Breaking News

Isuzu behou sekere ou D-Max-modelle

Wag ‘n bietjie, Isuzu-liefhebbers; die nuwe D-Max is nog nie beskikbaar nie.

In afwagting op die bekendstelling van die sewende geslag D-Max in April het Isuzu Motors Suid-Afrika aangekondig dat sekere modelle van die huidige D-Max-reeks op die mark sal bly, maar dat hulle as die D-Max Gen 6 sal bekendstaan.

Die maatskappy het besluit om sekere modelle wat goed in die segment vir werkeselbakkies gevaar het, te behou, en sommige modelle sal ook steeds met linkerhandstuur vir die uitvoermark vervaardig word. Altesaam vyf modelle sal vir die Suid-Afrikaanse mark vervaardig word, vier vir uitvoermarkte met regterhandstuur en drie vir uitvoermarkte met linkerhandstuur. Die sesde geslag is reeds in 2013 bekendgestel en is voortdurend verbeter om  by veranderende omstandighede aan te pas. Die Isuzu-bakkiereeks vier ook vanjaar hul vyftigste bestaansjaar; hulle is in 1972 as die Chevrolet LUV in Suid-Afrika bekendgestel en vanaf 1978 het hulle as die Isuzu KB bekendgestaan. Die D-Max-naam word al sedert 2020 gebruik.

Die twee 2,5 liter-diesel-enjins wat hulself al deur die jare bewys het, word vir die Gen 6-reeks gebruik. Die intreevlak-enjin, wat as die LEED bekendstaan, lewer 58 kW teen 3 900 opm en wringkrag van 176 Nm teen 1 800 opm. Hierdie enjin sal net met ‘n vyfgang-handratkas beskikbaar wees. Die kragtiger weergawe wat as die HO (High Output) bekendstaan, lewer 100 kW teen 3 400 opm en wringkrag van 320 teen 1 800 tot 2 800 opm. Die meeste modelle met hierdie enjin word met ‘n vyfgang-handratkas toegerus maar daar is een model met ‘n outomatiese ratkas met vyf gange.

Die spesifikasievlak en afwerking is presies dieselfde as die ooreenstemmende modelle van hierdie geslag wat tot nou toe in Suid-Afrika vervaardig is; hulle sal net van die vorige sesdegeslag D-Max-modelle onderskei word deur die Gen 6-kenteken op die agterklap. Die reeks vir die Suid-Afrikaanse mark bestaan uit die D-Max 250 LEED enkelkajuit, die D-Max 250 HO Fleetside-enkelkajuit, die D-Max 250 HO Fleetside Safety-enkelkajuit en die D-Max 250 HO Hi-Rider dubbelkajuit met die keuse van die hand-of outomatiese ratkas. Die modelle vir die uitvoermarkte met regterhandstuur is die D-Max 250 HO Fleetside Safety-enkelkajuit, die D-Max 250 HO 4×4-enkelkajuit met die standaard-afwerking, asook die D-Max 250 HO 4×4-dubbelkajuit met standard- of Mid-afwerking. Al die modelle wat met linkerhandstuur vervaardig word, is vierwielaangedrewe, naamlik die D-Max 250 HO 4×4-enkelkajuit en die D-Max 250 HO-dubbelkajuit met standard- of Mid-afwerking. 

Die pryse van die verskillende modelle vir die Suid-Afrikaanse mark lyk só:

 

D-Max 250 LEED enkelkajuit: R 328 400’

D-Max 250 HO Fleetside enkelkajuit: R 354 900

D-Max 250 HO Fleetside Safety enkelkajuit: R 380 500

D-Max 250 HO Hi-Rider dubbelkajuit: R 479 900

D-Max 250 HO Hi-Rider dubbelkajuit Outomaties: R 500 000

Hierdie pryse sluit ‘n waarborg van vyf jaar of 120 000 km, asook padbystand vir vyf jaar ongeag die voertuig se kilometerlesing en ‘n diensplan vir of 90 000 km, met dienstussenposes van 15 000 km, in. Die diensplan kan teen ekstra koste verleng word of na ‘n volle onderhoudsplan opgegradeer word. 

%d bloggers like this: