Breaking News

Elektriese Volvo kan reeds bestel word

Volvo Cars Suid-Afrika het aangekondig dat bestellings vir die ten volle elektriese XC 40 P8 Recharge reeds geplaas gaan word en dat die eerste eenhede in Augustus vanjaar afgelewer sal word.

Die prys van die elektriese XC 40 begin by R 1,2 miljoen; volgens die vervaardiger het Suid-Afrikaanse motoriste van elektriese motors begin hou, maar die hoë prys was nog altyd ‘n afskrikmiddel en alles moontlik is gedoen om die prys so mededingend moontlik te maak. Die maatskappy het ook bekendgemaak dat dié nuwe model slegs aanlyn deur die maatskappy se nuwe webtuiste, MyVolvo, bestel kan word. Dit stel voornemende kopers in staat om ‘n motor binne 20 minute te koop of te huur sonder om die huis te verlaat. Dit is net nodig om vyf stappe te volg om die motor te kies en finansiering , asook die afhaal of aflewering van die motor, te reël.

Die XC 40 P8 Recharge kan ‘n reikafstrand van 418 km bereik as dit een keer gelaai is, en die dubbele elektriese motors lewer 304 kW en 660 Nm wringkrag, wat maak dat daar binne 4,9 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel kan word.  

Die prys van die XC 40 P8 Recharge sluit  Volvo CARE in; dit behels ‘n waarborg en onderhoudsplan van vyf jaar, drie jaar se versekering, die gebruik van ‘n petrol-aangedrewe motor vir twee weke per jaar oor ‘n tydperk van drie jaar en ‘n tuislaaier met kabels.

Die maatskappy het aangekondig dat al sy voertuie teen 2030 ten volle elektries sal wees en dat alle verkope teen daardie tyd aanlyn sal plaasvind.

%d bloggers like this: