Breaking News

Isuzu stel mu-X nommer twee bekend

 

Wag ‘n bietjie, Isuzu-liefhebbers, die nuwe D-Max-bakkie is nog nie beskikbaar nie, maar …

 

Isuzu Motors Suid-Afrika (IMSA) het ‘n voorsmaak gegee van wat om van die nuwe Isuzu D-Max bakkiereeks, wat in die maatskappy se fabriek in die Nelson Mandelabaai-metrogebied vanaf 2022 vervaardig sal word, te verwag met die bekendstelling van die tweede geslag van die mu-X, die sportnutsvoertuig wat op die nuwe D-Max se onderstel gebou word.

Die nuwe mu-X spog met meer moderne stilering, ‘n groter kajuit en gevorderde bestuurshulpmiddels wat hom veiliger as sy voorganger maak. Dit het reeds beteken dat die nuwe mu-X volpunte in die Australian New Car Assessment Programme (ANCAP)-toetse behaal het.

Aan die voorkant is daar ‘n groot nuwe sierrooster met Bi-LED-kopligte en die profiel word gekenmerk deur ‘n karakterlyn wat van voor na agter loop. Daar is breër, meer aërodinamiese kanttrappies wat dit makliker maak om in en uit die voertuig  te klim, en die dakspore kan ‘n vrag van 100 kg dra. Daar is ‘n nuwe kenteken op die agterklap terwyl ligdiode-agterligte en rigtingwysers standaardtoerusting is. Die mu-X bied ‘n keuse van allooiwiele wat wissel van 17 tot 20 duim afhangende van die model. Altesaam agt kleure sal beskikbaar wees, naamlik twee skakerings van wit, asook swart, grys, silwer, rooi, blou en bruin.

Die binnekant is meer modern as voorheen en bied steeds sitplek vir sewe mense; twee in die voorste ry, drie in die middelste ry en twee agter. Die klavierswart en chroom afwerking en sagte leerbekleedsel skep ‘n gevoel van weelde terwyl die instrumentepaneel oor ‘n nuwe multi-inligtingskerm beskik. Daar is ook chroom-buiterande vir die spoedmeter en die toereteller wat baie aan dié van ‘n luukse horlosie herinner. Daar is ook ‘n kleiner stuurwiel wat met leer oorgetrek is en die middelkonsole, asook die skakelaars en handvatsels op die deure spog met chroom-afwerking.

Die binneafwerking van die deure, en die armleunings in die deure en die middelkonsole is só ontwerp dat dit so gerieflik moontlik vir al die insittendes in die voertuig is. Toegang tot die tweede en derde ry sitplekke is vergemaklik deur die B-pilaar vorentoe te skuif terwyl daar ‘n gryphandvatsel in die B-pilaar vir korter insittendes is. Die sitplekke in die tweede en derde ry is breër en gemakliker as voorheen. Die rugleunings van die derde ry sitplekke kan ook nou met nóg tien grade teruggeleun word en daar is sitplekgordelmonitors vir al die sitplekke asook ISOFIX-ankerpunte vir soveel as drie kinderstoeltjies afhangende van die model. Daar is dakgemonteerde luguitlate vir die klimaatbeheerstelsel vir al die modelle en die beheerknoppies vir hierdie stelsel is makliker om te gebruik. Daar is ook aparte kontroles vir passasiers in die derde ry. Die derde ry sitplekke kan, soos voorheen, in die bakwerk weggevou word indien dit nie gebruik word nie.

Die mu-X spog met ‘n nuwe inligting-en- vermaakstelsel met ‘n skerm van sewe of nege duim afhangende van die model.Bluetooth-, Apple Car Play- en Android Auto-verbinding is standaardtoerusting vir al die modelle, tesame met Wi Fi-toegang, drie USB-kragpunte, ‘n gesplete paneelkissie vir die voorste passasier, ‘n 12 volt-kragpunt in die bagasieruim en ‘n bykomende kragpunt vir toebehore. Daar is altesaam twaalf bekerhouers, onder meer twee houers vir die voorste passasiers wat bottels van tot 1,5 liter kan hou.

Die hele reeks word aangedryf deur ‘n nuwe weergawe van Isuzu se bekende drieliter-turbodieselenjin. Hierdie enjin lewer 140 kW teen 3 600 opm en het ‘n wringkrag van 450 Nm tussen 1 600 en 2 600 opm. Hierdie enjin word aan ‘n outomatiese ratkas met ses gange gekoppel en daar is ‘n keuse tussen tweewiel-aandrywing en vierwiel-aandrywing. Laasgenoemde met ‘n lae-strekratkas. Die mu-X se brandstoftenk hou 80 liter en die gemiddelde brandstofverbruik volgens die vervaardiger is 7,6 liter per 100 km. Die sleepkapasiteit van die nuwe mu-X is 3,5 ton.

Die feit  dat die nuwe mu-X volpunte in die ANCAP-evaluering behaal het, word weerspieël in die veiligheidskenmerke wat standaardtoerusting vir die hele reeks is. Dit sluit minstens sewe lugsakke in; onder meer ‘n toonaangewende middelste lugsak wat van die linkerkant van die bestuurdersitplek ontplooi word indien nodig. Daar is ook ‘n nuwe ontwerp vir die ruitveërs wat genoeg vloeistof op die regte plek verskaf sonder dat die bestuurder se sig belemmer word. Die hele reeks word met outomatiese Bi-LED-kopligte toegerus.

Daar is vier modelle met drie spesifikasielakke beskikbaar. Die intreemodel is die LS, wat as ‘n 4×2 en 4×4 beskikbaar is. Hierdie model se standaard kenmerke sluit die volgende in: sewe sitplekke met materiaalbekleedsel, allooiwiele met 255/65 R 17-bande,  handbeheerde lugversirging, stabiliteitsbeheer, wegtrek-en afdraandehulp, sleepswaaibeheer, ‘n sensor wat passasiers in die binneruim bespeur, ‘n trukamera, elektriese buitespieëls wat met die hand ingevou word, spoedbeheer, ‘n veelfunksiestuurwiel en ‘n seweduim-raakskerm.

Die LSE is die middelste model van die reeks en is net as ‘n 4×2 beskikbaar. Sy bykomende kenmerke sluit die volgende in: allooiwiele met 265/60 R 18-bande, ‘n banddrukmonitor, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, deure wat outomaties sluit as ‘n mens weg van die voetuig loop, buitespieëls wat verhit en elektries ingevou kan word, ‘n elektries beheerde en hoogteverstelbare agterklap, ‘n leeroorgetrekte ratkieser, leerbekleedsel vir die sitplekke, elektriese voorsitplekke met agt verstellings vir die bestuurder en vier vir die passasier, outomatiese klimaatbeheer, verdonkerde glas agter, ‘n negeduim-raakskerm met agt luidsprekers, ‘n blindekolmonitor en ‘n dwarsverkeermonitor agter.

Die vlagskip van die reeks is die Onyx 4×4 wat met die volgende bykomende kenmerke spog: allooiwiele met 265/60R 20-bande, aanpasbare spoedbeheer, baanhouhulp, baandwaalwaarskuwing, ‘n bykomende lugsak, ‘n voorste kamera, ‘n sensor wat bespeur as die bestuurder moeg is, outonome noodremhulp, ‘n waarskuwing as daar dalk ‘n botsing plaasvind as die bestuurder regs draai, en voorbotswaarskuwing. Daar is outomatiese hoëstraalwerking vir die kopligte.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar of 120 000 km en’n diensplan van vyf jaar of 90 000 km insluit, lyk só:

  • mu-X 3,0 Ddi LS 4×2: R 693 800
  • mu-X 3,0 Ddi LSE 4×2: R 763 300
  • mu-X 3,0 Ddi LS 4×4: R 771 600
  • mu-X 3,0 Ddi Onyx 4×4: R 860 500

Die mu-X sal in die eerste week van Desember by handelaars landwyd beskikbaar wees.

 

%d bloggers like this: