Breaking News

Landy kry kragtige V8

 

In 1979 het die “klassieke Land Rover, wat toe nog as die 109 bekendgestaan het, ‘n krag-inspuiting gekry toe die bekende 3,5 liter Rover V8-enjin vir die eerste keer onder sy enjinkap gemonteer is. 

Hierdie enjin was vir jare lank deel van die reeks, totdat produksie daarvan in  1994 gestaak is. Toe die nuwe Land Rover Defender in 2020 bekendgestel is, was ‘n V8-enjin nog nie beskikbaar nie, maar ‘n nuwe V8, met ‘n druk-aanjaer as standaard toerusting, is pas oorsee bekendgestel en sal later vanjaar ook in Suid-Afrika op die mark kom.

Die nuwe enjin, wat vir die 90- en die 110-modelle beskikbaar sal wees, word aan ‘n outomatiese ratkas meet agt gange gekoppel, en lewer 386 kW tussen 6 000 en 6 500 opm en ‘n wringkrag van 625 Nm tussen 2 500 en 5 500 opm. Volgens die vervaardiger kan die Defender 90 V8 van 0 tot 100 km binne 5,2 sekondes en hierdie V8-bewapende voertuig kan ‘n topsnelheid van 240 km/h behaal.

Die gemiddelde brandstof-verbruik van die Defender 90 V8 is 14,5 liter per 100 km. Soos wat ‘n mens van die Defender kan verwag, is die V8 ‘n uitsonderlike veldryer, maar dié nuweling beskik oor ‘n meer gevorderde dinamiese program binne die Terrain Response-stelsel wat bestuurders in staat stel om die dinamiese hanteringseienskappe van die nuwe model op teer en op los oppervlaktes ten volle te benut. Die nuwe V8 sal die vinnigste en kragtigste Defender tot dusver wees.

Aan die buitekant is daar ‘n aantal stilerings-kenmerke wat die V8 van sy stalmaats onderskei, onder meer spesifieke modelkentens, vier uitlaatpype, en unieke 22 duim-allooiwiele met ‘n donkergrys satyn-afwerking, terwyl remskywe van twintig duim met blou remknypers standaardtoerusting is. Die uitlaatstelsel sorg vir ‘n doelgerigte enjin klank, wat verder versterk kan word deur die dinamiese program op die Terrain Response-stelsel te kies. Voornemende kopers kan een van drie kleure kies, naamlik swart, wit en grys, en in laasgenoemde twee gevalle word dit met ‘n swart dak gekombineer. 

Die binneruim van die Defender V8 spog met Ebony Windsor-leerbekleedsel vir die sitplekke, asook satynswart afwerking vir die gryphandvatsel aan die passasierskant.  Die stuurwiel het ‘n Alcantara-oortreksel en beskik oor ratspane in satyn-chroom wat uitsluitlik vir die V8 gebruik word. Die lugsakke word ook met leer oorgetrek en daar is verligte skermplate aan die binnekant van die deure met die V8-kenteken. 

Nog ‘n nuweling is die Defender Carpathian Edition, wat ook met die V8-enjin toegerus word, maar oor ‘n aantal unieke kenmerke beskik. Hierdie model is net in Carpathian-grys beskikbaar, saam met ‘n swart enjin kap, dak en agterklap, en unieke kentekens, asook satyn swart sleephake. Die hele buitekant word daarby ook met beskermings-film van satyn uitgevoer. Dit beskerm die bakwerk teen onder meer krapmerke in ‘n parkeer-terrein en dorings in die veld.

Die XS Edition, wat ook as ‘n 90 en ‘n 110 beskikbaar sal wees,  is ‘n verdere nuwe model wat by die reeks gevoeg word; hy vervang die suksesvolle First Edition en neem sy plek bokant die SE-modelle in.  Die XS Edition word onderskei deur middel van unieke onderste beskermingstroke, en satyn-grys allooiwiele van twintig duim. Vier kleure is beskikbaar, naamoik twee skakerings van silwer, swart en Gondwana Stone. Aan die binnekant is daar elektriese sitplekke met twaalf verstellings, asook verligte skermplate.  Verdere standaardkenmerke sluit lugvering, ‘’n verstelbare Terrain Response-stelsel, ligdiode-kop- en dagryligte, asook die Pivi Pro-inligting-en-vermaakstelsel met tien luidsprekers. Daar is ‘n keuse tussen die P 300 en die D 240-enjins.

Die Pivi Pro-stelsel is self verbeter vir die nuwe modeljaar; dit is nou beskikbaar met die vermoë om ‘n selfoon koordloos te laai, en word met ‘n Wi Fi-seinversterker toegerus.  Daar is ook nou vir die eerste keer ‘n skerm van 11,4 duim teen ekstra koste beskikbaar.  Daarby maak ‘n eenvoudige kieslys-struktuur dat  toegang tot die funksies wat die meeste gebruik word, regstreeks van die tuisskerm af verkry kan word om te keer dat die bestuurder se aandag afgetrek word. Dit kan ook volgens die bestuurder se behoeftes aangepas word. Die navigasiestelsel wat deel daarvan uitmaak, bly die heeltyd op datum omdat dit deur middel van die internet bygewerk word.  Die stelsel identifiseer roetes wat gereeld gebruik word, en die vinnigste roete na hierdie bestemmings word uitgewerk na aanleiding van die jongste beskikbare verkeersinligting. Indien ‘n vinniger roete gevind word, sal die stelsel dit as ‘n alternatief voorstel. 

Die pryse van die V8- en XS Edition-modelle sal bekendgemaak word wanneer hulle in Suid-Afrika bekendgestel word.

%d bloggers like this: