Breaking News

Chery gou terug in Suid-Afrika

Na ‘n afwesigheid van omtrent drie jaar is die Chinese vervaardiger Chery gereed om na die Suid-Afrikaanse motormark terug te keer.

Die eerste model wat hier bekendgestel sal word, is die Tiggo 4 Pro, terwyl twee verdere modelle, die Tiggo 7 Pro en Tiggo 8 Pro, in 2022 hiet op die mark sal kom. Suid-Afrika is die eerste mark ter wêreld waar die Tiggo 4 Pro in regterhandstuur beskikbaar sal wees. 

Die Tiuggo 4 Pro sal die Suid-Afrikaanse motoriste die eerste aanduiding van Chery se nuwe ontwerprigting gee, met ‘n groot sierrooster, ligdiode-kopligte en dagryligte. Allooiwiele van 16 of 17 duim sal standaardtoerusting wees, afhangende van die model. Die asafstand van die Tiggo 4 Pro is 2 610 mm en dit, tesame met die plasing van die wiele ver uitmekaar, sal by geesdriftige bestuurders byval vind. Die onafhanklike agtervering is in samewerking met Lotus ingestel. 

Twee enjins van 1,5 liter, met of sonder ‘n turboaanjaer, sal beskikbaar wees,  Die enjin sonder die turboaanjaer, wat aan ‘n vyfgang-handratkas of ‘n CVT-ratkas gekoppel word, lewewr 85 kW en 141 Nm se wringkrag. Die turbo-enjin sal ‘n keuse tussen ‘n sesgang-handratkas of ‘n CVT-ratkas bied en 108 kW en 210 Nm se wringkrag lewer.

Alle modelle sal met stabiliteitsbeheer en wegtrekhulp toegerus word, met twee of ses lugsakke, afhangende van die model, en spoedbeheer en afdraandehulp sal standaardtoerusting vir sekere modelle wees.

Die intreemodelle sal met ‘n 3,5 duim TFT-kleurskerm  en ‘n konvensionele instrumentepaneel toegerus wees, terwyl sommige modelle met  ‘n seweduim-TFT-instrumentepaneel wat olgens die bestuurder se behoeftes aangepas kan word, toegerus sal word. Daar is ook ‘n raakskerm van 10,25 duim wat die meeste van die voertuig se funksies sal beheer, en Bluetooth, Android Auto en Apple Car Play insluit. Lugversorging, outomatiese kopligte en  elektriese vensters reg rondom is standaardtoerusting vir alle modelle terwyl sommige modelle met ‘n elektriese sondak, klimaatbeheer en stembeheer toegerus sal word. 

Die reeks sal teen die einde van November bekendgestel word, en verdere besonderhede, soos die pryse, die ligging van die handelaars, waarborge en diensplanne en die samestelling van die reeks, sal dan bekendgemaak word.

%d bloggers like this: