Breaking News

Fiat 500 X hersien

Kort op die hake van die nuwe Fiat 500-reeks is die groter model, die 500 X, ook pas hersien.

Die nuwe reeks bestaan uit vier modelle, naamlik die Cult, die Connect en die Sport, soos met die 500, asook ‘n unieke model bekend as die Cross. 

Al vier modelle word aangedryf deur dieselfde 1,4 liter turbo-petrol enjin wat 103 kW teen 5 000 opm en wringkrag van 240 Nm teen 1 750 opm lewer. Afhangende van die model word hierdie enjin gekoppel aan ‘n sesgang-hand- of dubbel-koppelaarratkas.

Die intreemodel is die Cult, wat onder meer in ‘n helder oranje kleur beskikbaar is, en die volgende kenmerke as standaard toerusting het: allooiwiele met 215/60 R 16-bande, halogeen-dagryligte, swart buitespieëls, ‘n 3,5 duim swart en wit TFT-instrumentepaneel, ‘n seweduimradio met ses luidsprekers, Digital Audio Broadcast, Android Auto en Apple Car Play, handbeheerde lugversorging en  sitplekke met donkerblou bekleedsel. Die veiligheids-kenmerke wat standaard toerusting is, sluit die volgende in: vastrapbeheer ‘n elektroniese parkeerrem, voorste-, kant- en gordyn-lugsakke en wegtrekhulp.

Die volgende model in die reeks is die Connect, wat met die volgende bykomende kenmerke spog: donker allooiwiele met dieselfde grootte bande as die Cult, ‘n 3,5 duim TFT-volkelur-instrumentepaneel, ‘n kombinasie van swart materiaal-en kunsleerbekleedsel vir die sitplekke, kleurgekodeerde buitespieëls, ligdiode-dagryligte geïnspireer deur die 500-embleem, outomatiese kopligte wat skemer bespeur, voorste misligte, parkeersensors voor en agter en ‘n trukamera.

Vir diegene wat ‘n meer avontuurlustige voorkoms verkies, is daar die Cross, wat toegerus word met allooiwiele met 215/55 R 17-bande (opsioneel vir die Connect), chroom-deurhandvatsels, skermplate voor en agter, dakspore, outomatiese dubbelsone-klimaatbeheer, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, asook sitplekke met kamoefleerbekleedsel.  Die Cross word met die dubbelkoppelaarratkas toegerus.

Aan die bokant van die reeks is die Sport, met die volgende bykomende kenmerke: allooiwiele met 225/40 R 19-bande, donkergrys buitespieëls en deurhandvatsels, sportiewe stampers, ratspane agter die stuurwiel, verdonkerde glas, ‘n paneelbord in dieselfde kleur as die bakwerk en ‘n uitlaatpyp met ‘n verchroomde punt.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 100 000 km en ‘n diensplan van drie jaar of 60 000 km insluit, lyk só:
500 X Cult: R 394 900

500 X Connect: R 469 900

500 X Cross: R 519 900
500 X Sport: R 519 900

%d bloggers like this: