Breaking News

Kia keer terug na sedan-marksegment met Pegas

Toe die huidige geslag Kia Rio in Suid-Afrika bekendgestel is, is die sedan aan die plaaslike mark onttrek.

Ondanks die afname in verkope van sedans het Kia besluit om weer ‘n sedan in die B-segement bekend te stel. Die Pegas sal tussen die Picanto en die Rio in die plaaslike Kia-reeks inpas.

Volgens die vervaardiger is die Pegas, wat 4,3 meter lank is, een van die ruimste motors in sy marksegement, en sy asafstand van 2,75 meter maak dat daar oorgenoeg plek vir minstens vier insittendes is. Die Pegas se bagasieruim word ook as een van die grootstes in sy klas beskou.

Daar is twee spesifikasievlakke beskikbaar, en die hele reeks word aangedryf deur ‘n 1,4 liter vier-silinder enjin wat 69 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 132 Nm teen 4 000 opm lewer. Voornemende kopers kan kies tussen ‘n vyfgang-handratkas of ‘n outomatiese ratkas met vier gange. 

Die intreemodel is die LX, wat toegerus word met ‘n seweduim-raakskerm met Bluetooth, Android Auto en Apple Car Play, ‘n trukamera met parkeersensors, elektriese vensters voor en agter, lugversorging, elektriese spieëls, ‘n veelfunksie-stuurwiel, outomatiese kopligte, ses luidsprekes, ‘n sentrale sluitstelsel met afstandbeheer, ‘n armleuning tussen die voorsitplekke  en 14-duim staalwiele.  Die LX is net met die handratkas beskikbaar. Die EX voeg die volgende kenmerke by: kunsleer-sitplekke, ‘n leerstuurwiel, voorste misligte, hoogte-verstelling vir die bestuurdersitplek, chroom-deurhandvatsels, 14-duim allooiwiele, spoedbeheer en rigting-wysers in die buitespieëls. Die EX is met die hand- of outomatiese ratkas beskikbaar.

Die hele reeks word toegerus met veiligheids-kenmerke soos ABS met elektroniese remkrag-verspreiding, skyfremme voor en agter, twee lugsakke en ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke.

Die Pegas is beskikbaar in vyf kleure, naamlik wit, silwer, blou, rooi en swart.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van vyf jaar ongeag die motor se kilometer-lesing en ‘n diensplan van vier jaar of 60 000 km insluit, lyk só:

LX handrat: R 225 995
EX handrat: R 236 995
EX outomaties: R 251 995

%d bloggers like this: