Breaking News

Ford Everest raak sporttief

Ford het pas sy Everest-reeks uitgebrei met die toevoeging van die Sport, wat op die Everest XLT-model gebaseer is en in 4×2- en 4×4-weergawes beskikbaar is.

Die Sport word aangedryf deur dieselfde tweeliter-turbo-diesel enjin as die XLT wat 132 kW teen 3 500 opm oplewer en ‘n wringkrag van 420 Nm teen 1 750 opm lewer en aan ‘n outomatiese ratkas met tien gange gekoppel word. 

Aan die buitekant kan die Sport onderskei word deur middel van ‘n swart gaas sierrooster met die Everest-kenteken, asook deurhandvatsels en buitespieëls wat in swart eerder as chroom afgewerk is. Die afwerking vir die onderste deel van die voor- en agterstampers is in swart, pleks van silwer. Daar is Sport-kentekens op die agterdeure en swart 20 duim-allooiwiele is standaardtoerusting. Daar is ses kleure om van te kies; twee skakerings van silwer, asook wit, swart, grys en rooi.

 

Die binnekant van die Sport spog met modelspesifieke leersitplekke met blou stikwerk, leerafwerking vir die paneelbord en elektries verstelbare voorsitplekke met agt verstellings. Sleutellose toegang stel die bestuurder in staat om die motor oop- of toe te sluit en deur middel van ‘n knoppie aan te sit indien ‘n sleutel in sy of haar sak bespeur word. Ford se toonaangewende SYNC 3-inligting-en-vermaakstelsel is ook standaardtoerusting vir die Sport; dit bevat satellietnavigasie wat ook gebruik kan word wanneer daar in die veld bestuur word. Die stelsel werk met stembeheer terwyl Apple Car Play- en Android Auto-verbinding deel van die stelsel is. Die agtduim-raakskerm kan ook handgebare herken.

Soos wat ‘n mens verwag, is verskeie veiligheidskenmerke standaardtoerusting: elektroniese stabiliteitsbeheer wat vastrapbeheer insluit, sleepswaaibeheer, wegtrekhulp en altesaam sewe lugsakke, asook ligdiode-kop- en dagryligte, parkeersensors en ‘n trukamera. 

Die pryse van die Everest Sport-modelle, wat ‘n waarborg van vier jaar of 120 000 km en ‘n diensplan van ses jaar of 90 000 km insluit, is R 662 800 en R 704 400 vir die 4×2 en 4×4 onderskeidelik.

%d bloggers like this: