Breaking News

Citroën se opgekikkerde C3-reeks nou volledig

Sedert sy bekendstelling in November 2016 is daar reeds 3 miljoen eenhede van die derde geslag Citroën C3 verkoop, en toe dié Franse vervaardiger teen die einde van 2019 na Suid-Afrika teruggekeer het , was dit een van die modelle wat hier bekendgestel is.

In Maart vanjaar het Peugeot Citroën Suid-Afrika die intreemodel van die opgeknapte C3-reeks, die Feel, hier bekendgestel en die Shine, die topmodel van die reeks, is pas bygevoeg.  Die nuwe reeks spog met Citroën se huidige vooraansig, en daar is meer geleenthede om die motor by die eienaar se voorkeure aan te pas. 

Die Feel word aangedryf deur ‘n 1,2 liter Pure Tech driesilinderenjin wat 60 kW teen 5 750 opm en wringkrag van 118 Nm teen 2 750 opm lewer en aan ‘n vyfgang-handratkas gekoppel word. Volgens die vervaardiger is sy gemiddelde brandsof-verbruik 5.7 liter per 100 km, en ‘n topsnelheid van 169 km/h kan bereik word. Die Feel word met onder meer die volgende standaard kenmerke toegerus: 15 duim staalwiele met volle wieldoppe, ‘n staal-noodwiel wat byna so groot soos die gewone wiele is, elektries verstelbare buitespieëls, ligdiode-kopligte met dagryligte, outomatiese lugversorging, elektriese vensters voor, ‘n vyfduim-skerm vir die klankstelsel, met Bluetooth-verbinding en ‘n veelfunksiestuurwiel en ‘n ritrekenaar. 

Die Shine se enjin word met ‘n turboaanjaer toegerus en ‘n outomatiese ratkas met ses gange is standaard toerusting. Sy kraglewering is 81 kW teen 5 500 opm en sy wringkrag 205 Nm teen 1 500 opm.  Sy bykomende standaard kenmerke sluit die volgende in: 16 duim allooiwiele, breë skermstroke aan die kante , bekend as Airbumps, wat die bakwerk teen geringe skade beskerm, buitespieëls wat met die druk van ‘n knoppie ingevou kan word, outomatiese kopligte met ‘n volg-my-en-lei-my-funksie, outomatiese ruitveërs, elektriese vensters agter, ‘n seweduim-raakskerm met USB- en 12 volt-kragpunte, Android Auto, Apple Car Play en Mirror Screen, wat die skerm van die gebruiker se selfoon op die motor se raakskerm weerspieël.

Die volgende veiligheidskenmerke is standaard toerusting vir die hele reeks: ABS-remme met noodremhulp, stabiliteits- en vastrapbeheer, voorste-, kant- en gordyn-lugsakke, baandwaal-waarskuwing en ‘n banddrukmonitor. Die Shine word ook met agterste parkeersensors toegerus. 

Altesaam ses kleure is vir die nuwe reeks beskikbaar, met die keuse van ‘n wit of swart dak. Die swart dak is egter nie vir ‘n blou motor beskikbaar nie. 

Albei modelle word gerugsteun deur ‘n waarborg van vyf jaar of 100 000 km en ‘n diensplan van drie jaar of 60 000 km. Verder is daar voordele soos ‘n hoflikheids-motor en ‘n onderdele-mandjie, terwyl die handelaar die motor se algehele toestand gratis nagaan. Microdot maak die identifisering van die motor makliker indien dit gesteel sou word. Die eienaar word ook in kennis gestel as die motor se lisensie gaan verval en padbystand word gebied indien nodig. 

Die pryse van die nuwe C3-modelle is onderskeidelik R 269 900 vir die Feel en R 324 900 vir die Shine.

 

%d bloggers like this: