Breaking News

Peugeot Landtrek-bakkie nou in Suid-Afrika beskikbaar!

  • Peugeot se eerste bakkie in meer as vier dekades is hier

Hoewel baie mense nie daarvan bewus is nie, het Peugeot ‘n geskiedenis van bakkies wat oor dekades strek, en veral die 403 en 404-modelle was uiters gewild in Suid-Afrika.

Die 404 het hom  baie goed in die mark gevestig en was die eerste eentonbakkie wat met ‘n dieselenjin beskikbaar was. Die 404-bakkie is in 1979 aan die plaaslike mark onttrek, en die 504-bakkie wat hom opgevolg het, is nie in Suid-Afrika bekendgestel nie.

Nou is Peugeot gereed om opnuut tot die Suid-Afrikaanse bakkiemark toe te tree. Die Landtrek sal, anders as wat sommige mense dink, nie die eerste Peugeot met ‘n dubbelkajuit wees nie, aangesien ‘n 504 met ‘n dubbelkajuit in China en Argentinië vervaardig is. Die Landtrek sit die Chinese verbintenis voort, aangesien dit op ‘n Changan-onderstel onder toesig van Peugeot in China vervaardig word. Suid-Afrika word as ‘n belangrike mark vir die Landtrek besou, en altesaam vyftien handelaars is die afgelope agttien maande geopen.

Die Landtrek is die vierde nuwe Peugeot wat vanjaar hier bekendgestel word; een van die ander nuwelinge was die 2008, wat  vanjaar “Suid-Afrika se Motor van die Jaar”-kompetisie gewen het.

Die Landtrek sal net met ‘n dubbelkajuit in Suid-Afrika beskikbaar wees, en die keuse van ‘n 4×2 of ‘n 4×4 bied. Albei modelle word aangedryf deur ‘n 1,9 liter turbo-dieselenjin  wat aan ‘n outomatiese ratkas met ses gange gekoppel word. Hierdie enjin lewer 110 kW teen 4 000 opm en het ‘n wringkrag van 350 Nm tussen 1 800 en 2 800 opm.

Die 4×4 beskik verder oor ‘n Borg Warner-oordraratkas wat sy veldryvermoë verbeter.

Die Landtrek het ‘n sleepkapasiteit van drie ton.

Peugeot het met met die beste internasionale verskaffers van onder meer Europa, die Verenigde State van Amerika en Japan saamgewerk om die Landtrek te ontwerp en toetse van meer as twee miljoen kilometer onder alle omstandighede is uitgevoer, veral op paaie in Afrika, waar Peugeot deur die jare ‘n baie goeie reputasie opgebou het. Die Landtrek is ontwikkel om in die behoeftes van kopers in Afrika en die Midde-Ooste te voorsien. Die buiteontwerp weerspieël Peugeot se huidige ontwerprigting, en bevat die groot Peugeot-kenteken op die sierrooster met vertikale ligdiode-kopligte.

 

Die binneruim stem weer eens ooreen met dié van Peugeot se moderne passasiersmotors en spog met ‘n tien duim hoë definisie raakskerm en dieselfde skakelaars wat in ander Peugeot-modelle aangetref word en waarmee verskeie funksies beheer word. Die agtersitplek word in ‘n 60/40-verhouding verdeel en nie net kan die rugleunings platgevou word nie; die kussings kan ook teen die rugleunings gevou word om verskillende laai-opsies binne die kajuit moontlik te maak. Die hele reeks word toegerus met Android Auto en Apple Car Play en ‘n 10 GB-hardeskyf, waarop onder andere musiek gelaai kan word.

Veiligheidskenmerke wat standaardtoerusting vir die hele reeks is, is ses lugsakke, elektroniese stabiliteitsbeheer, wegtrekhulp, sleepaswaai-beheer, afdraande-hulp, ‘n tru-kamera en ligdiode-kop- en agterligte.

Die 4×2 en 4×4-modelle spog met verskillende spesifikasievlakke. Die 4×2-model staan as die Allure bekend, en word toegerus met handbeheerde lugversorging, voorste sitplekke wat met die hand verstel word, ‘n swart en wit instrumentepaneel van 3,5 duim, materiaalbekleedsel vir die sitplekke, ‘n verkoelbare paneelkissie, drie USB-kragpunte , ‘n elektrochromatiese truspieël binne en ‘n veelfunksiestuurwiel. Die 4×4-model staan as die 4Action bekend en voeg benewens die oordraratkas  en meganiese ewenaarslot  die volgende kenmerke by: sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, ses luidsprekers pleks van vier, ‘n  4,2 duim digitale instrumentepaneel, satellietnavigasie, leersitplekke en ‘n leerstuurwiel. Verder bied die 4Action veiligheidskenmerke soos baanhouhulp, ‘n banddrukmonitor, ‘n 360 grade kamera met ‘n veldrykamera in die passasier se buitespieël en  baandwaalwaarskuwing.

Die Landtrek word gerugsteun deur ‘n waarborg en diensplan wat elk vir vyf jaar of 100 000 km geldig is. Onder die naverkoopdiens-voordele vir eienaars is ‘n hoflikheidsmotor wanneer die voertuig gediens of herstel word, ‘n onderdelemandjie, ‘n kennisgewing as die voertuig se lisiensie hernieu  moet word, en as die waarborg gaan verval, asook die My Peugeot-toepassing.

Die pryse van die verskillende modelle is R 579 900 vir die Allure 4×2 en R 669 900 vir die 4Action.

%d bloggers like this: