Breaking News

BMW SA restoureer legendariese BMW 530 MLE

In 1976 het BMW ‘n plaaslik ontwikkelde model by sy gewilde 5-reeks gevoeg. Die 530, wat intern as die 530 MLE bekendgestaan het, het die enjin van die BMW 3,0 L met ‘n handratkas gebruik.

Die motor kon onderskei word deur middel van sy wit bakkleur tesame met ‘n voorste drukvin en ‘n agterste drukvlerk en strepe in BMW se motorsportkleure. Mahle-allooiwiele het hom verder van sy mindere stalmaats onderskei. Die uitstaande kenmerke aan die binnekant van dié model was sportsitplekke en ‘n sportstuurwiel. Die motor het groot sukses op Suid-Afrikaanse renbane behaal, veral met renjaer Eddie Keizan agter die stuur. Dit was ‘n beperkte model en die 530-modelle wat later vervaardig is, het luukse eerder as sportiewe afwerking gehad.

BMW Suid-Afrika het in 2018 besluit om ‘n projek aan te pak om een van die 530 MLE’s wat nog oor is, na sy oorspronklike toestand te restoureer. Hierdie proses het ‘n jaar gelede ‘n aanvang geneem en die eindproduk is pas aan die media vertoon.  Vier werknemers wat by die vervaardiging van die oorspronklike model betrokke was, het ook die motor se restourasie behartig.

Die maatskappy het jare lank na ‘n 530 MLE gesoek en een van die min wat die 1970’s oorleef het, in die hande gekry. Die honderdste een, wat die maatskappy wel opgespoor het, is deur die 530 MLE-spanbestuurder Peter Kaye-Eddie besit en sy enjin- en onderstelnommers het ooreengestem. Toe die motors destyds in Rosslyn vervaardig is, is verskeie maatreëls getref om massa te verminder; die elektriese vensters is met handbeheerde vensters vervang, die bakwerk en pedale is met die hand geboor, die lugversorger is weggelaat en liggewig Mahle-allooiwiele is gebruik.

Tydens die gerestoureerde motor se onthulling, het mnr. Tim Abbott, die uitvoerende hoof van die BMW-groep in Suid-Afrika en Afrika Suid van die Sahara, vertel hoedat die 530 MLE gewys het hoedat motorsport die ideale geleentheid gebied het om die publiek met die werkverrigting van die motors te beïndruk. Dit was ‘n voorbeeld van hoe prestasies op die renbaan oor ‘n naweek motors se verkope in die week beïnvloed; dit het ook die weg gebaan vir die vestiging van BMW as ‘n vervaardiger van sportiewe motors en ‘n ernstige mededinger in plaaslike motorsport. Die “M”, BMW se verrigtingsafdeling is, volgens hom, die kragtigste letter ter wêreld.

Toe BMW Suid-Afrika in die 1970’s aan motorsport wou begin deelneem, het die maatskappy die hulp van die renjaer en hoof van BMW se internasionale motorsportafdeling Jochen Neerpasch ingeroep. Kort daarna is twee 5-reeks-motors voorberei om in die afdeling vir gemodifiseerde sedanmotors deel te neem.

Die 530 MLE het in 1976 sy buiging gemaak; vyftien oorwinnings in dieselfde aantal wedrenne het gevolg en BMW het drie agtereenvolgende kampioenskappe gewen.  Toe die 530 MLE opgehou het om deel te neem, was dit die suksesvolste motorsportweergawe van die 5-reeks.

Om te kon kwalifiseer vir deelname, was die maatskappy verplig om ‘n honderd produksiemodelle van die 530 MLE te vervaardig. Die model is deur BMW Motorsport as ‘n beperkte model vir Suid-Afrika ontwikkel; 110 van die aanvanklike model is in 1976 vervaardig en 117 van die tweede model die volgende jaar. Die enjin was ‘n kragtiger weergawe van die een wat in die 3,0 L gebruik is; dit het 147 kW en 277 Nm opgewek en kon ‘n topsnelheid van 208 km/u bereik en in 9,3 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel.

Suid-Afrika was die eerste land ter wêreld buite Duitsland wat BMW’s begin vervaardig het, en verskeie spesiaal ontwikkelde modelle is tot 1990 in Rosslyn vervaardig. Dit het onder meer ook die 745i en die 333i ingesluit. Tydens die geleentheid het mnr. Johan Mouton, die tegniese en logistieke direkteur van die BMW-groep se aanleg in Rosslyn Noord van Pretoria, ook melding gemaak van die tweedegeslag 3-reeks meer as dertig jaar gelede in Suid-Afrika vervaardig is en dat twee modelle, die 325iS en die 333i in Suid-Afrika ontwikkel is.  Hoewel BMW ‘n toekomsgeoriënteerde vervaardiger is, sê Mouton, is dit belangrik om trots te wees op die verlede.

 

%d bloggers like this: