Breaking News

Derde Hyundai i20 eindelik beskikbaar

Sedert die Hyundai i 20 in 2009 vir die eerste keer bekendgestel is, is meer as 106 000 eenhede in Suid-Afrika verkoop, en die met die derde geslag hoop Hyundai om op hierdie sukses voort te bou. 

Die derde geslag is reeds meer as ‘n jaar gelede oorsee bekendgestel, maar onder meer weens die COVID 19-pandemie is sy plaaslike bekendstelling tot nou toe uitgestel. Die groot nuus is dat die derde geslag beskikbaar sal wees met ‘n turbo-aangejaagde een-liter enjin terwyl die 1,2 – en 1,4 liter-enjins van die vorige geslag oorgedra word.

Daar is twee spesifikasievlakke beskikbaar. Die Motion is die intreevlak-model en bied ‘n keuse tussen ‘n 1,2 liter enjin met ‘n vyfgang-handratkas en ‘n 1,4 liter met ‘n outomatiese ratkas met ses gange. Die kraglewerings van hierdie twee enjins is onderskeidelik 61 kW teen 6 000 opm en 74 kW teen 6 000 opm, en hulle lewer wringkrag van onderskeidelik 115 Nm teen 4 2000 opm en 133 Nm teen 4 000 opm. Die Fluid is ook met die 1,2 liter-enjin en die vyfgang-handratkas beskikbaar maar vir die eerste keer is daar die keuse van ‘n turbo-aangejaagde enjin. Die 1,0 T GDI drie-silinder enjin , wat gekoppel kan word aan ‘n sesgang-handratkas of ‘n sewegang DCT-dubbelkoppelaarratkas, lewer 90 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 172 Nm teen tussen 1 500 en 4 000 opm.

Die Motion se standaard kenmerke sluit die volgende in: twee lugsakke, 15 duim staalwiele, handbeheerde lugversorging, elektriese buitespieëls, outomatiese ligdiode-kopligte met dagryligte, voorste misligte, ‘n trukamera met parkeersensors, ‘n digitale instrumentepaneel met ‘n volledige ritrekenaar, ‘n agtduim raakskerm met Bluetooth, ‘n USB-kragpunt voor, Android Auto en Apple Car Play, ‘n veelfunksie-stuurwiel en stembeheer. Die Fluid voeg die volgende kenmerke by: 16 duim allooiwiele,  buitespieëls wat met die druk van ‘n knoppie ingevou kan word en rigtingwysers bevat, spoedbeheer, ‘n leeroorgetrekte stuurwiel en rathefboomknop, atmosfeerbeligting, ‘n agterste USB-kragpunt, twee bykomende luidsprekers, ‘n koordlose selfoonlaaier, ses lugsakke, bykomende luguitlate vir die agterste insittendes en ‘n armleuning tussen die voorsitplekke. Benewens die standaard-bakkleure is die Fluid ook opsioneel met ‘n swart dak saam met ‘n wit of rooi bakwerk beskikbaar. Die 1,2 Fluid se sitplekke beskik oor materiaal-bekleedsel en dié van die 1,0 T GDI met nagemaakte leerbekleedsel; albei het rooi stikwerk wanneer die tweekleurbakwerk gekies word.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van altesaam sewe jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km insluit, lyk só:

1,2 Motion: R 275 900
1,2 Fluid: R 289 900
1,4 Motion outomaties: R 305 900

1,0 T GDI Fluid: R 330 900
1,0 T GDI Fluid 7 DCT: R 355 900

Die tweekleur-afwerking is teen ‘n bykomende R 5 000 vir die Fluid-modelle beskikbaar.

%d bloggers like this: