Breaking News

Ford knap sy Eco Sport effens op

Sedert sy aanvanklike bekendstelling in 2013 was die Ford Eco Sport nog altyd die markleier in die segment vir klein oorkruis-voertuie, en nou het Ford ‘n paar veranderinge aangekondig en ‘n bykomende model by die reeks gevoeg.

Die intreevlak-model, die Ambiente, was tot dusver nog net beskikbaar in ‘n petrol- of diesel enjin van 1,5 liter, maar nou is ‘n 1,5 liter petrol model met ‘’n outomatiese ratkas by die reeks gevoeg. Soos die petrol model met die handratkas lewer die outomatiese model se enjin 91 kW teen 6 500 opm en wringkrag van 4 500 opm. Anders as die enjins van die Trend en Titanium word hierdie enjin nie met ‘n turbo-aanjaer toegerus nie, maar dit het steeds drie silinders. 

Die Ambiente-modelle word toegerus met staalwiele met volle wieldoppe en 205/60 R 16-bande. Die SYNC-inligting-en-vermaakstelsel kan deur middel van stem-opdragte beheer word en beskik oor twee USB-kragpunte en Bluetooth-verbinding, maar nie ‘n raakskerm nie. Dubbele lugsakke voor, asook kant- en gordyn-lugsakke is standaard toerusting, tesame met ABS-remme met noodremhulp en elektroniese remkrag-verspreiding en  ISOFIX-hegpunte vir die buitenste twee agtersitplekke. Die binneruim bevat geriefs kenmerke soos handbeheerde lugversorging, ‘n instrumente-paneel met ‘n swart en wit uitlees-paneel asook ‘n ritrekenaar. Die Trend se bykomende kenmerke sluit ‘n verligte paneel-kissie, voorste kaart-liggies, ‘n stuurwiel en rathefboomknop wat met leer oorgetrek is, asook ‘n liggie vir die bagasieruim in. Daarby spog die Titanium met ‘n kleur-uitlees-paneel in die instrumente-paneel, outomatiese lugversorging, ‘n elektrochromatiese trusipeël en ‘n skuifbare paneelkissie tussen die voorsitplekke in. Die Trend se allooiwiele gebruik dieselfde bandgrootte as die Ambiente terwyl die Titanium allooiwiele met 205/50 R 17-bande het. Wegtrekhulp en ‘n banddruk-monitor is ook standaard toerusting vir die Trend en Titanium.

Die Trend- en Titanium-modelle kry daarby ook ‘n paar ekstra veiligheidskenmerke. Een van die belangrikstes is ‘n voorbots waarskuwing wat die bestuurder van die moontlikheid van ‘n bosting in kennis stel, die remme voor die tyd aktiveer en die maksimum remdruk moontlik maak wanneer die bestuurder die rempedaal trap.  Die Trend word voortaan met ‘n aanpasbare spoedbeheer toegerus en die Titaium kry voorste parkeer sensors saam met die agterstes wat standaard toerusting vir die hele reeks is.  Die Trend en Titanium se inligting-en-vermaakstselsels bevat raakskerms van 6,0 en 8,5 duim onderskeidelik en ‘n navigasiestelsel is standaard toerusting vir die Titanium.

Die pryse van die verskillende Eco Sport-modelle, wat ‘n waarborg van vier jaar of 120 000 km en ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km en ‘n waarborg teen korrosie van vyf jaar, ongeag die voertuig se kilometerlesing, insluit, lyk soos volg:

Eco Sport 1,5 Ambiente-handrat:  R 279 700
Eco Sport 1,5 TDCi Ambiente-handrat:  R 289 900

Eco Sport 1,5 Ambiente Outomaties: R  297 600
Eco Sport 1,0  Eco Boost Trend- handrat: R 319 200

Eco Sport 1,0 Eco Boost Trend Outomaties: R 333 900
Eco Sport 1,0 Eco Boost Titanium-handrat: R 357 000

Eco Sport 1,0 Eco Boost Titanium Outomaties: R 370 400

%d bloggers like this: