Breaking News

GWM knap sy Steed 5 -reeks op

Great Wall Motors het pas die opgeknapte weergawe van sy Steed 5-reeks in Suid-Afrika bekendgestel.

Hierdie nuwe reeks sal die Steed 5, Steed 5E en Steed 6 vervang en sy plek onder die P-reeks in die modelreeks van China se gewildste bakkievervaardiger innnem. Die nuwe reeks is veiliger en luukser as sy voorgangers maar behou die vorige model se bewese onderstel. Die bekende 2,2 liter petrol enjin wat vir die vorige reeks beskikbaar was, word egter aan die mark onttrek en ‘n turbodiesel enjin van twee liter met ‘n sesgang-handratkas sal standaard toerusting vir alle modelle wees. Hierdie enjin lewer 110 kW teen 4 000 opm en wringkrag van 320 Nm teen tussen 1 400 en 2 800 opm.

Twee spesifikasievlakke sal beskikbaar wees, naamlik S en SX. Die enkelkajuit is in albei spesifikasievlakke beskikbaar maar die SX-vlak is standaard toerusting vir die dubbelkajuit. Die S enkelkajuit bied die keuse van ‘n 4×2 en ‘n 4×4 terwyl vierwielaandrywing standaard toerusting vir die SX-enkelkajuit is. Die SX-dubbelkajuit is in ‘n 4×2 en 4×4 beskikbaar.

Die S word met die volgende standaard kenmerke toegerus: staalwiele met 235/70 R 16-bande, swart deurhandvatsels, ‘n kajuitbeskermer agter die agterruit, hake aan die laairuim om vrag mee vas te maak, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding, twee lugsakke, sentrale sluiting met afstandbeheer, deure wat outomaties oopsluit na ‘n botsing, ‘n radio met ‘n USB-kragpunt en twee luidsprekers, elektriese vensters en spieëls, ‘n handbeheerde lugversorger en ‘n skakelaar waarin daar tussen 4×2 in hoëstrek, 4×4 in hoëstrek en 4×4 in laestrek gekies kan word vir die 4×4-model. Die SX voeg die volgende kenmerke by: misligte voor en agter, gedeeltelike leerbekleedsel, allooiwiele met 235/70R 16-bande, ‘n banddrukmonitor, ses luidsprekers, elektriese spieëls en vensters met ‘n funksie wat die bestuurder in staat stel om sy of haar venster heeltemal oop te maak deur die knoppie net een keer te druk, outomatiese lugversorging vir die dubbelkajuit, ‘n agterstamper met parkeersensors en chroomafwerking vir die sierrooster en deurhandvatsels.

Die pryse vir die nuwe reeks, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 100 000 km insluit, is nog nie bevestig nie. Die dubbelkajuitmodelle bied ‘n diensplan an drie jaar of 45 000 km maar verskeie diensplanpakkette is teen ekstra koste vir die enkelkajuit beskikbaar.

%d bloggers like this: