Breaking News

Honda se splinternuwe H-RV nou beskikbaaar

Honda Motor Suider-Afrika het pas die splinternuwe H-RV in Suid-Afrika bekendgestel.

Soos sy voorganger beskik die nuwe H-RV oor koepee-agtige stilering , maar praktiese oorwegings het nie agterweë gebly nie en ten spyte van sy sportiewe stilering is die nuweling steeds prakties en veelsydsig. Die sierrooster is dieselfde kleur as die bakwerk, en ‘n dun breë strook met die Honda-kenteken in die middel verbind die agterligsamestellings. Aan die kante is daar weer eens agterdeurhandvatsels wat hoog gemonteer is om die indruk te skep dat dit ‘n koepee is. 

Daar is tweee modelle beskikbaar, naamlik die Comfort en die Executive, en albei word aangedryf deur ‘n 1,5 liter viersilinderenjin met dubbele nokasse. Hierdie enjin, wat in albei modelle aan ‘n palwissel (CVT)-ratkas met ratspane agter die stuuwiel toegerus word, lewer 89 kW teen 6 600 opm en wringkrag van 145 Nm teen 4 300 opm. 

Albei modelle word toegerus met ‘n  klankstelsel met ‘n agtduim-raakskerm  met Bluetooth, Android Auto en Apple Car Play en ‘n veelfunksiestuurwiel is standaard toerusting. Die nuwe model se agterste beenruimte is meer as voorheen en die ligging van die 40 liter-brandstoftenk in die middel onder die motor het gemaak dat die bekende Magic Seat, wat ruimtebenutting verbeter en maak dat die kussings van die agtersitplekke teen die rugleunings gevou kan word, behou is. Albei modelle word ook toegerus mete ‘n elektriese agterklap wat vanself toemaak wanneer die sleutel byderhand is as ‘n mens van die motor af wegstap. Daar is twee USB-kragpunte voor en een agter.

Die Comfort bied die volgende kenmerke as standaard toerusting: diamantsnit-allooiwiele met 215/60 R 17-bande een ‘n volgrootte noodwiel, kleurgekodeerde stampers en buitespieëls, dakspore, materiaalsitplekke, ‘n 4,2 duim TFT-instrumentepaneel, vier luidsprekers, sleutellose toegang met ‘n aaansitknoppie, spoedbeheer en  outomatiese klimaatbeheer. Die Executive voeg die volgende kenmerke by: swart allooiwiele met 225/50 R 18-bande, leersitplekke met verhitting en  elektriese verstelling vir die voorstes, ses luidsprekers vir die klankstelsel, ‘n leeroorgetrekte stuurwiel, elektriese vensters voor en agter wat met eeen druk van die knoppie oop- of toegemaak kan word, ‘n panoramiese sondak en  buitespieëls wat elektries ingevou kan word.

Albei modelle word met die volgende veiligheidskenmerke toegerus: ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en noodremhulp, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, agterste parkeersensors met ‘n trukamera, stabiliteitsbeheer, wegtrekhulp, afdraandehulp  en  ligdiode-dagryligte. Die Executive voeg die volgende kenmerke by: baanhouhulp, voorbotswaarskuwing, baandwaalwaarskuwing, aanpasbare spoedbeheer en outomatiese ruitveërs en kopligte. Die kopligte beskik ook oor outomatiese hoëstraalwerking.  Die blindekolmoitor werk wanneer die rigtingwysers gebruik word en vertoon die verkeer op die raakskerm. 

Die pryse van die twee modelle is R 469 000 vir die Comfort en R 554 500 vir die Exeecutive. Dit sluit ‘n waarborg van vyf jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km in, asook AA-padbystand vir drie jaar.

%d bloggers like this: