertuie kan regstreeks met mekaar vergelyk word; dit sal voornemende kopers help om ‘n meer ingeligte besluit te neem wanneer ‘n nuwe of gebruikte voertuig gekoop word.

Ford SA het ‘n Ranger XLT Dubbelkajuit en ‘n Ford Kuga 1.5 TDCi vir die besparingsrit ingeskryf.

Volgens die hoof-organiseerder, mnr Charl Wilken, is daar altesaam veertig motors van twaalf vervaardigers wat vanjaar op ‘n interessante roete met verskeie hoofpaaie sal deelneem en deur twee hoofborge, WesBank en FNB ondersteun word. Die oogmerk is om verbruiksyfers aan Suid-Afrikaanse motors wat dalk lang reise op hoofpaaie wil aflê te voorsien.

Honda SA het onder andere die Honda BR-V 1.5 Trend, met die dames-span, Lune Strydom (as bestuurder) en Larissa Strydom (as navigator), ingeskryf.

Die twaalf vervaardigers wat deelneem, is Fiat, Ford, Hyundai, Kia, Lexus, Mahindra, Mitsubishi, Nissan, Renault, Suzuki en Toyota. Die nuutgestigte Motus-groep het vier motors, wat deur motorjoernaliste bestuur sal word, ingeskryf.

Die deelnemende motors sal in verskillende klasse ingedeel word, gegrond op faktore soos petrol- of dieselenjins, turbolose en turbo-aangejaagde motors en hibriede-motors. Die enigste hibriede-motor wat sal deelneem, is ‘n Lexus UX, wat deur Khukelani Dumisa en Sala Masindane bestuur sal word. Die bestuurders en navigators verteenwoordig ‘n uiteenlopende spektrum, met albei geslagte en persone van verskillende agtergronde.  Daar is ook twee spanne van Uganda wat al voorheen aan die Afrika-tydrenkampioenskap deelgeneem het; Joseph Wasiwa en Jared Calera sal met ‘n Hyundai Tucson 2,0 D deelneem en  Ketende Muklibi en Jeff Kabagambe met ‘n Toyota RAV 4 2,0 GX. Daar sal ook twee ondersteuningsvoertuie wees en dertien voertuie wat deur die organiseerders gebruik word; dit maak dat altesaam 55 voertuie deel van die besparingsrit sal uitmaak.

Ctrack, ‘n vervaardiger van voertuigopsporingstelsels , sal die voertuie dophou, veral om seker te maak hulle die verkeersreëls gehoorsaam en by die vasgestelde roete en tydskedules hou. Daarby sal Ctrack al die deelnemende voertuie met opsporingstoestelle toerus  en elkeen kry ‘n paneelbordkamera om die bestuurders se gedrag dop te hou.

Die motors sal op 12 November vanaf WesBank se hoofkantoor in Fairland, Johannesburg, vertrek.

Die toer sal ook ‘n sosiale verantwoordelikheidsprojek behels; dit sal by twee plattelandse skole, naamlik op 12 November in  Pietermaritzburg en die volgende dag in Butterworth in die Oos-Kaap plaasvind.  Boeke en sporttoerusting ter waarde van ongeveer R 100 000 is deur Honda, Hyundai, Mitsubishi, Nissan, Renault, Suzuki en Toyota geskenk, en dit sal op hierdie twee dae aan die skole geskenk word.  Hierdie projek, om boeke en sporttoerusting aan plattelandse skole te voorsien, word bedryf deur READ Educational Trust, ‘n Suid-Afrikaanse nie-regeringsorganisasie wat al 22 jaar lank bedrywig is.

 

 

%d bloggers like this: