Breaking News

Citroën is terug in Suid-Afrika

Nadat die Franse vervaardiger Citroën in 2016 besluit het om aan die Suid-Afrikaanse mark te onttrek, het hy pas sy terugkeer aangekondig met drie modelreekse wat dadelik beskikbaar is.

Die C3 is ‘n luikrug wat in die B-segment van die mark sal meeding, terwyl die C3 Aircross en C5 Aircross gemik is op diegene wat in ‘n sportnuts-voertuig belangstel.

Die C3 is dalk ‘n B-segment-luikrug, maar sy eiesoortige persoonlikheid word in sy buite-ontwerp weerspieël.  Die bakwerk beskik oor twee kleure en onegag die kleur van die bakwerk is die dak, die buitespieëls en die buitelyne van die misligte rooi. Soos met die C4 Cactus wat tot in 2016 in Suid-Afrika beskikbaar was, is daar breë skermstroke, bekend as Airbumps.  wat die bakwerk teen skade beskerm en daar is ‘n rooi streep op die C-pilaar. Die A-pilare, by die voorruit, is in swart afgewerk. Aan die agterkant is daar 3D-agterligte en die C3-kenteken verskil van dié van die vorige model. Die syfer 3 kom in swart met ‘n chroom agtergrond 

Die binnekant is, volgens die vervaardiger, die ruimste in sy klas en spog met verskeie tegnologiese kenmerke. Die skerm van die bestuurder se slimfoon kan ook op die raakskerm gesien word, en die slimfoon kan met   Apple Car Play, Android Auto en Mirror Link werk. Daar is ‘n raakskerm van sewe duim, ‘n USB-kragpunt, ses luidsprekers en ‘n 12 volt-kragpunt. Die veelfunksie-stuurwiel is met leer oorgetrek. 

Veiligheids-kenmerke soos ABS-remme met elektroniese remverspreiding en noodrem-hulp, vastrap-beheer, wegtrek-hulp, voorste-, kant- en gordyn-lugsakke, ‘n banddruk-monitor en ‘n waarskuwing as die bestuurder se aandag dwaal, is standaard toerusting. Die boodskap sluit  voertuig-identifikasie, die bestuurder se telefoon nommer en die motor se presiese ligging in. Dit waarsku die bestuurder om ‘n blaaskans te neem nadat hy of sy twee ure lank teen ‘n snelheid van 70 km/h of meer bestuur het. 

Daar is twee weergawes van die 1,2 liter Pure Tech-enjin met drie silinders, naamlik met en sonder ‘n turboaanjaer beskikbaar. Die weergawe sonder die turbo-aanjaer lewer 60 kW teen 5 750 opm en wringkrag van 118 Nm teen 2 750 opm.  Hierdie enjin word aan ‘n handratkas met vyf gange gekoppel. Die turbo-aangejaagde weergawe lewer 81 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 205 Nm teen 1 500 opm en word aan ‘n outomatiese ratkas met ses gange gekoppel. 

Daar is twee spesifikasie-vlakke beskikbaar, naamlik die Feel, met die minder kragtige enjin en die handratkas, en die Shine, met die turbo-enjin en die outomatiese ratkas. Die Feel word toegerus met allooi-wiele met 205/55 R 16-bande, rooi elektries verstelbare buitespieëls, ‘n outomatiese lugversorger, elektriese vensters voor, rooi en swart stikwerk op die instrumente-paneel, en ‘n stuurwiel en handrem wat met leer oorgetrek is. Die Shine voeg onder meer die volgende kenmerke by: elektriese vensters agter, outomatiese volg-my-en-lei-my-kopligte, coorste misligte, die Airbump-skermstroke aan die kant van die voertuig en agterste parkeersensors.

Die C3 Aircross is die sportnuts-weergawe van die C3, en sy buitestilering is geïnspireer deur die C-Aircross-konsep wat wat by die Geneefse Motorskou in 2017 vertoon is. Dit is ‘n kompakte sportnuts-voertuig van 4,15 meter en spog met ‘n unieke bakvorm wat hom ‘n besondere persoonlikheid gee. Die grondvry-hoogte en hoë sitposisie onderskei hom van die C3-luikrug. Die horisontale benadering wat met die ontwerp van die kajuit gevolg is, straal ruimte en beskerming uit.  Die kleurvolle dakspore en die C-pilare met ‘n voorkoms wat aan Venesiese blinders herinner, is verdere opvallende kenmerke. Die buitespieëls is in rooi afgewerk, ongeag die motor se kleur. 

Aan die voorkant van die C3 Aircross is kopligte in twee dele; aan die bokant is ligdiode-dagryligte terwyl die hoofligeenheid aan die onderkant is.  Dit is ook waar die misligte geleë is. Daar is ‘n groot luguitlaat en en ‘n skermplaat wat die sportnuts-aard van die C3 Aircross beklemtoon. Die 3D-agterligte bevestig die verbintenis wat die C3 Aircross met die C3 en die C-Aircross-konsep deel. Die agterstamper beskik ook oor ‘n skermplaat. Die C-pilaar aan die kant van die motor agter die agterdeure, is deur die C-Aircross geïnspireer; dit skep ‘n sterk grafiese kontras maar belemmer uitsig hoegenaamd nie. 

Die hele reeks word toegerus met die turbo-aangejaagde Pure Tech-enjin van 1,2 liter met drie silinders. Hierdie enjin, wat aan ‘n outomatiese ratkas met ses ratte gekoppel is, lewer 81 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 205 Nm teen 1 500 opm. 

Die C3 Aircross is beskikbaar in twee modelle, naamlik die Feel en die Shine. Die Feel se standaard-kenmerke sluit die volgende in: allooiwiele op 205/50 R 26-bande, rooi buitespieëls wat elektries verstel en weggevou kan word, ABS-remme met elektroniese remverspreiding en noodrem-hulp, stabiliteits-beheer, agterste parkeer-sensors,  ‘n seweduim-raakskerm met USB- en 12 volt-kragpunte, ‘n veelfunksie-stuurwiel en ‘n aanboord-rekenaar. Die Shine voeg onder meer die volgende kenmerke by: chroom-deurhandvatsels, voorste misligte, volg-my-en-lei-my-kopligte, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, outomatiese lugversorging, ‘n agterste banksitplek wat vorentoe en agtertoe kan skuif, Mirror Screen-tegnologie vir die raakskerm en sateliet-navigasie.

Die vlagskip van die huidige Suid-Afrikaanse reeks is die C5 Aircross, volgens die vervaardiger die gemaklikste sportnuts-voertuig in sy klas.  Die vooraansig beskik oor ‘n breë sierrooster en gesplete kopligte. Aan die kant is daar Airbump-geënspireerde skermstroke onder aan die deure en swart A-B-en C-pilare. Daar is drie bakkleure om van te kies, naamlik wit, silwer en grys en die grys dakspore en grondvryhoogte van 230 mm beklemtoon sy sportnuts-aard. Die veerstelsel is spesifiek deur Citroën vir die C5 Aircross ontwikkel; dit bevat spesiale hidrouliese kussings aan albei kante wat progressiewe en beheerde beweging van die veerstelsel moontlik maak.  Die gedagte met dié veerstelsel is om ‘n gemaklike rit te verseker, ongeag die padoppervlakte. 

Die sitplekke is ook só ontwikkel dat dit die gevoel van ‘n gemakstoel nadoen.  Die agtersitplekke is in drie verdeel en al drie dele kan afsonderlik vorentoe of agtertoe geskuif, teruggelê of platgevou word.  Daar is ‘n digitale instrumente-paneel van 12,3 duim asook ‘n raakskerm van agt duim in die middel-konsole met Bluetooth- en Mirror Screen-verbinding, ‘n USB- en 12 volt-kragpunt en ses luidsprekers. 

Die hele C5 Aircross-reeks spog met veiligheids-kenmerke soos voorste-, kant- en gordyn-lugsakke, vastrap- en stabiliteitsbeheer, wegtrekhulp, ‘n banddruk-monitor, ‘n sensor wat moegheid by die bestuurder bespeur en hom of haar waarsku om ‘n ruskans te neem, ‘n elektriese parkeerrem en parkeer-sensors.

Albei C 5 Aircross-modelle word toegerus met ‘n turbo-aangejaagde petrol-enjin van 1,6 liter met vier silinders. Hierdie enjin, wat aan die Citroën EAT6-outomatiese ratkas met ses gange gekoppel word, lewer121 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 240 Nm teen 1 400 opm. 

Soos met die ander twee modelreekse is daar twee spesifikasievlakke beskikbaar, naamlik die Feel en die Shine. Die Feel is weer eens die intreemodel en spog met kenmerke soos allooi-wiele op 235/55 R 18-bande, elektries verstelbare en wegboubare buitespieëls, Airbump-skermstroke, outomatiese volg-my-en-lei-my-kopligte, ligdiode-dagryligte, ratspane agter die stuurwiel, outomatiese ruitveërs, klimaat beheer en programeerbare spoed beheer. Die Shine voeg onder meer die volgende kenmerke by: blindekol-monitor, baandwaal-waardskuwing, ‘n trukamera, sleutellose toegang, ‘n koordlose laaier, halwe leerbek-leedsel en voorbots-waarskuwing met aktiewe rembystand.

Citroën het belowe om uitsonderlike naverkoopdiens vir sy hele reeks te bied; dit sluit vir volgende in: ‘n waarborg en diensplan van vyf jaar of 100 000km, padbystand, herinnerings-kennisgewings vir wanneer die motor se lisiensie hernieu moet word en wanneer die waarborg en diensplan verval, en ‘n kontaksentrum wat 24 uur oop is. 

Só lyk die pryse van die verskillende modelle:

 

C3 1,2 Pure Tech Feel: R 239 900

C3 1,2 Pure Tech Shine Turbo Auto: R 289 900

C3 Aircross Pure Tech Feel Turbo Auto: R 339 900

C3 Aircross Pure Tech Shine Turbo Auto: R 359 900

C5 Aircross Feel 1,6 THP Turbo: R 469 900

C5 Aircross Shine 1,6 THP Turbo: R 509 900

%d bloggers like this: