Breaking News

Land Rover Defender 90 nou in Suid-Afrika beskikbaar

Na die suksesvolle bekendstelling van die nuwe Land Rover Defender 110 in die middel van 2020 het Jaguar Land Rover aangekondig dat die nuwe Defender 90 ook nou hier beskikbaar is.

Volgens die maatskappy kan die Defender 90, met ‘n geskiedenis wat terug na 1948 dateer, as die mees gevorderde en bekwame Land Rover tot nog toe beskou word. Die Defender 90 sal beskikbaar wees met vier spesifikasievlakke, naamlik die S, die X-Dynamic, die X en die beperkte First Edition en daar sal vier enjins wees om van te kies.

Die intreemodel is die Defender S, met standaard kenmerke soos ligdiode-kopligte, sleutellose toegang, ‘n kombinasie van leer en geweefde tekstiel-bekleedsel vir die sitplekke, ‘n Pivi Pro-inligting-en-vermaakstelsel met Apple Car Play en Android Auto, 3D-kameras reg rondom, 360 grade parkeerhulp, en ‘n monitor wat die bestuurder se toestand bespeur.

Die X-Dynamic spog met ‘n meer geharde buitevoorkoms, en beskik oor swart afwerking vir die modderskerms, asook silikoon-satynskermplate en Robustec-materiaal vir die sitplekke en die konsole afwerking. Dit is ‘n beskermende materiaal wat geïnspireer is deur tekstiel wat vir uiterste buitemuurse aktiwiteite gebruik word en word binne die kajuit gebruik vir oppervlaktes wat aan gereelde gebruik blootgestel word. Hierdie afwerking is vir die SE en HSE-afwerkings , soos dié van die Defender 110, beskikbaar.

Aan die bokant van die reeks is die Defender X, met kenmerke soos swart afwerking vir die enjinkap, oranje remknypers, donkergrys poeierverf vir die gryphandvatsel aan die passasierskant van die kajuit, ‘n meer gevorderde Terrain Response-stelsel, lugvering, ‘n panoramiese oopskuifdak, verhitbare en verkoelbare  voorsitplekke met veertien verstellings, asook ‘n uitleespaneel tussen die instrumentepaneel en die voorruit. 

Die First Edition, wat net ‘n kort rukkie lank beskikbaar sal wees, is in groen, silwer of beige beskikbaar wees, en  met ‘n voubare materiaalsondak toegerus word. Onder sy ander kenmerke is lugvering, voorste sitplekke met twaalf verstellings, asook 20 duim allooiwiele.

Vier enjins , twee petrol- en twee diesel enjins, sal beskikbaar wees. Die P 300 word aangedryf deur ‘n tweeliter-turbo-petrol enjin wat 221 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 400 Nm teen tussen 1 500 en 4 000 opm lewer, en die tweeliter-turbo-diesel enjin van die D 200 lewer 177 kW teen 4 000 opm en wringkrag van 430 Nm teen 1 400 opm. Daar is ook twee drie-liter enjins beskikbaar. Die P 400 se turbo-petrol enjin beskik oor ligte hibriede-tegnologie en lewer 294 kW teen tussen 5 500 en 6 500 opm asook wringkrag teen tussen 2 000 en 5 000 opm. Die D 300 se turbo-diesel enjin lewer 221 kW teen 4 000 opm en wringkrag van 650 Nm teen tussen 1 500 en 2 500 opm. Al hierdie enjins word gekoppel aan ‘n outomatiese ratkas met agt gange.

Altesaam vier opsiepakkette is vir die Defender 90 beskikbaar. Die Adventure Pack beskik oor ‘n draagbare afspoelstelsel vir onder meer stewels, fietse en oorpakke, ‘n agterste skermplaat met blink afwerking, modderklappe voor en agter, ‘n oortreksel vir die noodwiel, ‘n geïntegreerde lugkompressor waarmee bote, matrasse of bande opgeblaas kan word asook ‘n plek aan die kant waar toerusting gebêre kan word.Die Country Pack beskik oor modderklappe voor en agter, ‘n paneel tussen die kajuit en die bagasieruim wat maak dat bagasie nie in die kajuit kan kom nie, die draagbare afspoelstelsel en ‘n blink skermplaat agter. Die Explorer-pakket bestaan uit  ‘n snorkel, ‘n buitenste kompartement waarin toerusting gebêre kan word en beskerming vir die wielboë. Die Urban-pakket bestaan uit blink metaalpedale, ‘n noodwiel-oortreksel en ‘n skermplaat onder aan die voertuig.

Die Defender 90 word met die Pivi Pro-inligting-en-vermaakstelsel toegerus, en programmatuur kan deur die internet op datum gehou word, ongeag waar in die wêreld ‘n mens mag wees. Die Terrain Response-stelsel stel die bestuurder ook in staat om die voertuig in te stel na aanleiding van die tipe oppervlakte wat aangedurf word, en wanneer die Terrain Response 2-stelsel gekies word, kan dit só ingestel word dat die voertuig deur water met ‘n diepte van tot 900 mm kan ry.

Die pryse van die verskillende Defender 90-modelle, wat ‘n waarborg en onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km insluit, lyk só:

Defender 90  D240 S R1,095,600

Defender 90 D300 S                    R1,186,800

Defender 90 P300 S  R1,095,600

Defender 90 P400 S R1,214,200

Defender 90  D240 X-Dynamic SE R1,215,500

Defender 90 D300 X-Dynamic SE      R1,297,000

Defender 90 P300 X-Dynamic SE    R1,215,500

Defender 90 P400 X-Dynamic SE      R1,338,600

Defender 90  D240 X-Dynamic HSE R1,284,400

Defender 90 D300 X-Dynamic HSE      R1,365,900

Defender 90 P300 X-Dynamic HSE    R1,284,400

Defender 90 P400 X-Dynamic HSE      R1,407,500

Defender 90 D240 First Edition      R1,223,800

Defender 90 P400 First Edition      R1,341,700

Defender 90 D300 X                    R1,542,100

Defender 90 P400 X                    R1,575,000

 

%d bloggers like this: