Breaking News

GTI nommer agt binnekort hier

Volkswagen Suid-Afrika (VWSA) het pas ‘n voorskou van die nuwe Golf GTI tydens ‘n virtuele bekendstelling op YouTube gewys.

Die nuwe GTI sal die agtste geslag van dié legendariese blitsbuks en VWSA het aangekondig dat hy van die 1ste September af by handelaars beskikbaar sal wees. Die GTI sal ook die nuwe intreevlak model van die Golf-reeks wees aangesien die “gewone” TSI en TDI nie meer in Suid-Afrika beskikbaar sal wees nie.

Die Golf 8 GTI sal aangedryf word deur ‘n turbo-aangejaagde twee-liter enjin wat 180 kW teen tussen 5 000 en 6 500 opm  en 370 Nm se wringkrag teen tussen 1 600 en 4 300 opm  lewer, en net met ‘n sewegang DSG-ratkas beskikbaar sal wees. 

Die nuwe GTI sal die volgende kenmerke as standaardtoerusting bied: 18-duim allooiwiele, kopligte met outomatiese hoëstraalwerking, klimaatbeheer, ‘n verhitbare veelfuknsie-sport-stuurwiel wat met leer oorgetrek word, GTI Vienna-leersitplekke, ‘n Composition Media-klankstelsel, ‘n 10,25 duim-Innovision volkleur-instrumentepaneel, AppConnect, spoedbeheer met ‘n snelheids-beperker, parkeersensors, ‘n koordlose selfoonlaaier en atmosfeerbeligting met ‘n keuse van dertig kleure.

Opsionele ekstras wat vir die GTI beskikbaar is, sluit die volgende in: ligdiode-matrikskopligte, ‘n swart stileringspakket, ‘n uitleespaneel tussen die voorruit en die instrumentepaneel, ‘n Discover Pro-klankstelsel met satellietnavigasie, koordlose slimfoonkoppeling en stembeheer, parallelparkeerhulp, agterste parkeerhulp met ‘n trukamera, ‘n blindekolmonitor, baanhouhulp, aanpasbare spoedbeheer en outonome noodremhulp.

Die Golf 8 GTI se prys van R 669 300 sluit ‘n Easy Drive-diensplan van vyf jaar of 90 000 km, ‘n waarborg van drie jaar of 120 000 km en ‘n waarborg teen korrosie van twaalf jaar in.

%d bloggers like this: