Breaking News

Ford brei sy Eco Sport-reeks uit met Black

Die Ford Eco Sport is lank al een van Suid-Afrika se gewildste klein sportnuts-voertuie, en die reeks is pas uitgebrei met die toevoeging van ‘n nuwe model wat ‘n meer sportiewe en individuele beeld uitstraal.

Die Eco Sport Black is gebaseer op die 1,5 Ambiente en word met dieselfde enjin en ‘n outomatiese ratkas met ses gange toegerus. Hierdie  drie-silinder enjin lewer 91 kW teen 6 500 opm en wringkrag van 151 Nm teen 4 500 opm en anders as dié waarmee die Trend en Titanium toegerus word, beskik dit nie oor ‘n turbo-aanjaer nie.

Soos die naam aandui, word die Black onderskei deur sekere swart kenmerke aan die buitekant.  Die Black verruil die staalwiele en wieldoppe van die Ambiente met swart allooiwiele van 16 duim soos dié waarmee die Trend toegerus word.  Die sierrooster word in swart afgewerk, en daar is swart strepe op die enjinkap om by die swart dak aan te sluit. Benewens die alloiwiele word die Black ook aan die kant onderskei deur swart strepe, buitespieëls en  geïntegreerde dakspore.  Die kleurereeks is só gekies dat dit die swart afwerking beklemtoon, en sluit onder meer wit, silwer, blou en grys in. Aan die agterkant is daar ‘n swart oortreksel vir die noodwiel wat op die agterklap gemonteer is. 

Die toerustingsvlak van die Black stem ooreen met dié van die Ambiente, die intreemodel van die Eco Sport-reeks. Dit beteken dat kenmerke soos, ses lugsakke, stabiliteitsbeheer, ABS-remme met elektroniese remkrag-verspreiding en noodremhulp, asook  stablitietisbeheer, vastrapbeheer en ISOFIX-hegpunte standaardtoeusting is. Die Black word  verder toegerus met ‘n SYNC-inligting-en-vermaakstelsel met ‘n 4,2 duim-skerm, stembeheer,  twee USB-kragpunte, Bluetooth-verbinding en ses luidsprekers, handbeheerde lugversorging, ‘n volledige ritrekenaar en agterste parkeersensors . 

Die prys van die Eco Sport Black, wat ‘n waarborg van vier jaar of 120 000 km en ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km insluit, is R 336 900.

%d bloggers like this: