Breaking News

Land Rover se groot Defender kom na Suid-Afrika

Die Land Rover Defender-reeks word binnekort uitgebrei met die toevoeging van die Defender 130, wat sitplek vir vyf of agt mense sal bied. 

Die 130 kry sy naam van die langste weergawe van die oorspronklike Defender, ‘n dubbelkajuitbakkie met ‘n asafstand van 130 duim. Hoewel die 130 altesaam 340 mm langer as die 110 is en daarom ruim genoeg is vir agt insittendes en 2 516 liter se bagasie kan hou, behou hy  die veldryvermoë waarvoor die Defender bekend is. Benewens die weergawe met agt sitplekke sal daar ook ‘n 130 met vyf sitplekke beskikbaar wees.

Die Defender sal in ‘n unieke reeks kleure beskikbaar weees; een daarvan is ‘n donker metaalrooi wat as Sedona Red sal bekendstaan. Daarby sal ‘n Extended Bright Pack-stileringspakket beskikbaaar wees. Dit bestaan uit silwer satynafwerking vir die onderste stroke op die bakwerk en chroomafwerking vir die skermplate voor en agter.  Toegang tot die bagasieruim is net so maklik soos vir die res van die reeks, en ‘n harde oortreksel in dieselfde kleur as die bakwerk is vir die noodwiel beskikbaar. Swart dakspore is standaardtoerusting en al die toebehorepakkeette, soos Adventure, Explorer, Country en Urban, kan vir die 130 bestel word. Hoewel die 130 onmiskenbaar deel van die Defender-familie is, is die agterste oorhange langer om meer ruimte vir die agterste insittendes en vir bagasie moontlik te maak. Die 130 sal met 20-duim Luna-allooiwiele toegerus word; dit is beskikbaar met ‘n blink silwer afwerking. 

Die binneruim spog ook met ‘n paar unieke kenmerke. Daar is twee sitplekke voor, drie in die middelste ry en drie agter, en anders as in vorige Defender-modelle kyk al die sitplekke vorentoe. Die Pivi Pro-inligting-en-vermaakstelsel beskik oor ‘n skerm van 11,4 duim en is ontwikkel om so gebruikersvriendelik moontlik te wees, en slegs twee stappe is nodig om toegang tot elke funksie van die stelsel te kry. Die stelsel se programmatuur word die heeltyd deur middel van die internet op datum gehou. Die stelsel kan die bestuurder se voorkeure en gewoontes aanleer en daarvolgens aanpas. Die  navigasiestelsel  beskik vir die eerste keer oor die liggingsplatform bekend as What3Words; dit kan die bestuurder na enige plek ter wêreld neem, en met net drie woorde kan die ideale plek vir veldry of ‘n parkeerplek gevind word.  What3Words is ‘n Britse tegnologiemaatskappy wat die aardbol in 57 triljoen blokkies van drie meter by drie meter verdeeel het ; elkeeen met ‘n unieke adres met drie woorde wat maklik is om te onthou. Die What3Words-adresse kan  op die navigasiestelsel van die Pivi Pro-stelsel of die motor se toepassing wat aan die internet verbind word, ingetik word.  Die 130 word toegerus met ‘n panoramiese sondak, asook ‘n bykomende sondak bokant die derde ry sitplekke. Selfs insittendes in die derde ry sitplekke kry toegang tot kenmerke soos USB-kragpunte, bêreplek vir los goedere en sitplekverhitting. Die sitplekke in die tweede en derde rye is hoër as die voorstes gemonteer om uitsig na buite vir passasiers te verbeter. Daarby sal ‘n viersone-klimaatbeheerstelsel teen ekstra koste beskikbaar wees.  Die elektroniese lugveringstelsel kan met die druk van ‘n knoppie laat sak word om in- of uitlaai van groot items in die bagasieruim te vergemaklik.

Slegs twee enjins sal in Suid-Afrika vir die 130 beskikbaar wees, naamlik ‘n drieliter-turbopetrol- of dieselenjin met ses silinders elk. Die P 400 se petrolenjin met ligte hibriede-tegnologie lewer 294 kW teen tussen 5 500 en 6 500 opm en wringkrag van 550 Nm teen tussen 2 000 en 5 000 opm. Die D 300 word aangedryf deur ‘n drieliter-turbodieselenjin wat 221 kW teen 4 000 opm en wringkrag van 650 Nm teen tussen 1 500 en 2 500 opm lewer. Albei enjins word gekoppel aan ‘n outomatiese ratkas met agt gange en natuurlik is Land Rover se Intelligent All Wheel Drive-aandrywingstelsel standaardtoerusting. Dit bevat die bekende Terrain Response, wat veldryvermoë verbeter en die bestuurder se selfvertroue in moeilike veldtoestande verhoog. Die bestuurder kan verskillende verstellings aan die Terrain Response-stelsel deur die Pivi Pro-inligting-en-vermaakstelsel maak.  Die 130 se sleepkapasiteit is 3 000 kg en die lugveringstelsel kan met die druk van ‘n knoppie in die agterklap laat sak word om dit makliker te maak om ‘n woonwa of sleepwa te haak. 

Die 130 sal beskikbaar wees met X-Dynamic, HSE- en X-spesifikasievlakke. Pryse sal met die plaaslikee bekendstelling later in 2022 aangekondig word.

%d bloggers like this: