Breaking News

Clio nommer vyf is hier

 

Renault se gewilde Clio het in 2020 sy dertigste verjaardag oorsee gevier, maar Suid-Afrika moes tot 1999 wag voordat hierdie modelreeks vir die eerste keer ook hier bekendgestel is.

Meer as 15 miljoen eenhede van die vier geslagte van die Clio is tot dusver wêreldwyd verkoop, en ongeveer 76 000 eenhede in Suid-Afrika, Die eerste geslag van die Clio was nie hier beskikbaar nie, maar toe die Clio II hier bekendgestel is, het dit die Suid-Afrikaanse Motor-van-die-Jaar-titel in 1999 gewen. Die eerste en derde geslag van die Clio is ook as die Europese Motor van die Jaar gekies.  Nou is die vyfde geslag van dié staatmaker wat sinoniem met Renault self is, in Suid-Afrika beskikbaar.

Die nuwe Clio kan maklik as ‘n Renault uitgeken word, maar die ontwerp is splinternuut. Die vooraansig beskik oor  ligdiode-kopligte met C-vormige dagryligte en die breë skouerlyn met die agterste deurhandvatsels wat hoog gemonteer is en die motor ‘n koepee-agtige voorkoms gee, is steeds op die nuwe model teenwoordig. Aan die agterkant is daar herontwerpte ligdiode-agterligte.

Onder die Clio se enjinkap is ‘n splinternuwe turboaangejaagde eenliterenjin met drie silinders. Hierdie enjin lewer 74 kW teen 6 000 opm en het ‘n wringkrag van 160 Nm teen 2 750 opm. Daar is net een ratkas beskikbaar, naamlik ‘n handratkas met vyf gange. Volgens die vervaardiger is die gemiddelde brandstofverbruik 5, 7 liter per 100 km.

Altesaam drie spesifikasievlakke is beskikbaar, en die modelbenamings skakel in by dié van die Kiger, wat beteken dat die verskillende modelle as die “Life”, die “Zen” en die “Intens” bekendstaan. Daar is ook ‘n opsiepakket vir die Intens beskikbaar.

Die Life is die intreemodel en word met die volgende kenmerke toegerus: vier lugsakke, wat kantlugsakke insluit, ISOFIX-hegpunte vir die voorste passasiersitplek en die buitenste twee agtersitplekke, voorste kopstutte wat insittendes teen sweepslagbeserings beskerm, wegtrekhulp, spoedbeheer met ‘n snelheidsbeperker, ‘n seweduim-raakskerm met Android Auto, Apple Car Play, Bluetooth en ‘n USB-kragpunt, handeheerde lugversorging, elektries verstelbare buitespieëls, agterste parkeersensors, ‘n 4,2 duim analoog-instrumentepaneel met ‘n analoogspoedmeter en toereteller en 16-duim Flex-wiele met volle wieldoppe.

Die Zen is die middelste model van die reeks en bied die volgende bykomende kenmerke: ses lugsakke pleks van vier, , voorste misligte, chroomafwerking op die stuurwiel, die gebied rondom die rathefboom en die luguitlate vir die ventilasiestelsel , ‘n hoogteverstelbare bestuurdersitplek en ‘n sinteties gestikte leerstuurwiel.

Die vlagskip van die reeks is die Intens, wat toegerus word met 16 duimlaooiwiele, ligdiode-kopligte met outomatiese hoërstraalwerking, ‘n koordlose selfoonlaaier, ‘n toegangskaart en aansitknoppie pleks van ‘n sleutel, skyfremme voor en agter, elektriese vensters vir al vier deure wat met een druk van ‘n knoppie oop- of toegemaak kan word, ‘n armleuning met ‘n paneelkissie tussen die voorsitplekke, ‘n digitale instrumentepaneel wat volgens die bestuurder se behoeftes verstel kan word, atmosfeerbeligting vir die binneruim, baandwaalwaarskuwing  en ‘n hoogteverstelbare voorste  passasiersitplek. Die Intens is ook beskikbaar met ‘n opsiepakket wat bestaan uit ‘n trukamera, 17 duim diamantsnit-allooiwiele en ‘n 9.3 duim-raakskerm met satellietnavigasie.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000 km en ‘n diensplan van twee jaar of 30 000 insluit, lyk só:

Clio Life: R 309 900

Clio Zen: R 324 900

Clio Intens: R 349 900

Die prys van die opsiepakket vir die Intens-weergawe is R 15 000  en metaalverf is teen ‘n bykomende R 2 500 beskikbaar.

 

%d bloggers like this: