Breaking News

Padindrukke: Suzuki Vitara Brezza 1,5 GLX

Prys: R 289 900
Maksimum kraglewering: 77 kW @ 6 000 opm
Wringkrag: 136 Nm @ 4 400 opm
Enjinkapasiteit: 1 462 cm³
Ons hou van: Goeie toerustingsvlalk, omvattende waaborg en diensplan, moontlike lae onderhoudskostes Ons hou nie van: Net twee lugsakke, gebrek aan stabiliteitsbeheer

 

In 1988 het Suzuki ‘n splinternuwe marksegment geskep met die bekendstelling van die oorspronklike Vitara, ‘n kompakte veldryer met ‘n laestrekratkas en ‘n keuse tussen twee deure met ‘n afslaankap en ‘n vierdeurstasiewa.

Toe die tweede geslag Vitara in 1998 op die mark gekom het, het hy tot so ‘n mate gegroei dat hy in ‘n splinternuwe segement meegeding het, en hy het natuurlik ook duurder geword. Daarom het Suzuki die Vitara Brezza in 2016 in Indië bekendgestel, en nadat hy in 2020 omvattend opgeknap is, is hy onlangs ook in Suid-Afrika bekendgestel. Ons het die vlagskip van die reeks, die GLX, getoets.

Die Vitara Brezza volg die moderne ontwerp-rigting van Suzuki se sportnutsvoertuie, en die chroom-sierrooster met ligdiode-projektorkopligte aan weerskante trek dadelik die aandag. Die GLX word toegerus met mooi diamantsnit-allooiwiele met Apollo 215/65 R 16-bande en (dankie tog!) ‘n volgrootte noodwiel onder die bagasieruim se vloer. Die donkergrys kleur van die toetsmotor het uiters deftig gelyk, maar is moeilik om skoon te hou en nie so sigbaar in die nag nie. Aan die agterkant is daar ‘n chroomstrook met die “Vitara Brezza”-benaming tussen die agterligte, maar die GLX-kenteken kom nêrens voor nie.

Aan die binnekant is daar omtrent alles wat ‘n mens van ‘n voertuig in hierdie segment kan verwag. Dit is maklik om Bluetooth en Apple Car Play of Android Auto te koppel, en daar is genoeg plek vir ‘n selfoon voor die rathefboom, waar die USB-, AUX- en 12 volt-kragpunte geleë is.

Die GLX word toegerus met ‘n armleuning tussen die voorsitplekke wat ‘n paneelkissie bevat, maar dit is ongelukkig effens klein, en daar is hoogstens plek vir ‘n bos sleutels of ander kleiner items en ‘n selfoon sal net regop daarin pas, wat beteken dat dit nie daarin gebêre kan word terwyl dit gelaai word nie. Daar is vier bekerhouers voor, een in elk van die deure en twee regs van die handrem langs die bestuurder se sitplek. Die instrumentepaneel bevat ‘n spoedmeter en toereteller met elliptiese vorms en vertikale digitale brandstof-en temperatuurmeters. Die uitleespaneel tussenin bevat die inligting vir die ritrekenaar, onder meer oombliklike en gemiddelde brandstofverbruik asook die afstand wat nog met die brandstof in die tenk afgelê kan word. Een kenmerk waarvan ons baie hou, is die feit dat laasgenoemde twee syfers ook op die raakskerm vertoon kan word; gewoonlik is daar ‘n wyserhorlosie, maar as ‘n mens met jou vinger na regs vee, word daardie inligting gegee. Die raakskerm self bevat ook ‘n trukamera, en die kontroles vir die klankstelsel kan hiermee, of met die knoppies op die leeroorgetrekte veelfunksiestuurwiel beheer word.  Die GLX word met kenmerke soos outomatiese ruitveërs en kopligte, spoedbeheer, voorste misligte, buitspieëls wat outomaties invou as die motor gesluit word, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie en ‘n verkoelde boonste paneelkissie toegerus.

Die hele Vitara Brezza-reeks word aangedryf deur ‘n 1,5 liter-enjin met vier silinders wat 77 kW teen 6 000 opm opwek. Dit het ‘n wringkrag van 138 Nm teen 4 400 opm. Die toetsmodel wass toegerus met die vyfgang-handratkas. Suzuki Auto SA moes kritiek verduur omdat die opsionele outomatiese ratkas slegs vier gange het, maar die vraag is of meer as vier gange regtig nodig is? Hoe ook al, dit is maklik om die handratmodel te bestuur; die kontroles is lekker lig, en ratwisseling is vining en maklik. Daar is hoegenaamd niks met sy padhouvermoë of rygerief verkeerd nie, en al die veiligheidskenmerke wat ‘n mens kan verwag, is standaardtoerusting, hoewel sommige mense dalk meer as twee lugsakke sou verkies.  Daarby is stabiliteitsbeheer ook nie beskikbaar nie. Die gemiddelde brandstofverbruik wat ons behaal het, was tussen 6,8 en 7,3 liter per 100 km, wat ‘n reikafstand van ongeveer 700 km op die 48 liter-brandstoftenk moontlik maak. Daar is sommige teenstanders wat dalk beter brandstofverbruik bied, maar sommige van hulle word toegerus met klein turbo-aangejaagde enjins wat noukeurige onderhoud verg  en ons weet nog nie hoe betroubaar hulle op die lang termyn sal wees nie. Die topsnelheid van 170 km/h is heeltemal voldoende.

 

Mededingers

Daar is geen gebrek aan mededingers in hierdie segment nie, en nóg twee word in die nabye toekoms bekendgestel. Natuurlik is die vernaamste een, wat ook ‘n groot invloed op sy verkope sal hê, die Toyota Urban Cruiser, wat op die Brezza gebaseer is. Die Urban Cruiser het twee voordele; die grootste handelaarsnetwerk in die bedryf en Wi Fi-toegang binne die motor, wat vir jong, byderwetse kopers uiters belangrik is en deurslaggewend in ‘n koopbesluit kan wees. Suzuki se waarborg en diensplan is beter, en die feit dat Suzuki Auto SA die een verkoopsrekord na die ander opstel, is ‘n aanduiding dat die Suid-Afrikaanse publiek van Suzuki motors hou.  Die Urban Cruiser XR, met dieselfde spesifikasievlak as die toetsmodel, is ook R 5 000 duurder. Daarom wonder ons of die Urban Cruiser XS, teen R 267 900, nie dalk beter waarde vir geld bied nie. Die XS beskik oor die meeste van die Vitara Brezza GLX se standaardkenmerke en sy prys is uiters aantreklik.

Die Honda W-RV is onlangs in Suid-Afrika bekendgestel, maar die Elegance, wat naastenby dieselfde spesifikasievlak as die Vitara Brezza GLX het, kos R 319 900, en ‘n mens wonder of die 1,2 liter enjin sonder ‘n turbo-aanjaer nie dalk te lig in die broek is nie.

Die Ford Eco Sport is goed gevestig in die mark, en is reeds sedert 2013 ‘n gunsteling onder plaaslike kopers. Ongelukkig is net die intreemodel vergelykbaar met die Brezza; die Ambiente word met ‘n 1,5 liter-enjin sonder ‘n turbo aangedryf, en sy prys is R 297 400, maar hy is nie goed genoeg toegerus nie.

Die Haval H2 beïndruk en die huidige City-handrat, wat R 294 900 kos, is ‘n baie beter kopie as die oorspronklike model, maar ons het gerugte oor die H2 se toekoms gehoor. As dit egter beteken dat spesiale aanbiedinge by handelaars beskikbaar sal wees, kan ‘n mens hom oorweeg, al is sy brandstofverbruik nie so goed soos selfs dié van die Brezza nie.

Die een mededinger wat beslis die ondersoek werd is, en groot byval by die publiek gevind het, is die Hyundai Venue. Die intreevlakmodel, die Motion, kos R 297 500, maar dis beter om R 10 000 meer te betaal vir die een wat met ‘n beter inlingting-en-vermaakstelsel toegerus word. Hyundai se waarborg is ook die heel beste in die bedryf, maar soos ons gesê het, is ons nog nie seker hoe betroubaar sy turboaangejaagde eenliterenjin op die lang termyn sal wees nie.

 

Gevolgtrekking

Die Vitara Brezza is ‘n uiters aantreklike voertuig wat groot genoeg vir ‘n gesin is, maar steeds maklik is om in die stad te hanteer. Daarby is hy uiters geskik vir langer afstande, en vier mense asook hul bagasie sal maklik inpas. Dis maklik om te verstaan hoekom klein oorkruisvoertuie soos hierdie een in gewildheid toegeneem het, want hulle is meer veelsydig as ‘n vergelykbare luikrug sonder om lomp of groot te wees, en hulle bied voldoende ruimte vir die meeste mense. Die enigste problem is natuurlik die samewerkingsooreenkoms tussen Toyota en Suzuki, wat beteken dat twee vervaardigers ‘n model wat vir alle praktiese doeleindes dieselfde is, in hul reeks het. Ons het gesien dat die Toyota Starlet baie beter as die Suzuki Baleno verkoop, veral as gevolg van Toyota se goeie reputasie en die groot handelaarsnetwerk waarteen geen vervaardiger kan meeding nie.  Ons glo egter dat die verskil in verkope tussen die Vitara Brezza en die Urban Cruiser kleiner sal wees. Suzuki het met ‘n wenner vorendag gekom; die waarborg van vyf jaar of 200 000 km en die diensplan van vier jaar of 60 000 km maak van hom ‘n uitstekende keuse vir die denkende voornemende koper wat nie noodwendig ‘n voorkeur vir ‘n bepaalde kenteken het nie en enige motor met ‘n oop gemoed benader. Ons kan hom met groot vrymoedigheid aanbeveel en ons glo dat hy, saam met die Urban Cruiser, hierdie segment sal oorheers.

%d bloggers like this: