Breaking News

Ford wys sy nuwe Ranger Raptor

Ford het pas sy nuwe Ranger Raptor aan die internasionale media bekendgestel, en  hierdie nuweling beloof om nuwe standaarde vir veldryvoertuie te stel.

Die nuwe Raptor, wat deur Ford Performance ontwikkel is, sal sy plek aan die bokant van die nuwe Ranger-reeks, wat later vanjaar in Suid-Afrika verwag word, inneem.  Die grootste nuus is dat ‘n splinternuwe enjin, wat in Suid-Afrika vervaardig sal word, vir die nuwe Raptor gebruik word. Die groot verskil is dat die nuwe Raptor aangedryf sal word deur ‘n petrol- eerder as ‘n diesel enjin. Hierdie drie-liter V6 Eco Boost-enjin beskik oor twee turboaanjaers en lewer 292 Nm en wringkrag van 583 Nm. Die nuwe enjin is ontwikkel om onmiddellik te reageer wanneer die versneller ingetrap word en in die Baja-bestuursmodus hou die turboaanjaers drie sekondes lank aan draai nadat die bestuurder die versnellerpedaal gelos het. Dit maak dat daar vinniger versnel kan word nadat die bestuurder deur ‘n draai gery het, of tussen ratte, wanneer dieversnellerpedaal weer ingetrap word.  Die outomatiese tiengangratkas wat in die huidige Raptor gebruik word, is verder ontwikkel en elke rat is afsonderlik geprogrammeer. Dit sorg vir moeitelose versnelling, selfs in moeilike terrein soos grondpaaie, gruis, modder en sand. 

Die enjinklank van die uitlaatstelsel kan aangepas en ingestel word deur ‘n knoppie op die stuurwiel te druk. Daar is vier verskillende verstellings. Quiet word gebruik as stilte belangriker as verrigting of geraas is, en kan gebruik word vroeg in die oggend of laat in die nag, om die vrede met die bure te bewaar. Normal is die verstelling vir allegdaagse gebruik; die klank is hoorbaar maar nie steurend nie. Dit word by verstek in die Normal-, Slippery-, Mud/Ruts en Rock Crawl-modusse gebruik.  Sport bied ‘n harder en meer aggressiewe enjinklank. Die toppunt is egter Baja, wat net in veldrytoestande gebruik kan word; dit is die mees aggressiewe verstelling, in klank en volume. 

Die Raptor se onderstel is baie meer gevorderd as dié van die res van die nuwe Ranger-reeks. Daar is versterkings en unieke monterings vir die C-pilaar, die laaibak en die noodwiel aangebring om te verseker dat die Raptor die moeilikste veldrytoestande kan baasraak. Die Raptor se veerstelsel is heeltemal herontwerp, en splinternuwe, taaier boonste en onderste beheerarms van liggewig-aluminium word gebruik. Daarby word nuwe Fox-dempers gebruik; dit maak dat die veetstelsel by werklike omstandighede aanpas om padhovermoë op die pad te verbeter en beter beheer teen hoë snelhede in veldrytoestande te verseker. Die nuwe Fox-skokbrekers word met Teflon-geïnfuseerde olie gevul ; dit maak dat wrywing met 50% verminder word in vergelyking met die huidige Raptor. Hoewel die Fox-hardeware gebruik word, het Ford Performance die Raptor se veerstelsel ingestel deur gebruik te maak van ingenieurswese met rekenaarhulp, terwyl die voertuig onder werklike omstandighede getoets is.  Alle moontlike toetse is uitgevoer om die volmaakte balans tussen gemak, beheer, stabiliteit en vatrapvermoë op die pad en in die veld te vind. 

Vir die eerste keer sal die Raptor met permanente vierwielaandrywing toegerus word, met ‘n splinternuwe tweegang-oordraratkas wat elektronies beheer word en laestrek op versoek skakel. Dit word gekombineer meet ewenaarslotte voor en agter; ‘n kenmerk wat hardebaard-veldryers sal waardeer. Hoewel die nuwe Raptor deur woestyn-veldryvoertuie geïnspireer is, beskou die vervaardiger dit as die volmaakte voertuig vir avontuurritte, wat hoegenaamd geen veranderinge nodig het om by enige avontuurbestemming uit te kom en weer veilig by die huis te kom  nie. Daar is altesaam sewe bestuursmodusse vir elke moontlike terrein, van paaie in ‘n goeie toestand tot die moeilkste veldrytoestande. Die Baja-modus is byvoorbeeld ontwikkel vir diegene wat teen hoë snelhede in die veld wil ry en die elektronika is só ontwikkel dat dit die beste moontlike verrigting verseker. Dit is, volgens die vervaardiger, die allerbeste uitdrukking van veldryvermoë teen hoë snelhede.

Altesaam drie modusse vir die pad en vier vir die veld kan gekies word, en die kleurskema op die instrumentepaneel word telkens by die gekose modus aangepas. Die verskillende modusse bepaal onder meer die sensitiwiteit van die remstelsel, die karaktereienskappe van die enjin en die stuurstelsel, die reaksie van die versnellerpedaal en inligting wat op die instrumentepaneel en die raakskerm van die inligting-en-vermaakstelsel vertoon word. Normal is die modus wat vir alledaagse omstandighede gebruik word, en Sport verbeter die versnellerpedaal se reaksietyd en maak die stuur effens swaarder om by die meer geesdriftige bestuurder se behoeftes aan te pas. Slippery word gebruik vir gladde padtoestande, soos reën. Daar is vier veldrymodusse; Rock crawl word gebruik vir los opppervlaktes soos klippe, Sand word gebruik vir sand en diep sneeu en Mud/Ruts vir modder. Baja is vir diegene wat teen hoë snelhede in die veld wil ry. Nog ‘n belangrike nuwe kenmrk is Trail Control, wat as ‘n spoebeheer vir veldrytoestande beskou kan word. Die bestuurder kies bloot ‘n snelheid van minder as 32 km/h en die voertuig se versnelling en remvermoë word outomaties beheer terwyl die bestuurder op niks anders hoef te konsentreer as om die voertuig te stuur nie.

Hoewel die nuwe Raptor die stileringskenmerke van die res van die nuwe Ranger-reeks deel, is daar sekere kenmerke wat hom van sy mindere stalmaats onderskei. Pleks van die ovaalvormige Ford-wapen is die letters F-O-R-D op die sierrooster uitgespel.  Die breë wielboë en C-vormige kopligte beklemtoon die Raptor se breedte en die stamper word van die sierrooster geskei. Die kopligte word met outomatiese hoëstraalwerking toegerus en daar is ook ligdiode-dagryligte tussen die kopligte en die sierrooster. Daar is ‘n keuse van een van twee 17-duim wielontwerpe maar BF Goodrich-bande is standaardtoerusting. Aan die kant is daar kanttrappies in gegote aluminium en aan die agterkant is daar ‘n grys stamper met ‘n ingeboude trappie en trekstang wat hoog gemonteer is om die beste moontlike vertrekhoek te verseker, asook ligdiode-agterligte. 

Die hoëverrigting-tema word in die binneruim voortgesit, en nuwe sitplekke wat deur ‘n straalvegvliegtuig geïnspireer is, word voor en agter gebruik. Daar is oranje aksente op die paneelbord en die sitplekke, asook ‘n leerstuurwiel met ratspane en ‘n strepie wat aandui wanneer die voertuig se wiele reguit is. Die stuurkajuit is ten volle digitaal en beskik oor ‘n instrumentepaneel van 12,4 duim wat volgens die bestuurder se behoeftes aangepas kan word, ‘n raakskerm van 12 duim wat Ford se meer gevorderde Sync 4-inligting-en-vermaakstelsel met Apple Car Play en Android Auto bevat, asook ‘n Bang &Olufsen-klankstelsel. 

Die nuwe Ranger-reeks sal later vanjaar in Suid-Afrika beskikbaar wees, maar die bekendstellingsdatum van die Raptor is nog nie bekendgemaak nie. Die prys van die nuwe Raptor sal eers met sy plaaslike bekendstelling aangekondig word. 

%d bloggers like this: