Breaking News

Haval vernuwe die H2 vir 2020

Sedert Haval  tot die Suid-Afrikaanse mark in 2017 toegetree het, het die H2 sportnutsvoertuig groot byval by die publiek en die motormedia gevind. Die H2 het bewys dat dit ‘n kwaliteit voertuig is, wat besonderse waarde vir geld bied.

Vir 2020 het Haval Suid-Afrika twee nuwe H2 modelle bekendgestel om die vorige H2-modelle te vervang. Die 2020 H2 behou dieselfde bakvorm, maar het nou meer gevorderde spesifikasievlakke. Die twee modelle, die City en die Luxury, is steeds met ‘n keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas, met ses gange elk, beskikbaar, maar die toerustingsvlakke is verander en ‘n paar nuwe stileringskenmerke onderskei die nuweling van sy voorganger.

Aan die buitekant is die uitstaande kenmerke van die nuwe modelle nuwe allooiwiele met ‘n vyfspeek-ontwerp, asook nuwe agterligte. Die Luxury word ook voortaan met ligdiode-kopligte toegerus.

Die City se spesifikasievlak is aansienlik verhoog. Die belangrikste verskil is dat die nuwe City ses lugsakke, pleks van twee het. Nog ‘n belangrike nuwe kenmerk is die tru-kamera, wat eers net vir die Luxury standaardtoerusting was. Die klankstelsel is opgegradeer en bevat nie meer ‘n CD-speler nie, terwyl die skerm gesluit word, terwyl daar bestuur word en ‘n USB- en ASUX-kragpunt ingesluit word.

Die veelfunksie-stuurwiel bevat kontroles vir die klankstelsel, die telefoon en die spoedbeheer, wat ook nou standaardtoerusting vir die City is.  Die Luxury kry, benewens die ligdiode-koplgte ook ‘n panoramiese sondak maar verloor die kamera aan die linkerkant van die voertuig en lendesteun vir die voorsitplekke. Die liggies aan die kant van die voertuig wat die Haval-naam uitgespel het, is ook weggelaat.

Albei modelle word aangedryf deur dieselfde 1,5 liter turbo-petrolenjin as sy voorganger. Hierdie enjin, wat saam met ‘n hand- of outomatiese ratkas beskikbaar is, het ‘n kraglewering van 105 kW teen 5 600 opm en ‘n wringkrag van 202 Nm tussen 2 200 en 4 500 opm.

Behalwe die ses lugsakke spog die nuwe H2 reeks ook met verskeie ander belangrike veiligheidskenmerke, soos skyfremme voor en agter met ABS, noodremhulp en elektroniese remverspreiding, agterste parkeersensors met ‘n trukamera, elektroniese stabiliteitsbeheer, ‘n banddrukmonitor en ‘n stelsel wat die brandstoftoevoer outomaties afsny in die geval van ‘n botsing. Die deure sluit outomaties wanneer die voertuig wegtrek, terwyl sleutellose toegang en ‘n aansitknoppie standaardtoerusting vir die hele reeks is.

Die pryse van die nuwe modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 100 000 km, ‘n diensplan van vyf jaar or 60 000 km en padbystand van vyf jaar , ongeag die voertuig se kilometerlesing, insluit, lyk só:

H2 1,5 T City handrat:  R 269 900
H2 1,5 T City outomaties: R 294 900
H2 1,5 T Luxury handrat: R 304 900
H2 1,5 T Luxury outomaties: R 329 900

 

%d bloggers like this: