Breaking News

JMC brei Carrying-reeks uit

JMC Suid-Afrika het pas sy Carrying-vragmotorreeks uitgebrei met die toevoeging van ‘n nuwe topmodel, die Carrying Plus.

Dié nuweling is langer en groter as die res van die Carrying-reeks, en is beskikbaar met ‘n valkantbak, ‘n paneel-wabak en ‘n wipbak. Die dubbele agteras maak dit moontlik om ‘n vrag van vier ton te dra, en hy is beskikbaar met een van twee asafstande, naamlik 2 800 mm of 3 360 mm, asook twee kajuitwydtes, naamlik 1 880 mm en 2 050 mm. Die voorstuur kajuit is ontwerp vir veiligheid en aërodinamika, en die breë voorruit sorg vir uitstekende sigbaarheid. Die kantvensters loop skuins ondertoe om sigbaarheid aan die kant en na agter te verbeter. Die kopligte is in die hoeke van die voorkant gemonteer met ‘n breë sierrooster tussenin.

Die Carrying Plus is oor ‘n afstand van altesaam twee miljoen kilometre getoets om te verseker dat alle moontlike omstandighede in aanmerking geneem wou word en dat so min tyd moontlik aan onderhoud bestee hoef te word. Met dit in gedagte het die ingenieurs by JMC nou saamgewerk met vooraanstaande leweransiers in die motorbedryf om die Carrying Plus se gehardheid en betroubaarheid te verseker.

Die kajuit is gerieflik vir die bestuurder en twee bykomende insittendes ingerig, en die Lux-model kry lugversorging en elektriese vensters as standaard toerusting. Kragstuur is standaard toerusting vir die hele reeks en die stuurkolom is hoogte verstelbaar. Daarby is ‘n radio, ‘n waarskuwings-alarm as die voertuig in trurat is, voorste misligte, twee sonskerms en oorgenoeg plek vir los goedere. Die Carrying Plus word aangedryf deur ‘n turbo-aangejaagde diesel enjin van 2,8 liter wat van Isuzu afkomstig is. Hierdie enjin lewer 84 kW en wringkrag van 210 Nm, terwyl sy brandstoftenk van 83 liter hou. Die swaardiens-remstelsel beskik oor ABS en ‘n uitlaatrem; daar is ook ‘n dubbele agteras en die 16-duim-wiele word toegerus met tienlaag 7:00R 16-swaardiensbande.

Die Carrying Plus het ‘n netto-massa van 2 480 kg en ‘n bruto-voertuigmassa van 6 500, wat ‘n loonvrag van 4 020 kg danksy die dubbele agteras. Wanneer die valkantbak op die langer asafstand gemonteer word, beteken dit dat die laairuim 4 155mm lank, 1 940 mm breed en 380 mm diep is. Die samewerking met internasionale leweransiers verseker dat die Carrying Plus veeleisende toestande sonder ‘n probleem kan hanteer en aangesien dit hoofsaaklik bekende name in die motorbedryf is, is onderdele geredelik en teen bekostig-bare pryse by al 25 JMC-diensentra wat landwyd geleë is, beskikbaar. Die pryse van die twee Carrying Plus-modelle, elk met ‘n valkantbak, is R 286 990 en R 294 990 vir die standaard model en die Lux onderskeidelik. Dit sluit ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000km en ‘n diensplan van drie jaar of 90 000km in.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: