Breaking News

Honda knap Amaze op

In 2018 het Honda ‘n risiko geneem deur ‘n ‘n modelreeks wat net as ‘n sedan beskikbaar is, aan die onderpunt van sy Suid-Afrikaanse reeks bekend te stel.

Die Amaze het egter nuwe standaarde vir hierdie segment gestel en die opgeknapte weergawe is nou in Suid-Afrika beskikbaar. Die veranderinge aan die Amaze is in reaksie op terugvoer van eienaars en neigings in die plaaslike mark aangebring. Die Amaze is van die begin af as ‘n sedan ontwerp en is onmiskenbaar ‘n Honda, maar in ‘n meer kompakte vorm.

Hoewel die vbakvorm grootliks dieselfde bly, is daar tog ‘n aantal nuwe kenmerke wat hom van sy voorganger onderskei.  Die nuwe verchroomde sierrooster se ontwerp skakel by dié van die kopligte in en gee die motor ‘n meer moderne voorkoms. Die hele reeks word met allooiwiele toegerus en ‘n skerp karakterlyn loop aan die kant van voor tot agter. Aan die agterkant is daar ‘n nuwe stamper met ‘n chroomstrook, asook nuwe ligdiode-agterligte. 

Die belangrikste nuwe kenmerk aan die binnekant is swart bekleedsel wat die swart en beige bekleedsel van die vorige model vervang. Hierdie verandering weersipeël die jongste neiging in die mark en is op aandrang van eienaars aangebring. Die middelkonsole bevat ‘n klankstelsel met Bluetooth, ‘n FM/AM-radio en ‘n MP3-speler asook vier luidsprekers en USB en AUX-kragpunte, Die veelfunksiestiuurwiel maak dit maklik om die klankstelsel te beheer sonder om veiligheid in te boet. Daar is oorgenoeg plek vir los goedere en bekerhouers in die middelkonsole. Die agterste insittendes het ook die bykomende gerief van ‘n armleuning wat twee bekerhouers bevat. Die bagasieruim van die Amaze hou 420 liter.

Die nuwe model word aangedryf deur dieselfde 1,2 liter-enjin as sy voorganger, met die keuse van ‘n hand- of CVT-ratkas. Hierdie enjin lewer 66 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 110 Nm teen 4 800 opm. Die topsnelheid van albei modelle is tot 150 km/h beperk. 

Veiligheidskenmerke soos twee lugsakke, ABS-remme en ISOFIX-hegpunte is standaard toerusting vir al die modelle.

Soos voorheen is twee spesifikasievlakke beskikbaar, naamlik die Trend en die Comfort. Die Trend is net met die vyfgang-handratkas beskikbaar en word met die volgende kenmerke toegerus: allooiwiele met 175/65 R 15-bande, asook ‘n staal-noodwiel met ‘n 175/70 R 14-band, ‘n klankstelsel met ‘n FM/AM-radio en Bluetooth en een USB-kragpunt, handbeheerde lugversorging, parkeersensors agter, elektriese vensters voor en agter en sentrale sluiting met afstandbeheer. Die Comfort is met die hand- of CVT-ratkas beskikbaar en bied die volgende bykomende kenmerke: voorste ligdiode-misligte, Android Auto en Apple Car Play, ‘n trukamera, twee USB-kragpunte, outomatiese lugversorging en deure wat outomaties sluit as die motor wegtrek. Die CVT-model het ook ratspane agter die stuurwiel waarmee ratte sonder ‘n koppelaar gewissel kan word.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van twee jaar of 30 000km insluit, lyk só:

Amaze 1,2 Trend: R 209 100

Amaze 1,2 Comfort: R 234 700
Amaze 1,2 Comfort CVT: R 252 800

%d bloggers like this: