Breaking News

Hyundai Kona opgeknap

Sedert die Hyundai Kona in 2018 in Suid-Afrika bekendgestel is, is 1699 eenhede plaaslik van die hand gesit. Dit beteken dat die Kona uitblink in sy klas van kompakte sportnutsvoertuie.

Die tyd het egter aangebreek vir die bekendstelling van die nuwe, opgeknapte weergawe wat voorlopig in drie modelle beskikbaar sal wees, naamlik die 2,0 Executive, die 1,6 T-GDI Executive en die 1,6 T-GDI N-Line.

Die stilering van die nuwe Kona bevat ‘n aantal nuwe kenmerke, soos ‘n laer en breër sierrooster met die Hyundai-kenteken bo die rooster. Die gesplete kopligte van dje vorige model is steeds daar, met die dagryligte en rigtingwysers bo en die hoofkopligte onder. Die Executive-modelle word met grys stampers en wielboë toegerus, en die agtersamper is net in hierdie een kleur pleks van die twee kleure van sy voorganger. Die agterlig-samestelling is ook herontwerp.  Die N-Line spog met bykomende luguitlate bo die sierrooster terwyl die Hyndai-kenteken binne die sierrooster geplaas is. Die stampers en wieloboë is dieselfde kleur as die bakwerk. Die 2,0 Executive word met 17 duim-allooiwiele toegerus en die 1,6 T-GDI Executive en N-Line met 18 duim allooiwiele, maar met verskillende ontwerpe. Die twee 1,6 T-GDI-modelle is ook beskikbaar met ‘n swart dak saam met die gewone bakkleur.

Hoewel daar steeds twee enjinkeuses vir die nuwe Kona is, is een daarvan oorgedra terwyl ‘n splinternuwe enjin sy buiging maak. Die 2,0 Executive word aangedryf deur ‘n vier-silinder enjin met ‘n outomatiese ratkas wat 110 kW teen 6 200 opm en wringkrag van 179 Nm teen 4 500 opm lewer. Die turbo-aangejaagde een-liter enjin van die vorige model word vervang met ‘n 1,6 liter turbo-petrol enjin met regstreekse inspuiting, wat aan ‘n dubbelkoppelaaratkas met sewe gange. Hierdie enjin lewer 146 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 265 Nm teen tussen 1 600 en 4 500 opm. 

Die Executive-modelle word toegerus met onder meer outomatiese lugversorging, elektries verstelbare en verhitbare buitespieëls wat met die druk van ‘n knoppie ingevou kan word, ‘n trukamera, parkeersensors agter, stabiliteitsbeheer, ‘n agtduim  raakskerm met ses luidsprekers, Bluetooth, Android Auto en Apple Car Play, ‘n ritrekenaar, ‘n koordlose selfoonlaaier, wegtrekhulp, voorste- en -kantlugsakke, swart kunsleersitplekke, ‘n 4,2 duim TFT vloeikristal-instrumentepaneel en ‘n banddrukmonitor. Die N-Line voeg die volgende kenmerke by: ‘n aansitknoppie,  aanpasbare spoedbeheer, ‘n elektroniese parkeerrem, ‘n blindekolmonitor, baandwaal-waarskuwing en baanhouhulp, ligdiode-kop-en-dagryligte, swart leersitplekke met rooi afwerking,’n leerstuurwiel met rooi stikwerk, ‘n 10,25 TFT-instrumentepaneel, ‘n dwarsverkeer-monitor agter asook ‘n stelsel wat jou verhinder om die agterdeure oop te maak as daar verkeer aankom en ‘n waarskuwing wanneer die bestuurder nie aandag gee op die pad nie.

Altesaam  vier verskillende bestuursmodusse is vir die N-Line beskikbaar; die bestuurder kan kies tussen Normal, Eco en Sport, asook die Smart-modus wat op die bestuurder se insette reageer en die modus daarvolgens aanpas.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van 7 jaar of 200 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 75 000 km insluit, lyk só:

 

Kona 2,0 Executive: R 449 900
Kona 1,6 T-GDI Executive DCT: R 499 900
Kona 1,6 T-GDI N-Line: R 579 900

Die vlagskip van die reeks, die Kona N, sal vroeg in 2022 in Suid-Afrika bygevoeg word, maar Hyundai het geen planne om die hibriede- of elektriese modelle In Suid-Afrika bekend te stel nie.

%d bloggers like this: