Breaking News

Jaguar knap sy F-Pace op

Jaguar Land Rover het pas die jongste weergawe van die F-Pace in Suid-Afrika bekendgestel.

Die nuwe model beskik oor skoner en meer selfversekerde stilering met ‘n groter sierrooster en die embleem van die springende kat wat vroeër jare op die enjinkap van Jaguar-modelle gepronk het, in die luguitlate agter die voorste modderskerms.  Die voorste stamper is ook herontwerp. Daarby spog die nuwe modelle met slanke ligdiode-kopligte met Double J-dagryligte.  Hierdie ligte kan met Pixel-tegnologie bestel word. Daarby is daar tegnologie beskikbaar  wat die pad vorentoe ontleed en die hoëstraalwerking aanpas om te keer dat aankomende verkeer verblind word deurdat verskillende ligdiode-segmente gekies kan word om optimale sig te verseker sonder dat aankomende motoriste verblind word. Premium-ligdiodetegnologie is standaardtoerusting vir die hele reeks terwyl outomatiese hoëstraalwerking standaardtoerusting vir die SE en HSE-spesifikasievlakke is.  Die slanke agterligte spog met dieselfde tegnologie wat sy debuut op die elektriese i-Pace gemaak het terwyl die agterstamper en agterklap herontwerp is.  Alle modelle is beskikbaar met die Black Exterior-pakket met sekere ontwerpelemente in glansswart. Die meeste modelle word met 19-duim allooiwiele toegerus, maar 21 duim-allooiwiele is standaardtoerusting vir modelle met die HSE-afwerking.  Altesaam twaalf ontwerpe, wat vier nuwes insluit, is beskikbaar. 

Die foukspunt van die nuwe modelle se binneruim is ‘n 11,4 duim-raakskerm wat in die middel van die voorpaneel gemonteer is en met die jongste Pivi Pro-tegnologie toegerus word. Die nuwe middelkonsole bied meer plek vir los goedere en ‘n koordlose selfoonlaaier is standaardtoerusting. Die ronde ratkieserknop van die vorige modelle word met ‘n nuwe ratkieser vervang; aan die bokant is stikwerk wat aan dié van ‘n krieketbal herinner en die onderkant word van metaal gemaak. Die nuwe deurpanele spog met herontwerpte deurhandvatsels, kontroles vir die elektriese vensters wat meer toegankklik is en meer plek vir bottels. Die nuwe sitplekke beskik oor breër kussings terwyl ‘n masseringsfunksie en ventilasie standaardtoerusting is. Die Pivi Pro-tegnologie van die inligting-en-vermaakstelsel maak dat die skerm heelwat helderder is en 48% groter as voorheen is. Die struktuur van die kieslys is vereenvoudig en omtrent 90 opdragte kan uitgevoer word deur net een of twee keer daarop te tik. Die stelsel beskik oor Android Auto en Apple Car Play terwyl twee slimfone tegelyk deur Bluetooth gekoppel kan word. Verder is daar ‘n 12,3 duim-interaktiewe uitleespaneel vir die bestuurder wat volgens die bestuurder se behoeftes verander kan word. Dit kan die kaart van die navigasiestelsel saam met aanwysings , digitale wyserplate, media of die besonderhede van die inligting-en-vermaakstelsel wys. Daar is ook ‘n uitleespaneel tussen die voorruit en die instrumentepaneel  beskikbaar wat belangrike inligting vir die bestuurder wys sonder dat sy of haar aandag afgetrek word. Daarby kan die motor se programmatuur deur die internet bygewerk word om te verseker dat die jongste programmatuur altyd gebruik word.

Die nuwe reeks is beskikbaar met die tweede geslag van Jaguar se Activity Key, wat soos ‘n polshorlosie gedra kan word. Dit kan gebruik word om die motor aan- of af te skakel , of oop  of toe te sluit sonder dat ‘n gewone sleutel nodig  is.  Dit bevat ‘n horlosie en ‘n battery wat net elke sewe dae gelaai hoef te word. Verder beskik die nuwe modelle oor bestuurshulpmiddels soos Clear Exit Monitor, wat voorste en agterste insittendes waarsku as daar ‘n motor of fietsryer naby is wanneer hulle uit die motor wil klim. Die jongste driedimensionele kameras reg rondom die motor gebruik die jongste tegnologie om die bestuuder te help om onder meer die motor te parkeer.  Dit ondersteun ook  die Jaguar 360 grade-parkeerhulpstelsel; dit gee die bestuurder oudiovisuele  terugvoer oor die afstand van hindernisse aan alle kante ; dit word uitgelig en as ‘n bedreiging  gemerk as dit in die motor se pad is. Aanpasbare spoedbeheer met stuurhulp maak die motor makliker om op die lang pad te bestuur deurdat dit die motor se versnelling en stuuraksie en remstelsel beheer om die motor in die middel van die baan op die oop pad te hou terwyl dit ‘n veilige volgafstand handhaaf.

Drie petrol- en twee dieselenjins is vir die nuwe F-Pace-reeks beskikbaar. Al hierdie enjins word aan ‘n outomatiese ratkas met agt gange gekoppel en vierwielaandrywing is standaardtoerusting vir al die modelle.  Die intreevlak-petrolenjin is die P 250, wat aangedryf word deur ‘n tweeliter Ingenium-enjin wat 184 kW en 365 Nm lewer. Daar is ook ‘n inprop-hibriedeweergawe van hierdie enjin wat vir die P 400e gebruik word. Hierdie enjin se gesamentlike kraglewering is 297 kW en 640 Nm, wat ‘n elektriese kragbron van 105 kW insluit. Die gevorderde elektriese kragbron word aangedryf deur ‘n litium-ioonbattery wat 17,1 kilowatt-uur lewer en help om ‘n brandstofverbruik van 2,2 liter per 100 km te behaal. Wanneer die elektriese kragbron ten volle gelaai word, is ‘n reikafstand van 53 kliometer met suiwer elektriese krag moontlik.  Drie bestuursmodusse is vir hierdie model beskikbaar, naamlik die elektriese modus, die hibriede-modus wat gewoonlik gebruik word en die Save-modus wat hoofsaaklik petrolkrag gebruik. Die ander petrolenjin is ‘n turboaangejaagde drieliterenjin met ses siliders wat vir die P 400 gebruik word. Hierdie enjin lewer 294 kW en 550 Nm se wringkrag.   Benewens die turboaanjaer beskik hierdie enjin ook oor ‘n drukaanjaer met ‘n kompressor wat deur ‘n 48 volt-motor aangedryf word en maak dat turbokrag onmiddellik beskikbaar is. Dit verbeter wringkrag teen laer toere, asook die reaksie van die versnellerpedaal. Daar is ook twee dieselenjins beskikbaar. Die D 200 word aangedryf deur ‘n tweeliter-turbodieselenjin wat 147 kW en 430 Nm lewer terwyl die D 300 se drieliterenjin met ses silinders 221 kW en 700 Nm lewer.  Die hele F-Pace-reeks beskik oor Jaguar Drive Control, wat bestaan uit  vier verskillende bestuursmodusse wat na gelang van padtoestande gekies kan word .

Al die modelle is met die Dynamic Black-voorkomspakket beskikbaar. Dit beskik oor swart afwerkingselemente soos buitespieëls, die sierrooster, die rand van die sierrooster, die rande van die kantvensters, die luguitlate aan die kant met die springende kat, asook kentekens. Dit word afgerond deur glansswart 20 duim Style 1067-wiele met rooi remknypers. Daar is ook swart dakspore pleks van die silwer dakspore wat standaardtoerusting op sekere modelle is, asook ‘n panoramiese sondak. Die Dynamic Black-pakket is vir alle bakkleure beskikbaar. Die binneruim is ook in swart afgewerk terwyl die atmosfeerbeligting ‘n keuse van dertig, pleks van tien, kleure bied.

Die pryse van die F-Pace-reeks, wat ‘n waarborg en volle onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km insluit, lyk só:

  • F-PACE D200 R1,122,500
  • F-PACE D300 R1,233,200
  • F-PACE P250 R1,214,500
  • F-PACE P400 R1,239,400
  • F-PACE P400e R1,610,100
  • F-PACE D200 R-Dynamic R1,190,500
  • F-PACE D300 R-Dynamic R1,301,000
  • F-PACE P250 R-Dynamic R1,282,400
  • F-PACE P400 R-Dynamic R1,307,300
  • F-PACE P400e R-Dynamic R1,672,700
  • F-PACE D200 R-Dynamic Black R1,176,600
  • F-PACE D300 R-Dynamic Black R1,287,100
  • F-PACE P250 R-Dynamic Black R1,268,500

 

%d bloggers like this: