Breaking News

Njammies, mammie! Lexus se nuwe 2 Miljoen Rand RC F is hier!

Die jongste weergawe van die Lexus RC F-koepee is pas in Suid-Afrika bekendgestel.

 

Die reeks sal voortaan uit twee modelle bestaan, naamlik die RC F en die wedren-gerigte RC F Track Edition. Albei modelle word toegerus met ‘n V8-enjin van vyf liter. Alhoewel sonder ‘n turbo-aanjaer bied hierdie enjin ‘n kraglewering van 351 kW teen 7 100 opm en ‘n wringkrag van 530 Nm tussen 4 800 en 5 600 opm. Albei modelle kan ‘n topsnelheid van 270 km/u behaal, terwyl die ligter Track Edition binne 4,3 sekondes van 0 tot 100 km/u kan versnel.

Die Lexus RC F Track Edition. Geprys teen R 2 098 200.

Die Track Edition bied ‘n aantal unieke kenmerke wat hom van die gewone model onderskei; die agterste drukvlerk is daarop gemik om hantering en beheer oor die motor te verbeter en vir beter aërodinamika te sorg. Aan die voorkant is daar ‘n onderste sierrooster wat keer dat die neus lig.  Daarby beskik die Track Edition oor ‘n swart dak van koolvesel wat die motor se swaartepunt verlaag. Dit word gebruik in die plek van die sondak wat standaardtoerusting vir die aqnder model is. Die binneruim van die Track Edition bevat Alcantara-bekleedsel vir die sitplekke, asook koolvesel-panele.

Albei modelle word met die beste moontlike veiligheidskenmerke toegerus. Die voorbotswaarskuwing verminder die erns van ‘n onafwendbare bosting en bespeur hindernisse soos voetgangers voor die motor. Wanneer daar so ‘n hindernis bespeur word, word die remstelsel outomaties geaktiveer. Daar is ook ‘n waarskuwing wanneer daar hindernisse agter die motor voorkom.  Die blindekolmonitor, bandwaalwaarskuwing en baanhouhulp verseker die bestuurder se veiligheid op die oop pad en voorkom moontlike botsings.  Die motor se hoëstraalkopligte skakel outomaties oor na laestraal wanneer ‘n voertuig van voor af aankom. Die aktiewe spoedbeheer werk deur middel van ‘n kamera en ‘n radarsensor en handhaaf ‘n veilige volgafstand tussen  die Lexus RC F en die motor voor hom.  Die Lexus RC F beskik ook oor ‘n lanseerbeheerstelsel wat die bestuurder in staat stel om die enjintoere so hoog moontlik te hou en die vinngste moontlike versnelling te verseker.

Aan die binnekant van die Lexus RC F is daar ‘n groot toereteller in die middel van die instrumentepaneel; binne-in kan inligting soos die huidige ratposisie, die motor se bestuursmodus, digitale spoedmeter en afstandmeter gesien word. Die motor se telefoon, navigasie en ander funksies kan deur middel van stemopdragte beheer word, en die Mark Levinson-klanksetelsel beskik oor altesaam 17 luidsprekers. Daar is ‘n groot wyserhorlosie in die middel van die paneelbord vir albei modelle.

Die pryse van die twee modelle, wat ‘n waarborg en onderhoudsplan van sewe jaar of 105 000 km insluit, is R 1 318 300 en R 2 098 200 vir die RC F  en die RC F Track Edition onderskeidelik.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: