Breaking News

Hyundai stel goedkoper Venue bekend

Hyundai het pas ‘n goedkoper weergawe van sy gewilde Venue in Suid-Afrika bekendgestel.

Sedert sy bekendstelling teen die einde van 2019 is altesaam 9500 eenhede teen ‘n gemiddeld van 400 per maand verkoop, en die maatskappy het die geleentheid raakgesien om die reeks ondertoe uit te brei met die toevoeging van ‘n nuwe intreemodel. 

Anders as sy duurder stalmaats word die nuwe Venue, wat as die 1,2 Motion bekendstaan, aangedryf deur ‘n 1,2 liter-viersilinderenjin sonder ‘n turboaanjaer wat aan ‘n vyfgang-handratkas gekoppel word. Hierdie enjin lewer 61 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 114 Nm teen 4 200 opm.

Die nuwe model lyk byna presies soos die 1,0 T Motion, en beskik oor staalwiele met volle wieldoppe. Daar is geen ander buitekenmerke wat hom van sy duurder stalmaats onderskei nie en die kleurereeks stem ooreen met dié van die res van die Venue-reeks.

Onder die veiligheidskenmerke wat standaard toerusting vir die 1,2 Motion is, sluit die volgende in: twee lugsakke, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke en ‘n ABS-remstelsel. Daar is ook ‘n turkamera en agterste parkeersensors. Die voertuig se deure sluit outomaties sodra daar weggetrek word en daar is syslagstawe in die deure.

Aan die binnekant is daar ‘n veelfunksiestuurwiel en ‘n klankstelsel met ‘n agtduim-raakskerm wat die bestuurder in staat stel om sy of haar selfoon deur Bluetooth, Android Auto of Apple Car Play te koppel. Die eienaar kan die navigasiestelsel  gebruik, musiek stroom of die klankstelsel met stemopdragte beheer. Elektriese vensters voor en agter en ‘n handbeheerde lugversorger is ook standaard toerusting. 

Die prys van die Venue 1,2 Motion, wat ‘n waarborg van altesaam sewe jaar of 200 000 km, padbystand van sewe jaar of 150 000 km  en ‘n diensplan van drie jaar of 45 000 km insluit, is R 259 900.

%d bloggers like this: