Breaking News

Jy betààl voortaan vir jou Ford se diensplan

  • Vanaf 1 November 2021 is diensplanne nie meer by die pryse van nuwe Ford voertuie ingesluit nie.

Ingevolge die nuwe “Right to Repair”-riglyne wat op 1 Julie 2021 in werking getree het, het voornemende kopers die keuse of hulle hul voertuie by Ford-handelaars, of iewers anders, wil laat versien of herstel. Dit beteken ook dat diens- of onderhoudsplanne nie meer standaardtoerusting is nie, en dat hulle self kan besljuit of hulle dit wil aanskaf, en indien wel, vir watter tydperk. Daar is ook verlengde waarborge en volle onderhoudsplanne teen ekstra koste beskikbaar. Dié wat kies om nie diens-of onderhoudsplanne aan te skaf nie, kan steeds hul voertuie by een van Ford se 140 handelaars landwyd laat versien. Die handelaars waarborg vakmanskap van hoogstaande gehalte deur tegnici wat deur die fabriek opgelei is, met onderdele en smeermiddels wat deur Ford goedgekeur is en die jongste diagnostiese toerusting. 

Volgens mnr Neale Hill, die president van die Ford-motormaatskappy van Suid-Afrika (FMCSA), is die maatskappy daartoe verbind om die heel beste dienste, produkte en klante-ervarings vir hul klante te bied, en die maatskappy is terdeë bewus van eienaars se reg om te besluit waar hulle hul voertuie wil laat versien of herstel. Gevolglik het die maatskappy besluit om stelsels en prosedures om diens-en onderhoudsplanne te ontbondel, in werking te stel. Dit het tyd geneem om die ingewikkelde proses om die prys van diens- en onderhoudsplanne van dié van die motors te skei, maar die veranderinge is nou in werking gestel en voornemende kopers kan kies of hulle om diens- of onderhoudsplanne afsonderlik te koop. 

Hoewel hulle die keuse het waar hulle hul motors laat versien of herstel, sê Hill dit is belangrik dat eienaars seker is dat hulle vertroud is met die riglyne. Dié wat byvoorbeeld besluit om hul voertuie iewers anders te laat versien tewryl ‘n diensplan geldig is, moet besef dat Ford onder geen verspligting is om onafhanklike diensverskaffers te betaal nie. Hoewel die waarborg steeds geldig is, moet eienaars die onafhanklike diensverskaffers self betaal. As daar enige meganiese probleme ondervind word wanneer die voertuig deur ‘n onafhanklike diensverskaffer versien word, sal die fabriekswaarborg daardie deel van die herstelwerk nie dek nie. Daarby sal herstelwerk weens die terugroep van ‘n voertuig deur die maatskappy self, net deur ‘n gemagtigde handelaar uitgevoer kan word. Dieselfde geld herstelwerk wat deur die fabriekswaarborg gedek word. 

Die standaard waarborg van vier jaar of 120 000 km is steeds geldig al is diens- of onderhoudsplanne teen ekstra koste beskikbaar. Daarby is ‘n waarborg teen korrosie van vyf jaar en padbystand van drie jaar, ongeag die voertuig se kilometerlesing, steeds by die prys ingesluit.  Die voertuig moet steeds volgens die fabriek se vasgestelde dienstussenposes versien word. 

Volgens Hill is dit belangrik dat die werk wat uitgevoer word, gewaarborg word, veral noudat die voertuie al hoe meer gesofistikeerd word, sodat die beste moontlike ervaring vir eienaars verseker kan word. Ford is daartoe verbind om te verseker dat die betroubaarheid, veiligheid en duursaamheid van sy voertuie aan die hoogste standaarde voldoen. 

Die Ford Protect-diens-en onderhoudsplanne en verlengde waarborge word ten volle deur FMCSA gerugsteun; dit gee eienaars die gemoedsrus om te weet dat alle wek op hul motors aan die hoogste standaarde voldoen, terwyl vakmanskap en onderdele ten volle gewaarborg is.

%d bloggers like this: