Breaking News

Hyundai i30 N #Huyndaii30N

Hyundai se Blits

Hyundai se eerste produksie hoë werkverrigtingsmotor, die Huyndai i30 N, is nou in Suid-Afrika beskikbaar. Deurdat Hyundai die top posisies in die Internasionale Wereldtydrenkampioenskap-reeks (WRC) die afgelope vier jaar beklee het, het die maatskappy bewys dat dit hoë werkverrigtings-enjins kan bou. Hyundai se tydrenmotors het tweede in 2016, 2017 en 2018 in die kampioenskap gekom en eerste in 2019.

Daar is verskillende modelle in die i30-reeks oorsee beskikbaar, maar Hyundai het besluit om slegs die i30 N in Suid-Afrika bekend te stel. Die “N”-benaming verwys na “Namyang”, Hyundai Motor se internasionale navorsings- en-ontwikkelingsentrum in Suid-Korea, asook die wêreldbekende Nürnburgring-renbaan in Duitsland, die tuiste van Hyundai se Europese toetssentrum waar die modelle wat in Europa vervaardig word, ontwikkel en getoets word. Die i30 N is oor 10 000 km op die Nordschelife-baan by Nürnburgring getoets om sy duursaamheid te bepaal. Daarby beeld die N-simbool ‘n slang-kurwe (“Chicane”) van ‘n renbaan uit; dit is ‘n verwysing na die motor se vermoë op die renbaan.

Die gevoel van opwinding word deur die klank wat voortgebring word deur die uitlaatstelsel met twee knaldempers en ‘n wisselende klepstelsel, beklemtoon, terwyl die instrumentepaneel belangrike verrigtingsinligting deur die instrumentepaneel en die agtduim-skerm vertoon word. Dit sluit ‘n G-krag-meter, wat werklike verrigting uitbeeld, in.

Hoewel die i30 N reeds in 2017 by die Frankfurt-Internasionale Motorskou bekendgestel is, het Hyundai se ervaring in motorsport gemaak dat die idee lank reeds op die renbane gebore is, en ontwikkel is om ‘n motor te skep wat goeie werkverrigting en bestuursgenot bied. Hyundai het in 2015 reeds ‘n stap in hierdie rigting geneem deur Albert Biermann aan te stel om onder andere vir Hyundai hoë werkverrigtingsmotors te ontwikkel. Hy het jare se ondervinding in die ontwikkeling van verrigtingsmotors vir die renbaan en die pad. Hy is nou die president en hoof van Hyundai se verrigtingsafdeling en het sy ervaring gebruik om die leiding in die ontwikkeling van motors met die N-kenteken te neem. Volgens Biermann is die Hyundai se N-voertuie geskik vir alledaagse gebruik, want hulle kombineer werkverrigting met veelsydigheid.

Die i30 N word aangedryf deur ‘n 2 liter turbo-aangejaagde petrolenjin wat 202 kW teen 6 000 opm opwek en ‘n wringkrag van 353 Nm  tussen 1 500 en 4 700 opm lewer.

Om die i30 N kraglewering van 202 kW in perspektief te stel: Die Golf7 GTI se 2 liter enjin lewer 169 kW.

Die i30 N kan binne 6,1 sekondes van 0 tot 100 km/u versnel en ‘n topsnelheid van 250 km/h bereik.

Die i30 N is net met ‘n sesgang-handratkas vir eers beskikbaar.

 

 

Aan die buitekant spog die i30 N met allooiwiele met 235/35 R 19 Pirelli P Zero-bande. Die rooi remknypers en aggressiewe voorstamper met ‘n groter luguitlaat en ‘n rooi aksentlyn beklemtoon sy werkverrigting. Aan die agterkant is daar ‘n dakgemonteerder drukvlerk met ‘n driehoekige hoë remlig en ‘n uitlaatstelsel met ‘n dubbele knaldemper.  Die kenmerkende Hyundai-sierrooster is groter as op die ander modelle, om verkoeling van die enjin en die remme te verbeter.

Die binnekant van die i30 N is baie goed toegerus; die agtduim-raakskerm bevat ‘n klankstelsel wat versoenbaar is met Bluetooth en oor Android Auto en Apple Car Play beskik. Satellietnavigasie is standaardtoerusting, maar wanneer daar op die renbaan gejaag word, word werkverrigtingsinligting, onder meer rondtetye, op die skerm vertoon.

Daar is vyf bestuursmodusse om van te kies en die bestuurder kry toegang daartoe deur ‘n knoppie op die stuurwiel te druk.  Die vyf modusse is Eco, Sport, Normal, N en N Custom. Elke modus verander die motor se karaktereienskappe. Een kenmerk wat veral in die Sport, N en N Custom-modusse voorkom, is Rev Matching. Dit verhoog die motor se omwentelinge per minuut om gladde en sportiewe ratwisseling moontlik te maak.  Die motor se turbo-druk kan ook vir ‘n kort tydperk, hoogstens 18 sekondes, verhoog word; dit beteken dat wringkrag van 378 Nm vir daardie tydperk beskikbaar is.  Die Normal of Eco-modus is geskik vir alledaagse gebruik; die veerstelsel word sagter gestel en sy brandstrofverbruik is beter as in die ander modusse.

Hoewel Hyundai se hele handelaarsnetwerk die i30 N kan diens, sal hy net by 14 handelaars verkoop word, naamlik Bellville, Somerset-Wes, Port Elizabeth, Durban-Suid, Pinetown, Umhlanga, Richardsbaai, Oos-Rand, The Glen, Sandton, Roodepoort, Centurion, Wonderboom en Polokwane. Daar is ook een geoormerkte i30 N-handelaar elk in Botswana en Namibië.

Die Hyundai i30 N se prys is R 679 900; dit sluit ‘n waarborg van sewe jaar of 200 000 km, ‘n diensplan van vyf jaar of 75 000 km en padbystand van sewe jaar of 150 000 km in.

 

%d bloggers like this: