Breaking News

Klassieke padindrukke: Porsche 944 Outomaties

Enjinkapasiteit: 2 479 cm³

Maksimum kraglewering: 118 kW @ 5 900 opm

Maksimum wringkrag: 210 Nm @ 4500 opm

Gemiddelde brandstofverbruik: 8,0 liter per 100 km

Ons hou van: Tydlose ontwerp, redelike brandstofverbruik,opwindende werkverrigting, geskiktheid vir alledaagse gebruik

Ons hou nie van: Agtersitplekke net vir kinders

 

In 1981 het Porsche die 944 bekendgestel om die gaping tussen die 924 en die 911-reeks te vul. 

Die 944 is in 1982 in Suid-Afrika bekendgestel en ons het die geleentheid gehad om Cars in the Park by die Zwartkops-renbaan buite Pretoria met ‘n 1984-model met ‘n outomatiese ratkas by te woon. 

Die belangrikste verskille tussen die 924 en die 944 se stilering is dat die 944 met uitgeboude modderskerms toegeus is.Dit is aanvanklik gebruik vir die 924 GTP Le Mans, wat die basis van die 944 was. Daarby het die aanvanklike 944 dieselfde wiele as die 911 gehad. Dit is ‘n tydlose ontwerp wat nog steeds na meer as vier dekades aandag trek.

Die enjin van die aanvanklike 944, soos die model wat hier onder bespreking is, is blykbaar ontwikkel as die helfte van die 928 se enjin, maar in werklikheid is die onderdele nie afwisselbaar nie. Dit is ‘n viersilinderenjin van 2,5 liter wat in hierdie motor aan ‘n outomatiese ratkas met drie gange gekoppel is. Die vraag is natuurlik of dié ratkas ‘n demper op die 944 se werkverrigting sou plaas. Omdat ons nog nie met ‘n handratmodel kon ry om hulle met mekaar te vergelyk nie, is dit onmoontlik om te sê, maar tydens die swaar verkeer wat ons op die dag ondervind het, was dit ‘n groot voordeel.

Hoewel die 944 ‘n sportmotor is, is daar genoeg plek vir twee mense se bagasie, maar dit is feitlik onmoontlik vir enigiemand behalwe kinders om by die agtersitplekke in te kom. Wat die res van die binneruim betref, is alles waar ‘n mens dit sou verwag, maar die instrumentepaneel beskik oor twee interessante, en eintlik eienaardige kenmerke. Die brandstof- en temperatuurmeter en die waarskuliggies is in die linkerkantste wyserplaat en die spoedmeter in die middel. Die regterkantse wyserplaat bevat ‘n brandstofverbruikmeter, ‘n ongewone kenmerk vir ‘n sportmotor, en ‘n toereteller in die onderste helfte wat ondertoe pleks van boontoe loop. Dit is ‘n kenmerk wat ‘n mens darem gou gewoond raak.  Die toetsmotor is met leersitplekke toegerus, en in die redelike warm weer wat ons ondervind het, was dit nie noodwendig ‘n voordeel nie. Die motor beskik oor ‘n radio-en-kassetspeler, wat vir vandag se jongmense natuurlik ‘n aardigheid is.

Op die oop pad is die 944 nog net so opwindend soos toe hy nuut was, selfs al was dit een van die intreevlakmodelle in Porsche se destydse reeks. Die outomatiese ratkas skakel glad oor, tot so ‘n mate dat ‘n mens dit byna nie agterkom nie. Die 944 is effens hard geveer, maar dit is nie ‘n groot probleem nie, en buitendien verwag ‘n mens dit van ‘n sportmotor. Daarby is die 944 makliker om te hanteer as die groter 911-modelle omdat jy jou storie moet ken om laasgenoemde modelle op diee pad te hou. Volgens padtoetse wat destyds op die 944 uitgevoer is, is sy topsnelheid meer as 200 km/h, ongeag die ratkas. 

As ‘n mens alles in ag neem, is dit maklik om te verstaan hoekom die 944 die suksesvolste Porsche was totdat die Boxster bekendgestel is. Dit  is ‘n ware sportmotor met ‘n ontwerp wat die toets van die tyd baie goed deurstaan het. Daarby is hy uiters geskik om elke dag gebruik te word, veral met die outomatiese ratkas wat die lewe soveel makliker in die verkeer maak. Ongelukkig sal daar altyd mense weees wat op modelle soos die 944, maar ook die 924 en 928 neersien omdat hul enjins voor eerder as agter gemonteer is. Dit maak nie saak nie; die 944 verdien sy status as ‘n klassieke sportmotor. 

Hiermee wil ons ons opregte dank teenoor Johann Leiding , wat die toetsmotor  besit en tot ons beskikking gestel het, uitspreek.

%d bloggers like this: