Breaking News

Chery brei sy plaaslike reeks uit met Tiggo 8 Pro

Skaars drie maande nadat Chery na Suid-Afrika teruggekeer het, het dié Chinese vervaardiger pas die tweede model in sy Suid-Afrikaanse reeks bekendgestel.

Suid-Afrika is die eerste regterhandstuurmark waar die Tiggo 8 Pro beskikbaar is, nadat hy in markte soos Rusland, die Midde-Ooste en Suid-Amerika bekendgestel is. Chery Suid-Afrika was tot dusver baie tevrede met die terugvoer van die media en die publiek met die bekendstelling van die Tiggo 4 Pro teen die einde van 2021; hierdie model is aangewys as een van die finaliste van die Suid-Afrikaanse Motor-van-die-Jaar-kompetisie vir 2022.

Die vooraansig spog met ‘n driedimensionele sierrooster wat deur die sterre in die hemelruim geïnspireer is en beskik oor “chroom-sterre in ‘n swart hemel.” Die volle outomatiese matriks-ligdiodekopligte beskik ook oor dubbele dagryligte en word deur ‘n skouerlyn aan die kant van die voertuig met die agterligte verbind. Daar is ook satynchroom-afwerking aan die voorkant vir die voorste luguitlaat wat ook ‘n skermplaat bevat, asook op die misligte, die rooster, die vensters en die onderkant van die deure. Daar is dakspore wat ‘n vrag kan dra, terwyl die vlagskipmodel met ‘n panoramiese sondak toegerus word. Aan die agterkant is daar ligdiode-agterligte terwyl 18-duim allooiwiele met swart en chroom-afwerking standaardtoerusting vir die hele reeks is.

Aan die binnekant is daar drie skerms wat die belangrikste inligting vertoon. Die instrumentepaneel is ten volle digitaal en beskik oor ‘n skerm van 12,3 duim. Dit bevat nie net die voertuig se instrumentasie nie maar baie van die inligting van die inligting-en-vermaakstelsel en die telefoon word ook hierop vertoon. Dit kan  ook volgens die bestuurder se behoeftes ingestel en aangepas word. Die tweede skerm is agt duim breed en word gebruik om die ten volle outomatiese dubbelsone-klimaatbeheerstelsel te beheer. In die middel van die paneelbord is daar ‘n skerm van 10,25 met hoë definisie vir die inligting-en-vermaakstelsel, wat onder meer Android Auto en Apple Car Play insluit en die beeld van die trukamera vertoon. Stembeheer, ‘n koordlose selfoonlaaier en ‘n Sony-klankstelsel met agt rondomklank-luidsprekers is standaard toerusting vir die hele reeks. Die elektriese bestuurdersitplek beskik oor ses verstellings en die tweede ry sitplekke is in ‘n 60/40-verhouding verdeel. Daar is drie USB-kragpunte dwarsdeur die kajuit en een 12 volt-kragpunt voor. Die hele reeks word met atmosfeer-beligting toegerus.

Ses lugsakke is standaard toerusting vir al die modelle, asook ‘n trukamera, parkeersensors agter  en ‘n 360 grade kamera wat parkering verder vergemaklik. Wegtrek- en afdraandehulp, ‘n banddrukmonitor, die funksie om vensters met die afstandbeheer toe te maak asook sleutellose toegang en ‘n aansitknoppie is standaard toerusting vir die hele reeks. 

Die hele reeks word aangedryf deur ‘n turboaangejaagde 1,6 liter vier-silinder enjin met regstreekse inspuiting wat 145 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 290 Nm teen tussen 2 000 en 4 400 opm lewer; ‘n sewegang dubbelkoppelaar-ratkas is standaard toerusting. 

Daar sal twee spesifikasievlakke beskikbaar wees. Die Distinctive is die intreemodel van die reeks en word met die volgende standaard-kenmerke toegerus: ABS-remme met ekeltroniese remkragverspreiding, ISOFIX-hegpunte vir die middelste ry sitplekke, drie verskillende bestuursmodusse, naamlik Standaard, Eco en Sport, elektries verstelbare en invoubare butespieëls, volg-my-en-lei-my-kopligte, swart leerbekleedsel en  wegtrek- en afrdaandehulp.

Die Executive is die vlagskip van die reeks en voeg die volgende kenmerke by: swart en bruin leerbekleedsel, ‘n panoramiese sondak, verdonkerde vensters, onafhanklike lugversorging vir insittendes in die derde ry, ‘n elektriese voorste passasiersitplek met vier verstellings en ‘n geheuefunksie vir die invoubare buitespieëls. Die Executive se bykomende veiligheidskenmerke sluit die volgende in: outomatiese noodremhulp, aanpasbare spoedbeheer, agterste dwarsverkeermonitor, voorbotswaarskuwing, baandwaal-waarskuwing, kopligte met outomatiese hoëstraalwerking  en padtekenherkenning. Daar is ook ‘n waarskuwing wanneer iemand een van die voertuig se deure wil oopmaak maar dit nie veilig is om dit te doen nie.

Met die bekendstelling van die Tiggo 4 Pro het Chery die eerste vervaardiger geword wat ‘n enjinwaarborg van tien jaar of een miljoen kilometer beskikbaar gestel het. Hierdie waarborg is egter net geldig vir die eerste eienaar en kan nie oorgedra word wanneer die motor verkoop word nie.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ook ‘n fabriekswaarborg van vyf jaar of 150 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 60 000 km asook padbystand van vyf jaar insluit, lyk só:

Tiggo 8 Pro Distinctive: R 496 900

Tiggo 8 Pro Executive: R 546 900

Die Tiggo 8 Pro is nou by Chery se netwerk van 50 handelaars landwyd beskikbaar.

%d bloggers like this: