Breaking News

Kia se EV6 is Europa se Motor van die Jaar

Die Kia EV 6 is pas tot Europa se Motor van die Jaar verkies.

Kia se eerste elektriese motor het te staan gekom teen die nuwe Peugeot 308, asook ander elektriese motors soos die Ford Mustang Mach E, die Skoda Enyaq iV, die Renault Mégane E-Tech, die Cupra Born en die Hyundai IONIQ 5. Altesaam 61 jurielede van 23 Europese lande het die EV 6 as hul wenner aangewuys.

Die EV 6 was aanvanklik een van sestig motors wat gedurende 2021 bekendgestel is en vir die toekenning in aanmerking gekom het, en in November is die sewe finaliste, waarvan ses elektries was, aangewys. Die EV 6 is die eerste Kia wat hierdie toekenning wen.

Die EV 6 is gebou op die maatskappy se Electric Global-modulêre platform wat van die begin af as ‘n elektriese platform ontwikkel is. Dit beteken dat sommige kompromieë van motors wat van ‘n binnebrand-enjin na ‘n elektriese kragbron toe omgeskakel word, uitgeskakel is. Die EV 6 kan ‘n reikafstand van 528 km bereik en die battery kan binne 18 minute van 10% tot 80% van sy kapasiteit gelaai word. Daarby bied die EV 6, volgens die vervaardiger, toonaangewende binneruimte. Die EV 6 is ook die eerste model wat Kia se nuwe Opposites United-ontwerpfilosofie volg; dit word geïnspireer deur die kontraste wat in die natuur en die menslike wêreld gevind word. 

Die Europese Motor van die Jaar-toekenning is die jongste eer wat die EV 6 te beurt val, onder die ander toekennings wat hy tot dusver gewen het, is die Britse tydskrif What Car? se Motor-van-die-Jaar-toekenning, asook die Ierse Motor van die Jaar en die Oorkruisvoertuig van die jaar by die top Gear.com-toekennings vir 2021.

Die EV 6 sal na verwagtig teen die einde van 2022 in Suid-Afrika bekendgestel word.

%d bloggers like this: