Breaking News

FAW se se gewilde vragmotor kry outomatiese ratkas

FAW het pas ‘n nuwe weergawe van sy gewilde 8.140 FL-reeks in Suid-Afrika bekendgestel.

Die 8.140 FL kan ‘n loonvrag van ses ton dra, en is die ideale vennoot vir sakelui en vloot-eienaars wat ‘n voertuig van kleiner afmetings nodig het maar net so duursaam en gehard soos sy groter stalmaats is. FAW Trucks het na die behoeftes van die mark geluister en ‘n bykomende model met ‘n outomatiese ratkas by die reeks gevoeg.

Toe die 8.140 FL aanvanklik bekendgestel is, was ‘n sesgang-handratkas standaardtoerusting, maar die outomatiese model word toegerus met ‘n Allison-ratkas met ses gange en dubbele snelratte, waarvan die tweede een se ratverhouding nogal hoog is. Dit maak dat die enjin se toere teen topsnelhede verminder word en dat brandstofverbruik verbeter word. Allison spesialiseer in ratkaste vir middelslag- en swaar voertuie, en het al aandryfstelsels vir vliegtuie en ander militêre doeleindes ontwikkel.

Albei modelle word aangedryf deur ‘n Cummins ISF 3,8 S-turbo-diesel enjin met vier silinders en ‘n kapasiteit van 3,8 liter. Hierdie enjin lewer 105 kW teen 2 600 opm en wringkrag van 450 Nm teen tussen 1 200 en 2 200 opm.  Die turboaanjaer en tussenverkoeler sorg vir goeie werkverrigting teen alle enjin-snelhede asook oorgenoeg wringkrag teen lae toere. Dis maklik om toegang tot die enjin te kry en loopkostes word tot die minimum beperk. Die enjin beskik ook oor ‘n uitlaatrem  wat help om  die voertuig se snelheid te beheer, veral as snelheids-vermindering plaasvind, terwyl dit slytasie op die remme ook verminder.  Die toevoeging van ABS by die remstelsel  verhoog die veiligheid van die voertuig, die bestuurder en die vrag wat vervoer word. Die lugremstelsel is makliker om in stand te hou as ‘n lughidrouliese stelsel.  

Die binneruim beskik oor sitplek vir die bestuurder en twee passasiers, en lugversorging asook ‘n radio met ‘n MP 3-speler en ‘n USB-kragpunt is standaard toerusting. Daarby is die stuurkolom en die sitplekke verstelbaar en daar is oorgenoeg plek vir los goedere.

Verskillende bakwerke is vir beskikbaar, van ‘n gewone valkantbak tot by ‘n wipbak, ‘n sementmenger en ‘n onderstel-en-kajuitmodel wat voornemende kopers in staat stel om enige bak van hul keuse te laat monteer. Die feit dat daar geen boute op die onderstel is nie, maak dit makliker om enige bakwerk daarop te monteer.

FAW se handelaars-netwerk strek oor die hele Suid-Afrika, Botswana en Namibië, en daar is ‘n toegewyde nasionale verspreidingsentrum vir onderdele by Spartan in Kemton Park. Die half-afgetakelde bakstelle wat van China af kom, sluit die kajuit, die aste van die onderstel, en ander komponente in terwyl sommige onderdele, soos die lugremstelsel, die kragstuur , die parkeerrem en die enjin in Suid-Afrika vervaardig word. Die vragmotor word in Suid-Afrika gemonteer. 

Die 8.14 FL-reeks word deur ‘n waarborg van twee jaar ongeag die vragmotor se kilometer-afstand gerugsteun, en pryse begin by R 315 000. Voornemende kopers kan ‘n diensplan van drie jaar of 180 000 km teen ekstra koste bestel.

%d bloggers like this: