Breaking News

Hyundai wys sy futuristiese Staria

Hyundai het pas sy Staria-veeldoel voertuig deur middel van ‘n digitale première aan die wêreld se media bekendgestel.

Daar sal   twee weergawes beskikbaar wees, naamlik die Staria en die Staria Premium, en sal ‘n keuse van verskillende modelle met tussen twee en elf sitplekke bied. Dit sal die plaasvervanger van die gewilde H1-reeks wees, en die Suid-Afrikaanse bekendstelling word vir later vanjaar beplan. Dieselfde enjin wat die nuwe Santa Fe aandryf, sal  in Suid-Afrika vir die Staria-reeks beskikbaar wees. Hierdie 2,2 liter turbo-diesel enjin sal aan ‘n outomatiese ratkas met agt gange gekoppel word.

Met die Staria Premium sal  Hyundai vir die eerste keer in die segment vir luukse veeldoel voertuie  kan meeding, en hy  sal oor spesifieke kenmerke beskik wat hom meer van ‘n weeldevoertuig as die res van die reeks sal maak. Die Staria se voorkoms herinner aan dié van ‘n ruimteskip, en bestaan uit ‘n enkele strook van voor tot agter. Aan die voorkant is daar dagryigte war oor die hele breedte van die voorkant strek, en ‘n groot en breë sierrooster met ‘n unieke patroon met laag gemonteerde kopligte. Dieselfde bakkleur word vir die voorste panele gebruik om sy moderne voorkoms te beklemtoon. Die Premium beskik oor chroomafwerking vir die koplighulsels, die  voor- en agterstampers, die wiele, die buitespieëls en die deurhandvatsels , asook  unieke agterlig-samestellings wat hom ‘n  meer deftige voorkoms gee. Die laer middellyn en panoramiese kantvensters vergemaklik uitsig na alle kante toe en gee ‘n gevoel van ruimte aan die insittendes. Die agterstamper is laag, en vergemaklik die in- en uitlaai van groot goedere. 

Aan die binnekant word die futuristiese tema voortgesit, en dit  skep ‘n oop en unieke atmosfeer. Die paneelkissie vir die voorste passasier is vorentoe geskuif om meer ruimte te gee en daar is baie plek vir los goedere, onder meer in ‘n oorhoofse konsole, en aan die bo- en onderkant van die paneelbord. Die voorste insittendes het toegang tot ‘n middelkonsole met bekerhouers, USB-kragpunte en bykomende bêreplek vir los goedere. Daar is ‘n 10,25 duim raakskerm en ‘n digitale instrumentepaneel wat aan die bokant van die paneelbord sit om ‘n onversteurde uitsig vir die bestuurder te verseker. Die Premium sal beskikbaar wees met sewe of nege sitplekke. Die sewe-sitplek model se middelste ry sitplekke sal met elektroniese hulp teruggeleun kan word en vorentoe en agtertoe kan skuif.

Die insittendes in hierdie ry kan net ‘n knoppie druk, en die sitplekke sal outomaties teruglê om so ‘n gemaklike posisie moontlik te verseker. Die Staria se ruim binnekant maak egter dat die insittendes in die agterste ry steeds genoeg plek het wanneer die middelste sitplekke teruggeleun is. Die Premium met nege sitplekke word toegerus met middelste sitplekke wat omgedraai kan word om na dié in die agterste ry toe te kyk. Dit maak hom ‘n geskikte “mobiele kantoor”, aangesien insittendes in die agterste twee rye makliker met mekaar kan kommunikeer. Dit sal uiteraard ook die geval met gesinne wees. Die Premium sal toegerus word met atmosfeereligting wat die binneruim in een van 64 kleure sal verlig, asook ‘n Bose-klankstelsel  Die laairuimte kan ook vergroot word deur die sitplekke vorentoe te skuif of te verwyder. 

Die Staria beskik ook oor verskeie toonaangewende veiligheidskenmerke. Altesaam ses lugsakke is beskikbaar en elke sitplek word met ‘n driepunt-sitplekgordel toegerus. Voorbotswaarskuwing en ‘n blindekolmonitor sal ook beskikbaar wees. Daarby sal die Staria die eerste voertuig ter wêreld wees wat spog met ‘n koordlose sitplekgorde-waarskuwing. Wanneer ‘n passasier die skuifdeur wil oopmaak terwyl ‘n voertuig verby ry, is daar ‘n veiligheidstelsel wat hom of haar verhinder om dit te doen. Daar is ook ‘n radarsensor wat die bestuurder waarsku as daar iemand  agterbly nadat die voertuig gesluit is. Daarby is daar ‘n kamera wat die bestuurder en voorste passasier in staat stel om insittendes in die middelste en agterste ry asook troeteldiere dop te hou. Dit wat in hierdie twee rye gebeur, kan op die skerm gesien word. Die inligting-en-vermaakstelsel stel die bestuurder en voorste passasier ook in staat om met diegene in die agterste twee rye te kommunikeer.

Die samestelling van die reeks, asook pryse, sal bekendgemaak word wanneer die Staria in Suid-Afrika bekendgestel word.

%d bloggers like this: