Breaking News

Groter Hyundai Atos geloods

Twintig jaar nadat die heel eerste Hyundai Atos in Suid-Afrika op die mark gekom word, is die jongste weergawe van dié Koreaanse vervaardiger se intreevlak-mededinger hier bekendgestel.

Die Atos was een van die modelle wat Hyundai in Suid-Afrika gevestig het en altesaam 45 092 eenhede van die vorige geslagte (Die vorige geslag is die i10 genoem) is hier verkoop.  Mnr. Stanley Anderson, die verkoopsdirekteur van Hyundai Automotive South Africa, glo dat die intreevlak-segment al hoe meer sal groei as gevolg van die moeilike finansiële omstandighede wat Suid-Afrikaanse motoriste moet verduur en dat die Atos alles het wat nodig is om weer suksesvol in hierdie segment te kan meeding.  Daar is vir eers net een model, naamlik die 1,1 Motion met ‘n vyfgang-handratkas , beskikbaar.

Moderne stilering , wat daarop gemik is om soveel binne- en bagasieruimte as moontlik te bied, is ‘n kenmerk van die nuwe Atos.  Dit is ook so maklik as moontlik vir ouer mense gemaak om in en uit die motor te klim en die hoë sitplekposisie maak dat dit maklik is om uit die motor te sien.  Die staalwiele is met 165/70 R 14-bande en volle wieldoppe beslaan en ‘n noodwiel van 155/80 R 13 toegerus.

Die nuwe Atos 1,1 liter viersilinderenjin het ‘n kraglewering van 50 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 99 Nm teen 2 800 opm.. Volgens die vervaardiger is sy gemiddelde brandstofverbruik 5,7 liter per 100 km.

Veligheidskenmerke soos ABS-remme, twee lugsakke en ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke is standaardtoerusting, asook ‘n raakskerm met Apple Car Play- en Bluetooth-verbinding, USB- en 12 volt-kragpunte, lugversorging, elektriese vensters voor, instrumentepaneel met ‘n spoedmeter, toereteller en ritrekenaar en ‘n veelfunksiestuurwiel met kontroles vir die radio en Bluetooth-gekoppelde selfoon.

Daar is ses kleure beskikbaar, naamlik geel, rooi, grys, blou, wit en silwer.

Op die toetsrit tydens die media loodsing was MotorPlus beindruk met die groot binneruim. Daar is meer as genoeg kop- en skouerspasie vir selfs groot Suid-Afrikaners. Die ratwisseling is gemaklik en as jy op hoë toere ry, kan die enjin tog genoeg krag opwek as jy wil haastig raak. Die goeie padhouvermoë en remming danksy die ABS is verdere pluspunte.

In die ou dae was die Volkswagen Kewer vir baie gesinne in Suid-Afrika die enigste motor. Moenie die Atos onderskat nie. Dit hoef nie noodwendig net die tweede motor of ‘n “studentekarretjie” te wees nie. Die Atos is baie groter as die eertydse Kewer en kan vir baie kleiner gesinne die uitkoms wees as ‘n volwaardige gesinsmotor.

Die prys van die nuwe Atos, wat ‘n waarborg van sewe jaar of 200 000 km en  ‘n diensplan en padbystand van ‘n jaar insluit, is R 159 900.

%d bloggers like this: